1 2 3c

Totale besoekerstal

Artikels vertoon Trefslae
9586213

Besoekers aanlyn

Ons het 100 gaste en geen lede aanlyn

 

  Videos en Toesprake

St Helena projek 200

Teken aan

Afrikaner

GOD SE TEENWOORDIGHEID IN ONS LEWENS

BybelGén. 39:20-23:“en die heer van Josef het hom laat vang en hom in die gevangenis gesit op die plek waar die gevangenes van die koning opgesluit was; en hy was daar in die gevangenis. Maar die Here was met Josef, en Hy het goedertierenheid aan hom bewys en hom guns verleen in die oë van die owerste van die gevangenis. En die owerste van die gevangenis het almal wat in die gevangenis opgesluit was, aan Josef toevertrou; en alles wat daar te doen was, het hý gedoen. Die owerste van die gevangenis het glad nie na iets omgekyk wat aan hom toevertrou was nie, omdat die Here met hom was; en wat hy doen, het die Here voorspoedig laat wees.” (:20-23).
Geliefdes, het Josef nie ’n wipplank-lewe gehad nie? Die een oomblik is hy sy vader se witbroodjie en het ’n gerieflike lewe in ’n gegoede familie. Die volgende oomblik is hy as slaaf verkoop. En nie ligjare hierna is hy sommer tot owerste van die Farao se paleis verhef en kort-voor-lank word hy weer as gevangene in die tronk gestop. ’n Mens sou seker kon begryp as Josef op ’n stadium wou handdoek ingooi en wonder wanneer sy teëspoed tot ’n einde sou kom. ’n Mens sou seker ook kon verwag dat hy nie alleen moedeloos word nie, maar dalk ook ’n opstandigheid sou ontwikkel aangesien sy teëspoed in die geval van sy broers en eweneens in die geval van die vrou van Farao nie as gevolg van sy verkeerde optrede of besluite was nie. Nee, dit was eerder die gevolg van ander mense se sondige en verkeerde optrede dat hy telkens in hierdie slegte omstandighede beland het. En tog lees ons nie van ’n moedeloosheid of opstandigheid wat Josef oorval nie.
 
Tewens, ek kry uit die inligting van die gebeure wat wel vir ons bekend is die idee dat hierdie man maar hierdie lot
en swaarkry van hom in nederigheid en stilte sonder klagte gedra het. Dit laat my dink aan die kosbare woorde uit Klaagl. 3:24-32. “Die Here is my deel, sê my siel, daarom sal ek op Hom hoop. Tet. Goed is die Here vir die wat op Hom hoop, vir die siel wat Hom soek. Dit is goed om in stilheid te hoop op die hulp van die Here. Dit is goed vir 'n man dat hy die juk in sy jeug dra. Jod. Laat hom eensaam sit en swyg, as Hy hom dit opgelê het. Laat hy sy mond in die stof steek — miskien is daar hoop! Laat hy die wang gee vir die wat hom slaan, laat hy genoeg kry van smaad. Kaf. Want die Here sal nie vir ewig verstoot nie. Maar as Hy bedroef het, ontferm Hy Hom na die grootheid van sy goedertierenhede;”.
Dit is ook vir my opvallend in verse 20-23 van Gén. 39 dat ons twee maal lees dat die Here met Josef was. Sy teenwoordigheid in Josef se lewe was nie alleen in tye van voorspoed nie. Net so naby as wat Hy aan Josef was in die paleis van Farao om hom te sterk teen die versoeking van die vrou van Farao – net so naby was Hy aan Josef in die gevangenis. En hierin word nie alleen die getrouheid van God openbaar nie, maar ook Sy Goddelike liefde – opregte liefde. Hy is nie soos ’n mens wat getrou sal wees aan hulle vriende wat voorspoedig is en presteer omdat hulle graag hiermee geassosieër wil word nie, maar ook aan daardie kinders en vriende van Hom wat in groot benoudheid en ellende verkeer. Hy is naby aan hulle om hulle ook in hierdie omstandighede te help en te red. Luister hoedat koning Dawid ook in Ps. 27:10 van hierdie getrouheid van God getuig, geliefdes. “Want my vader en my moeder het my verlaat, maar die HERE sal my aanneem.” En natuurlik ook in die baie bekende Psalm 23 bely Dawid sy onwrikbare vertroue op God wat ook in die moeilike omstandighede bestendig en seker sal wees.
 
“Al gaan ek ook in ’n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie; want U is met my: u stok en u staf dié
vertroos my.” Geliefdes, wanneer ons dink aan die lewe van Josef en so ook aan die lewens van Dawid en Daniël, sien ons manne wie se optrede gerig was deur dit wat reg-en-verkeerd in die oë van God is eerder as om in hul besluitneming net te probeer bereik wat vir hulself die minste teëspoed sou inhou. Maar hierdie toewyding en
gehoorsaamheid aan God het ook getuig van hierdie manne se liefde vir God en hul getrouheid aan Hom. Dit was vir hierdie manne belangriker om in ’n goeie verhouding met Hom te staan en sodoende ná aan Hom te leef as om ’n lewe van voorspoed sonder Hom te geniet. Dawid het dan ook diensooreenkomstig in Ps. 84:11&12 getuig. “Want 'n dag in u voorhowe is beter as duisend; ek wil liewer by die drumpel staan in die huis van my God as om te woon in die tente van goddeloosheid.”
 
Ek dink in teenstelling met hierdie manne aan iemand soos koning Saul wat probeer het om sy eie mag, eer en posisie te beskerm en in die proses homself ver van God verwyder het. Alhoewel hierdie man nog koning was en in die paleis as koning in aansien en weelde geleef het, was dit nie met die salige teenwoordigheid van God in sy lewe nie. “MAAR die Gees van die Here het van Saul gewyk, en 'n bose gees, deur die Here gestuur, het hom verskrik.” (1 Sam. 16:14). En dan kyk ek na ons samelewing vandag en ’n mens sien dat ons samelewing mank gaan aan hierdie
gesonde ingesteldheid van mense wat daarop ingestel is om hul verhouding met God te koester en na Sy teenwoordigheid in hul lewens te streef.
 
’n Mens sien hoedat mense beplan rondom hul eie voorspoed en geluk – ongeag of dit ten koste van ander of ten koste van hul verhouding met Hom is. Mense wat mekaar verniel en benadeel, omdat die begeerte na geld en aardse skatte groter is as ‘n gesonde verhouding met Hom. Iets kosbaar soos ’n huwelik en die belofte daarmee saam word maklik agter die rug gewerp wanneer die Satan ’n illusie van ’n “beter lewe” voor mense se oë kom hou. En so sal mense week-in-en-week-uit planne maak van die een naweek vol vermaak na die ander en ’n dag van rus en ootmoed voor God, ’n Sabbatdag, verdwyn in die niet omdat plesier en genot swaarder as ’n gesonde verhouding met God weeg. Hierdie dag wat God ingestel het sodat ons ’n dag volkome aan Hom sal wy om ons verhouding met Hom te koester en sodoende Hom met getrouheid te volg en aan te hang, word deur vandag se mens geminag om
geen ander rede as dat sy verhouding met God gewoon so laag op die lys van prioriteite is. “En die kinders van Israel moet die sabbat onderhou deur die sabbat te vier in hulle geslagte as 'n ewige verbond. Tussen My en die kinders van Israel is dit vir ewig 'n teken; want in ses dae het die Here die hemel en die aarde gemaak, maar
op die sewende dag het Hy gerus en Hom verkwik.” (Ex. 31:16&17).
 
Mag ek en u ook vandag weer besin oor ons verhouding met Hom en die besluite in ons lewens wat hierdie verhouding met Hom beïnvloed, geliefdes. Daar is dalk ’n paar dinge in ons lewe waaroor ons moet besluit wat vir ons ongerief of verlies kan meebring, maar as dit tot versterking van ons verhouding met Hom is, is dit nodig.
Laasgenoemde is eindelik iets met ewigheidswaarde terwyl enige swaarkry, lyding of teëspoed net soos enige voorspoed en genot hier op aarde alles maar net tydelik is. En mag ons verhouding met Hom eindelik ook vir ons die absolute prioriteit in ons lewens wees dat ons in waarheid ook die getuienis saam met Paulus kan aflê soos in Fil. 1:21 opgeteken. “Want vir my is die lewe Christus en die sterwe wins.”.
Amen.

 s1

 d1

 sw1

 v1

Haat Spraak  

 

Volkstem Vorige Uitgawes Advertensie