Hos. 6:1-11
“Want Ek het ‘n behae in liefde en nie in offerande nie, en in kennis van God meer as in brandoffers.” (:6).
In Paulus se brief aan die Korinthiërs spreek hy hulle oor ’n saak aan wat vandag ook ’n
algemene gesig onder mense is. Hy spreek hulle aan oor hul gebrek aan kennis van God. “Wees nugter op die regte manier, en sondig nie; want sommige het geen kennis van God nie. Ek sê dit tot julle beskaming.” (1 Kor. 15:34). En hoe hartseer is dit nie dat hierdie ook vandag met reg van die samelewing en van ons volk in die breë gesê kan word nie – selfs van diegene wat veronderstel is om as herders en leraars vir mense ’n kennis van God te leer. Laasgenoemde is immers ’n leraar se verantwoordelikheid eerder as om saam met lidmate na verskonings te help soek of hulle te troos dat hulle onder “die liefde van Jesus” in ’n lewe van sonde kan volhard.
“Want die lippe van 'n priester moet kennis bewaar, en uit sy mond word onderrig gesoek, want hy is 'n boodskapper van die Here van die leërskare.” (Mal. 2:7).
Ons hoor dikwels ook van mense wat die kerk en predikante vir hul gebrekkige kennis van God blameer. Ironies genoeg is daar soveel van hierdie mense wat geen beter van kennis van God opgedoen het nadat hulle hulself van die kerk (en predikant) gedistansieër het nie. Waar is die probleem dan werklik? Is dit nie maar omdat die persoonlike verantwoordelikheid om in ’n lewende verhouding met God te staan, ontbreek nie? Daar is geen verhindering vir my en vir u om die Woord van God op te neem en na Hom te soek en Hom hierdeur in waarheid te leer ken nie. Inteendeel, God beloof aan ons dat Hy Homself aan ons sal openbaar wanneer ons in opregtheid na Hom soek. “En julle sal My soek en vind as julle na My vra met julle hele hart.” (Jer. 29:13). Dit is egter duidelik uit Jeremia 29 sowel as uit Deut. 4:29 dat hierdie belofte bedoel is vir diegene wat hulself nie met ’n ligsinnige en oppervlakkige godsdiens besig hou nie, maar wat in waarheid, met opregtheid en erns na Hom vra. “Dan sal julle daarvandaan die Here jou God soek en vind as jy Hom met jou hele hart en jou hele siel soek.” (Deut. 4:29).
Geliefdes, ons ongeërgdheid oor ons gebrekkige kennis van God behoort geen geringe saak te wees nie. Ons kan nie in ’n gesonde verhouding met Hom leef sonder ’n ware kennis van Hom nie. Ons lees in Job 21 dat dit vir die goddelose geen prioriteit is om God te ken nie. “Tog het hulle tot God gesê: Bly ver van ons af; en: In die kennis van u weë het ons geen behae nie.” (Job 21:14). Dit is nie vir die goddelose belangrik om God en Sy wil te ken nie. As dit vir ons nie ’n prioriteit is om God te ken nie – wat maak ons anders as die goddelose? Is ons anders bloot omdat ons na onsself as Christene verwys of dit so noem – klink vir my al te veel asof dit genoeg is om as ’n Christen te “identifiseer” ongeag die getuienis van ons optrede en die werklikheid. Die Woord van God is daaroor duidelik dat dit nie genoeg is om met Hom te identifiseer nie. Hy verwag dat ons in ’n lewende verhouding met Hom sal staan – ’n verhouding gegrond op liefde, kennis van en gehoorsaamheid aan Hom. “Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is.” (Matt. 7:21). Hoe sal ons Hom gehoorsaam as ons nie Sy wil ken nie? En hoe sal ons Sy wil ken as ons Hóm nie ken nie? Was die grootste onreg in die geskiedenis van die mensdom nie gepleeg as gevolg van ’n gebrek aan kennis van God nie? Diegene wat Christus aan ’n vloekhout laat vasnael het, het met baie groot ywer opgetree, maar met baie min kennis van God. Die getuienis hiervan is in Romeine 10:2&3 duidelik. “Want ek getuig van hulle dat hulle ’n ywer vir God het, maar sonder kennis. Want omdat hulle die geregtigheid van God nie ken nie en hulle eie geregtigheid probeer oprig, het hulle hul aan die geregtigheid van God nie onderwerp nie.” En Christus self het dit ook onomwonde aan hierdie Fariseërs gestel. “...Jesus antwoord: Julle ken My nie en ook nie my Vader nie; as julle My geken het, sou julle ook my Vader geken het.” (Joh. 8:19). “Jesus antwoord: As Ek Myself verheerlik, is my heerlikheid niks nie. Dit is my Vader wat My verheerlik, van wie julle sê dat Hy julle God is. En julle ken Hom nie, maar Ek ken Hom; en as Ek sê dat Ek Hom nie ken nie, sal Ek soos julle ’n leuenaar wees. Maar Ek ken Hom en bewaar sy woord.” (Joh. 8:54&55).
Geliefdes, dit behoort vir ons duidelik te wees hoe krities belangrik ’n ware kennis van God is om in ’n gesonde verhouding met Hom te staan. As ons verhouding met Hom dus vir ons belangrik is, sal dit vir ons belangrik wees om ’n ware kennis van Hom op te doen, te behou en te vermeerder. Dit behoort vir ons belangrik genoeg te wees om te besin oor die wyse waarop ons ons tyd aanwend en genoegsame tyd aan Hom te wy om ons kennis van Hom in stand te hou en te vermeerder. Ons moenie die fout maak om te dink dat ons een maal deur die Woord van God kan werk en dan al die nodige kennis van Hom opgedoen het nie. Ewe min kan ons vir ’n uur in ’n week in die kerk gaan sit en verwag dat ons daardeur ’n genoegsame kennis van God sal opdoen. Nee, geliefdes – ons moet Hom ’n prioriteit maak. Hy moet ’n groot genoeg prioriteit wees dat ons vir Hom elke dag genoegsame tyd in ons lewens sal inruim om met erns Sy Woord te bestudeer, in gebed met Hom te praat en Sy Woord in ons harte te koester en gedurig te bedink. Sodoende sal ons kennis van Hom nie alleen in stand gehou word nie, maar ook vermeerder. En namate ons kennis van Hom vermeerder in ’n hart wat gevul is met liefde vir Hom sal ons verhouding met Hom verdiep en verstewig. Indien ons verhouding met Hom nie ’n prioriteit in ons lewe gemaak word nie moet ons glad nie verbaas wees as ons geestelik sterf en daar eindelik geen verhouding tussen ons en Hom bestaan nie. “En by wie in die dorings gesaai is — dit is hy wat die woord hoor, maar die sorg van hierdie wêreld en die verleiding van die rykdom verstik die woord, en hy word onvrugbaar.” (Matt. 13:22).
Geliefdes, mag ons die wyse keuse uitoefen en ons daarop toespits om na ’n ware kennis van Hom te soek en Hom ’n prioriteit in ons lewens maak sodat ons in ’n gesonde verhouding op waardige wyse met Hom sal wandel.
“Daarom hou ons ook nie op nie, van die dag af dat ons dit gehoor het, om vir julle te bid en te vra dat julle vervul mag word met die kennis van sy wil in alle wysheid en geestelike insig,sodat julle waardiglik voor die Here mag wandel om Hom in alles te behaag en julle in elke goeie werk vrug mag dra en in die kennis van God mag groei,”(Kol. 1:9&10).
Amen.