1 2 3c

Totale besoekerstal

Artikels vertoon Trefslae
9957254

Besoekers aanlyn

Ons het 162 gaste en geen lede aanlyn

 

  Videos en Toesprake

St Helena projek 200

Teken aan

Afrikaner

SOUT VAN DIE AARDE

BybelMatt. 5:13-48: “JULLE is die sout van die aarde, maar as die sout laf geword het, waarmee sal dit gesout word? Dit deug nêrens meer voor as om buite gegooi en deur die mense vertrap te word nie. Julle is die lig van die wêreld. ’n Stad wat bo-op ’n berg lê, kan nie weggesteek word nie; en ’n mens steek ook nie ’n lamp op en sit dit onder die maatemmer nie, maar op die staander, en dit skyn vir almal wat in die huis is. Laat julle lig só skyn voor die mense, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemele is, verheerlik.” (:13-16).

Daar is seker nie ’n beskaafde mens wat nie weet wat sout is nie. ’n Mens maak van kindsbeen af kennis met hierdie kosbare bestanddeel. ’n Kommoditeit wat dalk vryelik beskikbaar is, maar waarsonder ons nie sal kan klaarkom nie – die waarde daarvan heeltemal onderskat. Hierdie kosbare bestanddeel wat ons gebruik om te preserveer en geur aan die geregte te gee wat ons voorsit. Hierdie kosbare bestanddeel wat onse Here Jesus Christus gebruik om ’n vergelyking te tref met Sy kinders. Hierin stel Hy dit tog duidelik wat Sy verwagting teenoor ons as Sy kinders is. Hy verwag van ons om die wêreld, die samelewing rondom ons, te verbeter. En ons behoort dit te doen uit ’n opregte liefde vir Hom, in die navolging van Sy voorbeeld en nie om in onsself te kan roem oor die verbeteringe wat ons tot stand sou bring nie.

Die HERE stel dit duidelik dat ons verantwoordelikheid as Sy gelowige kinders veel meer as ’n godstigheid van tradisie en voorgee behels. Dit behels ’n lewe van toewyding aan Hom en opoffering volgens die voorbeeld wat ons van Hom ontvang het. Laasgenoemde is ’n geloofslewe wat ’n verskil in die wêreld maak soos wat sout ’n verskil in die smaak van kos maak. En dit staan in kontras met ’n lewelose godsdienstigheid waarteen Christus Homself meermale uitgespreek het. “Want Ek sê vir julle dat, as julle geregtigheid nie oorvloediger is as dié van die skrifgeleerdes en Fariseërs nie, julle nooit in die koninkryk van die hemele sal ingaan nie.” (Matt. 5:20). En die bestraffing in Matt. 23:27 is ewe duidelik. “Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle is net soos gewitte grafte wat van buite wel fraai lyk, maar van binne vol doodsbene en allerhande onreinheid is.”

Geliefdes, laat ons vir ’n oomblik dink wat Christus hier op aarde gedoen het behalwe vir die offer wat Hy op Gólgota gebring het. Hy was gedurig besig om siekes gesond te maak, duiwels uit te dryf en mense se siele te verkwik met gesonde lering wat hul nader aan God sou bring. Hy was m.a.w. gedurig besig om die vernietigingswerk van sonde en satan te herstel en te verhoed. Die skade wat satan in mense se lewens en God se Skepping kom aanrig het, het Hy kom herstel in nederige ootmoed teenoor Hom en met ’n opregte liefde vir Hom. En ons as Sy kinders moet hierdie voorbeeld navolg. “WEES dan navolgers van God soos geliefde kinders; en wandel in liefde, soos Christus ons ook liefgehad het en Hom vir ons oorgegee het as ’n gawe en offer aan God tot ’n lieflike geur.” (Efés. 5:1-2).

Wanneer ons in teenstelling met Christus na die lewe van die Fariseërs kyk, sien ons mense wat in hoogmoed hulleself verhewe bo ander beskou het. Hulle het hulself as sondeloos beskou en in hoogmoed op ander neergesien. “En die Fariseër het gaan staan en by homself so gebid: o God, ek dank U dat ek nie soos die ander mense is nie — rowers, onregverdiges, egbrekers, of ook soos hierdie tollenaar nie. Ek vas twee keer in die week, ek gee tiendes van alles wat ek verkry.” (Luk. 11&12). En hierdie hoogmoedige selftevredenheid van die Fariseërs het tot gevolg gehad dat hulle nie aan God se koninkryk diensbaar was nie. Hulle het dit enersyds nie nodig geag om in hulself te verbeter nie aangesien hulle hulself in hul hoogmoed as bykans volmaak beskou het. En andersyds het hulle ander mense met afsydigheid behandel omdat hulle hulself as verhewe tot hierdie sondaars beskou het. Sodoende kon die ongeregtigheid in hierdie mense se lewens seëvier, want daar was geen stryd van hulle kant daarteen nie. Daar was geen strewe na geregtigheid – ’n lewe van opregte diensbaarheid aan God nie.

Ons leer duidelik uit die lewe van die Fariseërs dat daar ’n verskil tussen ’n lewe van godsdienstigheid en ’n lewe van geregtigheid is. En God stel dit aan ons duidelik dat Hy van ons ’n lewe van geregtigheid eerder as blote godsdienstigheid verwag. “Baie sal in daardie dag vir My sê: Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam duiwels uitgedrywe en in u Naam baie kragte gedoen nie? En dan sal Ek aan hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk!” (Matt. 7:22&23). ’n Lewe van geregtigheid verg veel meer as die nakoming van ’n paar tradisies en gewoontes van godsdienstigheid. Dit behels veel meer as om net nou-en-dan Bybel te lees en te bid. Dit behels veel meer as om net eenmaal per week ‘n erediens by te woon. ’n Lewe van geregtigheid vereis van ons opregte liefde, opoffering, nederigheid, onselfsugtigheid. “EN Hy sê vir almal: As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis elke dag opneem en My volg.” (Luk. 9:23).

Geliefdes, ek wonder vandag tot watter mate ons volk met waarheid as sout van die aarde bestempel kan word. Wanneer ons kyk na die verhoudings in families, die strewes in mense se lewens, die dinge waaraan mense hulle tyd en geld bestee, die gesprekke wat mense voer, het ons rede tot groot kommer. Daar is veel meer in eienskappe van verdorwenheid te bespeur waarvan ons in 2 Tim. 3:2-5 lees as wat daar eienskappe van geregtigheid sigbaar is. “Want die mense sal liefhebbers van hulleself wees, geldgieriges, grootpraters, trotsaards, lasteraars, ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar, onheilig, sonder natuurlike liefde, onversoenlik, waadsprekers, bandeloos, wreed, sonder liefde vir die goeie, verraaiers, roekeloos, verwaand, meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God; mense wat ’n gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën het.”

Die genade is dat daar wel nog onder ons volk ’n klein oorblyfsel is wat ’n lewe van geregtigheid najaag – mense wat soos sout van die aarde is. En hierdie klein groepie mense moenie deur moedeloosheid oorweldig word nie, maar in die weë van geregtigheid volhard en gedurig daaraan dink dat dit maar ’n baie klein knippie sout is wat die verskil in ’n groot maaltyd maak.

Laat die vermaning uit God se Woord ons vandag opnuut aanspoor om te antwoord op die opdrag van onse Here Jesus Christus om as sout van hierdie aarde te dien. En mag ons met volharding in Sy voetspore van geregtigheid probeer volg en met liefde aan Hom diensbaar wees. “Want hiertoe is julle geroep, omdat Christus ook vir julle gely het en julle ’n nuwe voorbeeld nagelaat het, sodat julle sy voetstappe kan navolg; Hy wat geen sonde gedoen het nie, en in wie se mond geen bedrog gevind is nie; wat toe Hy uitgeskel is, nie terug uitgeskel het nie; toe Hy gely het, nie gedreig het nie, maar dit oorgegee het aan Hom wat regverdig oordeel; wat self ons sondes in sy liggaam op die kruishout gedra het, sodat ons die sondes kan afsterwe en vir die geregtigheid lewe; deur wie se wonde julle genees is.” (1 Pet. 2:21-24).

Amen.

 s1

 d1

 sw1

 v1

Haat Spraak  

 

Volkstem Vorige Uitgawes Advertensie