2 Kron. 25:1-28:“En hy het gedoen wat reg was in die oë van die HERE, maar nie met ’n volkome hart nie.” (:2).
Die Woord van God onderrig ons met lesse uit die lewe van koning Amásia uit hierdie gedeelte. Hierdie seun van Joas het op ’n jong ouderdom die koningskap ontvang. Alhoewel hy gedoen het wat reg was in die oë van die HERE, was sy hart nie volkome met God nie. Ons sien dit ook uit sy optrede. Wanneer hy gereedmaak vir oorlog blyk sy benadering nie te wees om God met sy hele hart vir die oorwinning in die oorlog te vertrou nie. Hy probeer sy eie planne maak en daarom gaan huur hy hondderdduisend dapper helde om hom in die oorlog te help. Hy steun op hierdie manne saam met sy eie leër se krygsvernuf en krag vir die oorwinning. “en hy het hulle gemonster van twintig jaar oud en daarbo, en bevind dat hulle driehonderdduisend uitgesoektes was wat op kommando moes uittrek, wat spies en skild hanteer.
Ook het hy uit Israel honderdduisend dapper helde vir honderd talente silwer gehuur.” (:5&6). Die man van God kom dan na hom en herinner die koning daaraan dat oorwinning in die hand van God lê. “Toe kom daar ’n man van God na hom en sê: o Koning, laat die kommando van Israel nie saam met u gaan nie, want die HERE is nie met Israel, met al die kinders van Efraim nie. Maar gaan u alleen, tree moedig op in die geveg; God sal u laat val voor die vyand; want by God is krag om te help of te laat val.” (:7&8).
Amásia luister dan ook na hierdie waarskuwing van die man van God. En ons kan Amásia selfs bewonder dat hy hierin reg handel selfs al kom dit daarop neer dat hy nou vir geen rede hierdie groot uitgawe sou aangegaan het. En wat meer is, is dat hy in hierdie gehoorsame optrede volhard selfs al is hierdie troepe uit Efraim vir hom daaroor woedend. “Maar Amásia sê aan die man van God: En wat moet met die honderd talente gemaak word wat ek aan die troepe van Israel gegee het? En die man van God antwoord: Die HERE kan u baie meer gee as dit. Toe het Amásia hulle afgesonder, naamlik die troepe wat uit Efraim na hom gekom het, om na hulle woonplek te trek; maar hulle het baie kwaad geword vir Juda en teruggegaan na hulle woonplek in gloeiende toorn.” (:9&10).
Die tragiese hiervan is egter dat - nadat God aan Amásia sonder die hulp van die dapper manne uit Efraim die oorwinning skenk en daardeur bewys dat die krag om te help of te laat val inderdaad in Sy Hand is – gee Amásia nie aan Hom die eer vir die oorwinning nie. Omdat Amásia se hart nie volkome met God was nie tree hy hierin heeltemal verkeerd op. “En nadat Amásia tuisgekom het van die verslaan van die Edomiete, het hy die gode van die kinders van Seïr gebring en hulle vir hom as gode opgestel en hom voor hulle neergebuig en vir hulle offerrook laat opgaan. Toe ontvlam die toorn van die HERE teen Amásia, en Hy stuur ’n profeet na hom, en dié het vir hom gesê: Waarom soek u die gode van die volk wat hulle eie volk nie uit u hand gered het nie?” (:15). En anders as die vorige keer waar Amásia op die man van God se waarskuwing ag gegee het, wys hy die profeet af. “En terwyl hy met hom spreek, sê hy vir hom: Het ons jou as raadgewer van die koning aangestel? Hou op, waarom sal hulle jou doodmaak? Toe hou die profeet op en sê: Ek merk dat God besluit het om u te vernietig, omdat u dit gedoen het en nie na my raad geluister het nie.” (:16).
Die gevaar daarvan om God nie met ’n volkome hart te dien nie behoort vir ons uit die lewe van Amásia baie duidelik te wees, geliefdes. En dan verstaan ons waarom God hierdie saak so sterk benadruk. Christus het hierdie belangrike saak ook tydens Sy lewe hier benede onderstreep. “Meester, wat is die groot gebod in die wet? En Jesus antwoord hom: Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. Dit is die eerste en groot gebod.” (Matt. 22:36-38).
God het ook deur Josua die belangrikheid hiervan aan Sy volk te kenne gegee. “Maar Josua het vir die volk gesê: Julle kan die Here nie dien nie, want Hy is 'n heilige God, Hy is 'n jaloerse God; Hy sal julle oortreding en julle sondes nie vergewe nie. As julle die Here verlaat en vreemde gode dien, sal Hy julle weer kwaad aandoen en julle vernietig, nadat Hy aan julle goed gedoen het. Toe sê die volk vir Josua: Nee, maar ons sal die Here dien. Daarop sê Josua aan die volk: Julle is getuies teen julleself dat julle vir julleself die Here gekies het om Hom te dien. En hulle sê: Ons is getuies.
Verwyder dan nou die vreemde gode wat onder julle is, en neig julle hart tot die Here, die God van Israel.” (Jos. 24:19-23). Luister ook na die waarkskuwing aan die gemeente van Laodicéa in Openbaring 3:15&16. “Ek ken jou werke, dat jy nie koud is en ook nie warm nie. Was jy tog maar koud of warm! Maar nou, omdat jy lou is en nie koud of warm nie, sal Ek jou uit my mond spuug.” En in die dae van Agab het God ’n groot droogte en groot ellende oor Israel gebring omdat die koning en die volk God nie met ’n volkome hart gedien het nie. “En Elía het nader gekom na die hele volk en gesê: Hoe lank hink julle op twee gedagtes? As die HERE God is, volg Hom na; en as Baäl dit is, volg hom na!
Maar die volk het hom niks geantwoord nie.” (1 Kon. 18:21). Ek hou vir u laastens ’n paar gebeure uit die lewens van Dawid en Salomo voor wat ook vir ons die belangrikheid daarvan om God met ’n volkome hart te dien duidelik uitlig. Ja, die belangrikheid daarvan word vir ons weereens deur God in 1 Konings 9:4&5 onderstreep. “En wat jou betref, as jy wandel voor my aangesig soos jou vader Dawid gewandel het, met ’n volkome hart en in opregtheid deur te doen net soos Ek jou beveel het, en my insettinge en verordeninge onderhou, dan sal Ek die troon van jou koningskap oor Israel vir ewig bevestig, soos Ek jou vader Dawid beloof het deur te sê: Daar sal vir jou nooit ’n man ontbreek op die troon van Israel nie.” Ten spyte van Dawid se oortredings van moord en owerspel het God hierdie man innig liefgehad. Die rede hiervoor was natuurlik dat hy met ’n volkome hart voor God gewandel het. En omdat hy met ’n volkome hart voor God gewandel het, het hy met opregte berou sy oortredinge van owerspel en moord voor God bely en sy hart nie verhard hieroor of die profeet van God afgewys toe hy hieroor aangespreek is nie. Hy het berou daaroor gehad dat hy God bedroef het, omdat sy liefde vir God opreg was.
Wanneer Dawid vir Salomo as sy opvolger aanstel, gee hy aan hom hierdie belangrike opdrag. “En jy, my seun Salomo, ken die God van jou vader en dien Hom met ’n volkome hart en met ’n gewillige siel, want die Here deursoek al die harte, en Hy verstaan elke versinsel van die gedagtes. As jy Hom soek, sal Hy Hom deur jou laat vind; maar as jy Hom verlaat, sal Hy jou vir altyd verstoot.” (1 Kron. 28:9). En by die inwyding van die tempel wat Salomo vir God gebou het, gee hy dan ook aan die volk hierdie opdrag waarvan ons in 1 Kon. 8:61 lees.
“Laat julle hart dan volkome met die HERE onse God wees om te wandel in sy insettinge en sy gebooie te onderhou, soos vandag.” En hoe hartseer en ironies dat Salomo wat hierdie opdrag aan die volk gee en met soveel wysheid en insig beklee was ook eindelik van God afwyk omdat sy hart nie volkome met Hom was nie. “En in die tyd van Salomo se ouderdom het sy vroue sy hart verlei agter ander gode aan, sodat sy hart nie volkome met die Here sy God was soos die hart van sy vader Dawid nie.” (1 Kon. 11:4).
Die handel en wandel van ons volk vandag getuig ook teen ons dat ons hart nie volkome met Hom is nie. My wens vandag is dat die HERE ons van só ’n gevaarlike oortreding mag red en ons tot Hom terug bring om Hom met ’n volkome hart te dien. “En Ek sal hulle 'n hart gee om My te ken, dat Ek die HERE is; en hulle sal vir My 'n volk wees, en Ek sal vir hulle 'n God wees, want hulle sal na My terugkeer met hul hele hart.” (Jer. 24:7).
Amen.