1 2 3c

Totale besoekerstal

Artikels vertoon Trefslae
7806531

Besoekers aanlyn

Ons het 54 gaste en geen lede aanlyn

 

  Videos en Toesprake

St Helena projek 200

Teken aan

Afrikaner

‘n LEWE VAN GEREGTIGHEID

BybelHeb. 1:1-14:“U het geregtigheid liefgehad en ongeregtigheid gehaat; daarom het, o God, u God U gesalf met vreugde-olie bo u metgeselle; en: U, o Here, het in die begin die aarde gegrondves en die hemele is werke van u hande.” (:9&10).
In hierdie gedeelte waar die voortreflikheid van Christus uitgelig word, word daar ook ’n spesifieke eienskap van Hom onderstreep wat geweldig kosbaar in God se oë is. Ons lees in vers 9 van hierdie hoofstuk dat Hy geregtigheid liefgehad het en ongeregtigheid gehaat het en die welbehae van God hierin is duidelik.
Ons vind hierdie getuienis ook in Ps. 45:8. “U het geregtigheid lief en haat goddeloosheid. Daarom het, o God, u God U gesalf met vreugde-olie bo u metgeselle.” En hoe kosbaar is dit nie dat God vir ons openbaar wat vir Hom welbehaalik is nie. Op hierdie wyse word ons daaraan herinner dat geregtigheid een van daardie dinge is wat ons in ons lewens gedurigdeur moet najaag. Hierdie opdrag is tog duidelik in die woorde van Romeine 6:13. “En moenie julle lede stel tot beskikking van die sonde as werktuie van ongeregtigheid nie, maar stel julleself tot beskikking van God as mense wat uit die dode lewend geword het, en julle lede as werktuie van geregtigheid in die diens van God.” Hierdie verantwoordelikheid van gelowiges om geregtigheid na te jaag word in ons tyd so maklik oorskadu deur dwalleer wat die mens met sy eie begeerlikhede op die voorgrond stel en dit wat vir God welbehaaglik is, opsy skuif. En dan wonder ons waarom ons samelewing besig is om in die modderpoel van goddeloosheid weg te sink! Om alles te kroon sal ’n mens dan waarlik ook die onsin hoor dat God alle mense ewe lief het. God se Woord stel die teendeel duidelik. “Die wandel van die goddelose is vir die Here ’n gruwel, maar hom wat geregtigheid najaag, het Hy lief.” (Spr. 15:9). Ons lees ook in Ps. 11 waar God vir ons deur die mond van Dawid hierdie saak duidelik uitlê.
“Die HERE toets die regverdige; maar sy siel haat die goddelose en die wat geweld liefhet. Want die HERE is regverdig; Hy het geregtighede lief; die opregtes sal sy aangesig sien.” (Ps. 11:5,7). God spreek in Eségiël 18 die mens se persoonlike verantwoordelikheid teenoor Hom aan – die verantwoordelikheid om volgens hierdie welbehae van God te leef om geregtigheid na te jaag en van ongeregtigheid af te wyk. “Maar as die goddelose hom bekeer van al sy sondes wat hy gedoen het, en al my insettinge onderhou en reg en geregtigheid doen, sal hy sekerlik lewe, hy sal nie sterwe nie. Al sy oortredinge wat hy begaan het, sal hom nie toegereken word nie; deur sy geregtigheid wat hy gedoen het, sal hy lewe. Maar as die regverdige afwyk van sy geregtigheid en onreg doen en handel volgens al die gruwels wat die goddelose doen – sal hy lewe? Aan al sy geregtighede wat hy gedoen het, sal nie gedink word nie; om sy troubreuk wat hy begaan het, en om sy sonde wat hy gedoen het, om hulle ontwil sal hy sterwe.” (Eség. 18:21& 22,24).
Ja, hierdie opdrag om gedurig op aktiewe wyse geregtigheid na te streef word ook in Deut. 16:20 duidelik aan ons gegee. “Geregtigheid, geregtigheid moet jy najaag, dat jy kan lewe en die land in besit kan neem wat die Here jou God jou sal gee.” Geliefdes, ’n groot oorsaak van baie ellende in ons dae is omdat mense se lewens gevul geraak het met allerhande verganklike en vleeslike begeerlikhede. Genoeg is nie meer genoeg nie. Daar is ’n ongesonde strewe na groter, meer, mooier en beter en om altyd ook dit te bekom wat ’n ander het of selfs beter as dit wat ’n ander het. 
En alhoewel vooruitgang en voorspoed as sulks nie verkeerd is nie moet dit nie ten koste van geregtigheid wees nie. Terwyl ons God se seëninge altyd met alle dankbaarheid en nederigheid moet ontvang, moet ons ook tevrede wees met die maat van seën wat Hy vir elkeen van ons afmeet. En daarom is dit belangrik dat ons in ons lewens en strewes ook altyd die woorde in 1 Tim. 6:6-11 onthou. “Maar die godsaligheid saam met vergenoegdheid is ’n groot wins. Want ons het niks in die wêreld ingebring nie; dit is duidelik dat ons ook niks daaruit kan wegdra nie. Maar as ons voedsel en klere het, moet ons daarmee vergenoeg wees. Maar die wat ryk wil word, val in versoeking en strikke en dwase en skadelike begeerlikhede wat die mense laat wegsink in verderf en ondergang. Want die geldgierigheid is ’n wortel van alle euwels; en omdat sommige dit begeer, het hulle afgedwaal van die geloof en hulleself met baie smarte deurboor. Maar jy, man van God, vlug van hierdie dinge weg, en jaag ná geregtigheid, godsaligheid, geloof, liefde, lydsaamheid, sagmoedigheid.”
Geliefdes, ’n mens lees nêrens in God se Woord van ’n man wat Hom met sy rykdom, besittings, sukses of prestasie beïndruk het nie. Maar ons lees wel gedurig in God se Woord van die groot welbehae wat Hy in ’n man het wat ’n lewe van geregtigheid lei. Mag ons vandag deur God se Woord herinner word aan die welbehae wat Hy in geregtigheid het sowel as ons verantwoordelikheid teenoor Hom om gedurigdeur geregtigheid na te jaag en gedurigdeur ons offers van geregtigheid voor Hom te bring. “Offer offerandes van geregtigheid en vertrou op die Here.” (Ps. 4:6). 
Amen.

 s1

 d1

 sw1

 v1

Haat Spraak  

 

Volkstem Vorige Uitgawes Advertensie