Joh. 17:1-26 “En Ek het u Naam aan hulle bekend gemaak en sal dit bekend maak, sodat die liefde waarmee U My liefgehad het, in hulle kan wees, en Ek in hulle.” (:26).
Ons weet dat daar ‘n verskil daarin is om van iemand te weet en om iemand te ken. ‘n Mens weet dalk van baie mense, maar jy ken heelwat minder mense. So weet die meeste van ons van bekende mense en wêreldleiers, maar ons ken nie regtig hierdie mense nie. Ons kan uit hul optrede afleidings van hulle maak, maar persoonlik weet ons nie eintlik iets van hulle nie. En hierdie is myns insiens van ons samelewing ook teenoor God die waarheid, geliefdes. Daar is dalk baie mense wat van Hom weet, maar baie, baie minder mense wat Hom ken.
Ek wil vra dat u mooi dink aan die woorde van Christus in Johannes 1:26. Christus stel dit dat Hy die Vader, God, se Naam aan Sy dissipels bekend gemaak het. En ‘n mens maak mos ‘n ander se naam aan iemand bekend wanneer jy mense aan mekaar voorstel – wanneer mense mekaar ontmoet, leer ken. Maar wat meer is, is dat Christus motiveer waarom Hy God se Naam aan Sy dissipels bekendgemaak het – sodat die liefde van Hom ook in hulle kan wees. Dink mooi hieroor na, geliefdes. Dit beteken dat ‘n lewe waarin daar geen liefde van God sigbaar is nie ook ‘n lewe is wat dringende selfondersoek nodig het. Dit beteken dat ‘n mens in wie se lewe die liefde van God ontbreek God nie waarlik ken soos wat hy dalk dink nie. Ja, u kan dalk die hele Woord sonder moeite uit u verstand aanhaal wat ‘n kennis van Hom openbaar. Die Fariseërs kon dit ook doen. Hulle het hierdie woorde van God dalk kon memoriseer, maar tog het hulle dit nie verstaan nie. En daarin lê die verskil – hulle het ook baie van God geweet, maar Hom tog nie geken nie. En Christus het hulle prontuit hieroor aangespreek. “Maar Ek ken julle, dat julle die liefde van God in julle nie het nie.” (Joh. 5:42).
Ons vind in Johannes 4:7-8 ook die boodskap in hierdie verband baie duidelik. “GELIEFDES, laat ons mekaar liefhê; want die liefde is uit God, en elkeen wat liefhet, is uit God gebore en ken God. Hy wat nie liefhet nie, het God nie geken nie, want God is liefde.” Dit is duidelik. Hy wat nie liefhet nie ken God nie. Hy wat God ken, verstaan iets van Sy onbegryplike, onmeetbare en onkeerbare liefde. En hy wat selfs net ‘n fraksie hiervan ken kan nie anders as om te begeer om hierdie selfde liefde ook in sy eie hart en lewe te koester nie, geliefdes.
Wanneer ons in die lig van bogenoemde weer na die samelewing rondom ons kyk, is daar baie vrae wat in ons harte ontstaan. Waarom loop geloofsgemeenskappe (kerke) leeg? Waarom val families en gesinne uitmekaar? Waarom is mense wat in een huis grootgeword het en saam gespeel, saam geëet, saam gelag en soveel dinge saam gedeel het jare later soos vyande teenoor mekaar? Waarom besteel, verneuk en verniel mense mekaar terwyl dit vir niemand lekker is nie? Kan dit dalk wees omdat die liefde van God in ons harte ontbreek, geliefdes? Weet ons nog wat ‘n ware, opofferende, selfvernederende liefde is of het die selfsug en verwaandheid van hierdie humanistiese eeu ons hiervoor volkome afgestomp?
Ek glo dat die Woord van die HERE vir elke een van ons vandag genoeg gee om te oordink, geliefdes. Die samelewing rondom ons lyk baie sleg. En dit is vir ons maklik om selftevrede agteroor te sit en vinger na ander rondom te wys. Maar dit wat maklik is om te doen en dit wat reg is om te doen, verskil gewoonlik van mekaar. Derhalwe sal die regte ding vir my en u wees om te doen om ook ons eie lewens te ondersoek en met eerlikheid dit aan die Woord van God se standaard van liefde te meet. Ek sluit vir ons af met die woorde uit 1 Kor. 13:4-7 wat vir ons ‘n duidelike standaard stel van hoe die liefde van God in ons lewens behoort te vertoon, geliefdes.
“Die liefde is lankmoedig en vriendelik; die liefde is nie jaloers nie; die liefde praat nie groot nie, is nie opgeblase nie, handel nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie, word nie verbitterd nie, reken die kwaad nie toe nie, is nie bly oor die ongeregtigheid nie, maar is bly saam met die waarheid. Dit bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles.”
Amen.