Joh. 8:12-59 “EN Jesus het weer met hulle gespreek en gesê: Ek is die lig van die wêreld; wie My volg,sal sekerlik nie in die duisternis wandel nie, maar sal die lig van die lewe hê.” (:12).
Geliefdes, ons hoor gereeld dat mense dit stel dat die toekoms maar donker lyk. Dit is natuurlik waar dat ons tyd nie ‘n gebrek aan uitdagings het nie. Daar is sekerlik baie dinge waaroor ons onseker en besorg is.
Maar is daar by ons geen meer vertroue op die hulp en bystand van ons Almagtige Vader nie? Het ons al werklik só selfgerig en blind geraak dat ons geen lig in die toekoms sien nie – nie eers Sý Lig wat die grootste duisternis kan verdryf nie? Ps. 112:4 stel dit duidelik dat Hy vir die opregtes die Lig is wat die duisternis verdryf. “Sajin. Vir die opregtes gaan Hy op as ‘n lig in die duisternis: Get. genadig en barmhartig en regverdig.”
Ek verstaan egter waarom die grootste gedeelte van die samelewing ‘n duister toekoms in die vooruitsig het, geliefdes. Die rede hiervoor is eenvoudig dat die grootste deel van ons samelewing nie in die weg van die Lig wandel nie. “En aan die goddelose word hulle lig ontneem,...” (Job 38:15). En ook het diesulkes geen begeerte daartoe om in die Lig te wandel nie. Johannes 3:19&20 stel dit vir ons duidelik dat daar soveel mense is wat dit verkies om eerder in die duisternis te wandel. Ja, daar is talle mense wat dit verkies om eerder in die duisternis te leef as om na die lig te kom. “En dit is die oordeel: dat die lig in die wêreld gekom het, en die mense het die duisternis liewer gehad as die lig; want hulle werke was boos. Want elkeen wat kwaad doen, haat die lig en kom nie na die lig nie, dat sy werke nie bestraf mag word nie.” Dit is tog vanselfsprekend dat die toekoms vir diesulkes stikdonker sal lyk, geliefdes.
Ons is as God se kinders egter veronderstel om van hierdie wêreld onderskeie te wees, geliefdes. “...kinders van God soder gebrek te midde van ‘n krom en verdraaide geslag onder wie julle skyn soos ligte in die wêreld,” (Fil. 2:15). Hierdie opdrag is ook uit Efés. 5:8 duidelik. “...wandel soos kinders van die lig.” Die HERE het ons juis in Sy genade en barmhartigheid geroep om uit die duisternis te vlug en ons toevlug in Hom te vind. “Maar julle is ‘n uitverkore geslag, ‘n koninklike priesterdom, ‘n heilige volk, ‘n volk as eiendom verkry, om te verkondig die deugde van Hom wat julle uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig,” (2 Pet. 2:9). Hierdie woorde uit 2 Petrus 2 word ook deur koning Dawid se belydenis in Ps. 56:14 onderstreep. “want U het my siel gered van die dood – ja, my voete van struikeling – om te wandel voor die aangesig van God in die lig van die lewe.” Christus het ook self in Matt. 5:16 van hierdie verantwoordelik gepraat. “Laat julle lig só skyn voor die mense, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemele is, verheerlik.”
Die Woord van die HERE openbaar ook die skandelikheid en leuenagtigheid van dwalleeraars wat niks van sonde, berou en bekering in hul “prediking” wil weet nie. Hulle wil nie in die Lig wandel nie. Hulle het die duisternis liewer en wil hierom eerder daarin leef. Die Woord is baie duidelik oor hierdie saak. Ons sal nie gemeenskap met Hom hê wanneer ons verkies om in die duisternis te leef nie. “EN dit is die verkondiging wat ons van Hom gehoor het en aan julle verkondig: God is lig, en geen duisternis is in Hom nie. As ons sê dat ons met Hom gemeenskap het en in die duisternis wandel, dan lieg ons en doen nie die waarheid nie. Maar as ons in die lig wandel soos Hy in die lig is, dan het ons gemeenskap met mekaar; en die bloed van Jesus Christus, sy Seun, reinig ons van alle sonde.” (1 Joh. 1:5-7).
Ek en u word vanoggend egter weer deur die HERE herinner daaraan dat ons as Sy kinders in Sy Lig moet wandel, geliefdes. Dit beteken dat ek en u ons eie lewens in die waarheid van Sy Woord as ons Lig moet ondersoek. En op hierdie wyse sal ons in die Lig van Sy Woord ons tekortkominge en sondes raaksien. Ja, in die Lig van Sy Woord sal ons kan sien waar in ons lewens ons langs dwaalweë afgedwaal het en kan ons met ywer na Hom terugkeer. So duidelik stel die Psalmdigter dit in Ps. 119:105. “U woord is ‘n lamp vir my voet en ‘n lig vir my pad.”
Die duisternis van die wêreld rondom ons moet ons nie oorweldig nie, geliefdes. Laat dit ons eerder herinner aan die absolute noodsaaklikheid daarvan dat ons in der ewigheid nooit die weg van die Lig mag verlaat nie. Ons behoort meer gereeld soos die Psalmdigter tot God te bid – “Stuur u lig en u waarheid; laat dié my lei;...”.
‘n Toekoms sonder God is inderdaad ‘n baie, baie donker toekoms, geliefdes. Maar geloofd sy die Naam van die barmhartige, genade en Drie-Enige God in Wie ons ‘n Lig vir die toekoms kan sien en wat vir ons die Lig is waarin ons kan wandel. “...in u lig sien ons die lig.” (Ps. 36:10).
Amen