1 2 3c

Totale besoekerstal

Artikels vertoon Trefslae
9319569

Besoekers aanlyn

Ons het 80 gaste en geen lede aanlyn

 

  Videos en Toesprake

St Helena projek 200

Teken aan

Afrikaner

HOU SY WEG

BybelPs. 37:1-40 Kof. Wag op die Here en hou sy weg, en Hy sal jou verhoog, om die aarde te besit; jy sal met welgevalle neersien op die uitroeiing van die goddelose mense.” (:34).

Geliefdes, in hierdie dae kan ons kwalik genoeg daaraan herinner word om te fokus op die weg waarlangs ons moet wandel.  Daar is nie alleen dwaalweë in oorvloed nie, maar daar is ook oorgenoeg dwaalleeraars wat mense aanmoedig om die weg van die waarheid te verlaat en langs die dwaalweë van vleeslike begeerlikheid en ongebondheid te wandel.  En dan is daar natuurllik ‘n geweldige tekort aan leraars wat na die wil van die HERE vir mense daarop wys wanneer hulle van Sy weë afdwaal om hulle sodoende weer te help om die rigting te vind om in Sy weg te wandel.   Laasgenoemde is immers die voorbeeld van lering wat Christus self ook aan ons gestel het.  “ En hulle het Hom gevra en gesê: Meester, ons weet dat U reguit praat en leer en die persoon nie aanneem nie, maar die weg van God in waarheid leer — “.  (Luk. 20:21). 

Ek wil u aandag graag vandag na ‘n paar gedeeltes in die Woord van die HERE trek wat ons opnuut tot die besef bring dat die HERE let op die weg waarlangs ‘n mens wandel.  ‘n Baie opvallende gedeelte is die een uit Núm. 22:32 waar die HERE self vir Bíleam waarsku oor die weg wat hy inslaan.  “...Kyk, Ek self het uitgegaan as 'n teëparty, want jou weg loop gevaarlik steil in my oog!”.  Ja, die HERE het gesien dat hierdie man besig is om van die weg van die waarheid af te dwaal.  Dit word vir ons verder in 2 Pet. 2:15 bevestig.  “Hulle het die regte pad verlaat en verdwaal, en die weg gevolg van Bíleam, die seun van Beor, wat die loon van ongeregtigheid liefgehad het,”.

Ons lees dan ook telkens in die geskrifte van Konings en Kronieke van die destydse konings in Israel wat aan die HERE gehoorsaam was en ook hulle wat aan Hom ongehoorsaam was.  So lees ons in 2 Konings 21:22 van koning Amon wat die weg van die HERE verlaat het.  “En hy het die HERE, die God van sy vaders, verlaat en nie in die weg van die HERE gewandel nie.”  Geliefdes, die boodskap uit hierdie gedeelte is dan ook vir ons duidelik – om die weg van die HERE te verlaat, is ook om Hom as ons metgesel te verlaat.  Ja, om die weg van die HERE te verlaat, is om weg te stap van ons verhouding met Hom.  Dit word vir ons in Johannes 14:6 onderstreep.  “Jesus antwoord hom: Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.”  Daar is vir ons een van twee keuses, nl. om die HERE te volg langs die weg van die waarheid of om sonder Hom langs ons dwaalweë te gaan.  Hy gaan nie verleë agter ons aan saam verdwaal langs ons verkeerde weë nie.  Alhoewel Hy ons in Sy genadige barmhartigheid van ons dwaalweë dikwels tot Sy weg terug bring, sal Hy nooit Sy goedkeuring aan ons dwalinge skenk en dit eindelik as “reg”  begin aanvaar nie.  Hy sal nóóit Sy weg van waarheid verlaat om ons te volg nie!  “...As ons Hom verloën, sal Hy ons ook verloën.  As ons ontrou is, Hy bly getrou; Hy kan Homself nie verloën nie.”  (2 Tim. 2:12&13).  

Geliefdes, die voorbeeld van Bíleam laat ons dan ook besef dat daar dikwels ‘n baie, baie fyn lyn tussen die weg van die HERE en ons eie dwaalweë lê.  Wanneer ons hierdie gedeelte lees, sien ons hoedat hierdie man selfs die HERE in sy besluit geraadpleeg het.  Maar eindelik het God die waarheid in die diepste van sy wese raakgesien en hom teen sy verkeerdheid gewaarsku.  En so kan ons ook dikwels op dwaalweë beland sonder om dalk eers die verkeerdheid te besef.  Dit word vir ons in Spr. 14:12 duidelik gestel.  “Daar is 'n weg wat vir 'n mens reg lyk, maar die einde daarvan is weë van die dood.”  En daarom dat dit so belangrik is om ons lewensweg so gereeld, elke dag, teen die waarheid van die Woord van die HERE te meet.  

Die HERE leer vir ons uit Ps. 32:8 dat Hy vir ons ook as ‘n liefdevolle Vader in die waarheid van Sy weg wil onderrig.  “Ek wil jou onderrig en jou leer aangaande die weg wat jy moet gaan; Ek wil raad gee; my oog sal op jou wees.”  En hiermee saam leer Hy aan ons uit Ps. 25:9 dat ons hierdie lering van Hom met ‘n stille ootmoed moet aanneem.  “Jod. Hy sal die ootmoediges lei in die reg en die ootmoediges sy weg leer.”  Wanneer ons eiesinnig, trots en te selfversekerd is, sal Sy Woord by ons nie ingang vind nie.  Luister hoedat Dawid, ‘n magtige man, ‘n koning, die HERE ootmoedig smeek om hom daarin te onderrig om in waarheid langs Sy weg te wandel.  “Dalet. Here, maak my u weë bekend; leer my u paaie.”  (Ps. 25:4).  En ook in Psalm 86:11 rig Dawid hierdie versoek tot die HERE.  En hier onderneem hy ootmoedig dat hy hierdie weg wat die HERE leer sal navolg; dat hy hierin sal wandel.  ”Leer my, Here, u weg: ek sal in u waarheid wandel; verenig my hart tot die vrees van u Naam.”  

Geliefdes, die enigste manier waarop ons ons lewensweg in ons samelewing kan suiwer hou, is inderdaad om dit te hou na die riglyn van die Woord van ons liewe Heer.  “Waarmee sal die jongeling sy pad suiwer hou? Deur dit te hou na u woord.”  (Ps. 119:9).  Ja, geliefdes, mag ek en u ook in waarheid die belydenis van Ps. 119:30 kan aflê.  Mag ons ook die weg van waarheid, die weg van die HERE bo ons eie weë, bo die weë van die wêreld verkies.  “Ek het die weg van waarheid verkies; u verordeninge het ek voor my gestel.” 

Amen.

 s1

 d1

 sw1

 v1

Haat Spraak  

 

Volkstem Vorige Uitgawes Advertensie