Gén. 22:1-24 “Toe roep die Engel van die Here vir die tweede keer na Abraham van die hemel af en sê: Ek sweer by Myself, spreek die Here, omdat jy dit gedoen het en jou seun, jou enigste, nie teruggehou het nie, dat Ek jou ryklik sal seën en jou nageslag grootliks sal vermeerder soos die sterre van die hemel en soos die sand wat aan die seestrand is; en jou nageslag sal die poort van sy vyande in besit neem. En in jou nageslag sal al die nasies van die aarde geseën word, omdat jy na my stem geluister het.” (:15-18).
Geliefdes, hierdie opdrag wat die HERE aan Abraham gee laat my dadelik dink aan ‘n vraag wat Jesus per geleentheid aan Petrus gerig het. “Toe hulle dan klaar was met die môre-ete, vra Jesus vir Simon Petrus: Simon, seun van Jona, het jy My waarlik lief, meer as hulle hier? Hy antwoord Hom: Ja, Here, U weet dat ek U liefhet. ...” (Joh. 21:15). En dan wonder ek vandag of ek en u ook sonder enige twyfel positief op hierdie vraag sou kon antwoord as ek en u in Petrus se posisie gestaan het en hierdie vraag direk aan ons gerig word.
Dit is een ding om dalk “ja” op hierdie vraag te antwoord, maar iets heeltemal anders om hierdie ware liefde vir Hom deur ons optrede te bevestig. Die opdrag wat God aan Abraham gegee het, was nie vir geen rede nie. Abraham se optrede sou sy opregte, ware en innige liefde vir God bevestig, geliefdes. Ja, die HERE het Abraham beproef om te sien of hy waarlik in alles aan Hom gehoorsaam sal wees. En Abraham het hierdie toets met vlieënde vaandels geslaag! “En Hy sê: Moenie jou hand na die seun uitsteek nie, en doen hom niks nie; want nou weet Ek dat jy God vrees en jou seun, jou enigste, van My nie teruggehou het nie.” (Gén. 22:12). Nog voordat die eerste gebod op kliptafels geskrywe was en deur Moses aan die kinders van Israel gegee het, bewys Abarham deur sy optrede dat hierdie gebod op die tafel van sy hart geskrywe was. Hy het waarlik die HERE bo alles liefgehad. Hy het bewys dat daar vir hom niks, absoluut niks, meer belangrik was as om die HERE te gehoorsaam en te behaag nie omdat daar waarliks niks was wat Abraham meer as Hom liefgehad het nie.
En hierdie kosbare voorbeeld van Abraham behoort vir my en u tot selfondersoek te bring, geliefdes. Is ons ook bereid om alles, absoluut alles, in ons lewens aan God se wil ondergeskik te stel en uit ‘n opregte liefde daarna te streef om Hom in alles te gehoorsaam? Of is ons maar geneig om ons eie begeertes en eie eer te dikwels te laat seëvier wat daarvan getuig dat ons selfliefde dalk swaarder weeg as ons liefde vir Hom? Ja, geliefdes, dikwels staan ons trots, ons eie eer ons in die weg om ons onder die kragtige Hand van die HERE te verneder ten einde Hom na die eis van Sy gebod te gehoorsaam. “Verneder julle dan onder die kragtige hand van God, sodat Hy julle kan verhoog op die regte tyd.” (1 Pet. 5:6). Ons is dikwels nie bereid om as die mindere teenoor ons naaste te staan en op te tree nie, want dit sou in ons eie oë eerder ons eer krenk as wat dit ons liefde vir God bevestig. En het Christus nie hierin ook vir ons die duidelike voorbeeld gestel om ons eie belang aan God se wil ondergeskik te stel nie? M.a.w. dat ons gehoorsaamheid aan God swaarder as ons eie belang moet weeg nie? “en in gedaante gevind as ‘n mens, het Hy Homself verneder deur gehoorsaam te word tot die dood toe, ja, die dood van die kruis.” (Fil. 2:8).
Geliefdes, mag hierdie herinnering aan die voorbeeld uit Abraham se lewe vir my en u opnuut aanspoor om daarna te streef om die HERE onse God waarlik bo alles lief te hê. En mag hierdie liefde van ons teenoor Hom nie alleen in woorde bestaan nie, maar uit ons optrede bevestig word. Tewens, liefde vir Hom en gehoorsaamheid aan Hom loop hand-aan-hand. “As julle My liefhet, bewaar my gebooie.” (Joh. 14:15).
Amen.