Daar word vandag op verbysterende wyse met groot getalle rondgespeel. Vyftig jaar terug was R100 of $100 nog sommer groot geld. Selfs twintig jaar terug was die kafeeman nie geneë om 'n R10-noot vir 'n koerant of 'n brood te aanvaar nie. R10 000 per maand was 'n uitstekende salaris en die wat uitgestyg het het darem R15 000 gehaal.
'n Huisprys van R150 000 was 'n bielie en selfs 'n Mercedes het nog onder R100 000 gekos. Toe kom die groot ontploffing – en die krisis oftewel Depressie haal hom in. Die leuen van rykdom met papiergeld is deur die werklikheid ontbloot. Keynes se beroemde(!) money illusion is ontbloot vir wat dit is: 'n Berugte bedrogspul onder die skyn van wettigheid.
Dit is 'n oortreding van die Negende Gebod omdat dit 'n leuen verkondig. Dit is ook 'n oortreding van die Agste Gebod omdat dit egte inflasie – die opblaas van die geldvoorraad buite verhouding tot die beskikbare goedere en dienste behels en so die koopkrag van mense se inkomste verminder omdat geld wat in wese vals is, die mark oorstroom.
Die heersende krisis is die regstreekse gevolg daarvan dat langs hierdie weg die owerhede van die wêreld by hulle onderdane met 'n leuen laat glo het dat hulle welvarend is. Daarmee saam het getalle gekom wat onlangs nog selde genoem is en buite die begripsvermoë van selfs die meeste geleerdes en selfs ekonome gelê het. Waar twintig jaar terug met ontsag in tiene en honderde en duisende en by uitsondering in tienduisende gepraat is, lê miljoen en miljard en biljoen en biljard en selfs triljoen vandag sommer al vlak en gemaklik op die tong. Maar ken mense die betkenis van die reusegetalle? Of praat hulle maar net agter die koerante en geleerdes aan wat dikwels ook maar nie weet waaroor dit gaan nie? Meeste mense het immers maar 'n swak aanvoeling vir syfers.
Om die saak te bemoeilik bestaan daar bowendien twee stelsels wat albei in Suid-Afrika gebruik word – die Angelsaksiese stelsel en die Systéme Internationale of SI wat in Europa gebruik word en deur die Verenigde Nasies vir die hele wéreld aanvaar is. Die SI is ook die amptelike stelsel in Suid-Afrika. Dit is noodsaaklik dat sekerheid verkry wat elke getal beteken.
Die Internasionaal Aanvaarde Systéme Internationale of SI-stelsel
Die SI-getallestelsel is 'n logiese ry van duisendvoude:
• Duisend x Duisend = Miljoen Ses nulle
• Duisend x Miljoen = Miljard Nege nulle
• Duisend x Miljard = Biljoen = Miljoen x Miljoen Twaalf nulle
• Duisend x Biljoen = Biljard = Miljoen x Miljard Vyftien nulle
• Duisend x Biljard = Triljoen = Miljoen x Biljoen Agtien nulle
So gaan dit voort.
Let op dat die agtervoegsel -jard telkens tussenin val. Die agtervoegsel -joen tipeer egter elke keer 'n wiskundige mag van miljoen. Wiskundig is eenmiljoen gelyk aan Miljoen tot die mag een. Biljoen is gelyk aan Miljoen tot die mag twee - die voorvoegsel bi- beteken twee. Netso is Triljoen gelyk aan Miljoen tot die mag drie – die voorvoegsel tri- beteken drie. Die benamings is dus baie logies.
Die Angelsaksiese stelsel
Die Angelsaksiese stelsel erken nie die tussenstappe -jard nie, maar gaan regstreeks met -joen deur:
• Duisend x Duisend = Miljoen Ses nulle
• Duisend x Miljoen = Biljoen Nege nulle
• Duisend x Biljoen = Triljoen Twaalf nulle
• Duisend x Triljoen = Kwatriljoen Vyftien nulle
• Duisend x Kwatriljoen = ??? Agtien nulle
Hierdie stelsel werk dus op veelvoude van duisend: Duisendkwadraat, duisend tot die derde, vierde, vyfde mag. Anders as die SI-stelsel is Biljoen nie Miljoen tot die mag twee nie, maar bloot 'n woord. Dit geld ook vir Triljoen en Kwatriljoen. Die benamings pas nie soos by SI by die opeenvolging van wiskundige magte nie.
Die Suid-Afrikaanse praktyk
Suid-Afrika het rondom 1970 die Systéme Internationale (SI) aanvaar en dit is vandag nog die geval. Wanneer Obama dus van Trillions praat, word dit in Afrikaans met Biljoene vertaal. 'n Tyd gelede het Naspers se koerante besluit om op die Angelsaksiese stelsel oor te gaan. Dit het egter in die handel en nywerheid soveel teenstand ervaar dat daar besluit is om by die SI te hou. Daarom geld die volgende vergelykende benamings:
Amerikaans -Brits Million = Suid-Afrikaans Miljoen Ses nulle
Amerikaans -Brits Billion = Suid-Afrikaans Miljard Nege nulle
Amerikaans -Brits Trillion = Suid-Afrikaans Biljoen Twaalf nulle
Amerikaans -Brits Quatrillion = Suid-Afrikaans Biljard Vyftien nulle
Terwille van die goeie orde word aanbeveel dat die Afrikanervolksparty by die Systéme Internationale bly. Afgesien daarvan dat dit die amptelike stelsel in Suid-Afrika is, bevestig dit ook die AVP se grondslag van Afikanernasionalisme wat sekerlik nie vriendelik teenoor die Angelsaksiese gewoontes is nie.