Nadat Boraine en genote die Nuwe Suid Afrika tot stand help bring het met ‘n uiterste geknoei agter die skerms, soek hulle nou “nuwe leiers”! Wat het dan nou fout gegaan met die “wonderlike” gelykheidsinisiatief van hulle?
“Hy het absolute konsistensie geopenbaar. Die gierigheid, die korrupsie, die gepeuter met die regstaatbeginsel en die gebrek aan respek vir die Grondwet het hom naar gemaak. Van Zyl moes eens aanskou hoe sy beginsels deur die NP vertrap word, en nou het dieselfde jammerlike verhaal voor hom afgespeel. Hy was gefrustreerd, hartseer en kwaad, aldus Boraine.
Om sulke kaf voor ‘n klompie studente kwyt te raak is behalwe dat dit opvoedkundig uiters nadelig is, ook ‘n spul leuens. Daar is niks in dié jammerlike verhaal van verraderlikheid wat as beginsels beskou kan word nie. Alles waaroor Frederik van Zyl Slabbert gefrustreerd, hartseer en kwaad geword het, is in vooruitsig gestel sedert 1948, indien die “beginsels” waarna Boraine verwys en wat reeds in Sir de Villiers Graaf se VP-Party die beleid was, eendag in Suid Afrika sou slaag, het Afrikanerleiers gewaarsku!
Wat meer is, toe die inligting van die Idasa Komplot deur wyle mnr. Jaap Marais aan die lig gebring is, is dit heftig ontken en is hy beswadder as leuenaar. Hulle was egter nie een bereid om saam met hom op ‘n verhoog te verskyn in debat nie! Die voorspelde gevolge is nou besig om hulle vinnig in te haal en hulle deelname aan die verraad te bevestig!(AVP)
Die artikel hier onder het in die nuus van die US verskyn.
Maart 31, 2011
Die Universiteit Stellenbosch (US) se nuwe Frederik Van Zyl Slabbert (FVZS) Instituut vir Studenteleierskapsontwikkeling is ʼn “uiters belangrike inisiatief”, want Suid-Afrika het ʼn nuwe geslag dapper leiers broodnodig.
Dr Alex Boraine
Só het die oudpolitikus dr Alex Boraine Dinsdag, 29 Maart 2011, by die bekenstellingsimposium van dié inisiatief gesê. Hy het die US gelukgewens met sy besluit om die nalatenskap van dr Slabbert, ʼn oud-Matie en vorige Kanselier van die Universiteit wat op 14 Mei 2010 oorlede is, op dié manier uit te bou.
Dr Boraine was ʼn goeie vriend en kollega van dr Slabbert. Hulle het opslae gemaak toe hulle in 1986 saam uit die parlement bedank en die Instituut vir ʼn Demokratiese Alternatief vir Suid-Afrika (Idasa, wat nou die Instituut vir Demokrasie in Suid-Afrika heet) tot stand gebring het. In 1987 het hulle opspraakwekkende samesprekings tussen die destyds ingeperkte African National Congress (ANC) en ʼn groep hoofsaaklik Afrikaanssprekende sakelui, skrywers, akademici en studente uit Suid-Afrika in Dakar, hoofstad van Senegal, gereël.
Dr Slabbert het hiermee “waagmoedige leierskap” geopenbaar, het dr Boraine gesê.
“Van Zyl was vasbeslote om – as Afrikaner – die leier van die inisiatief te wees. Ons is belaglik gemaak, beskuldig, uitgelag en verstoot, maar hier was die visie van die nuwe Afrikaner in teenstelling met die stereotipe van die tipiese verteenwoordiger van rassisme en verdrukking.”
Die Dakar-onderhandelings was ʼn deurbraak en het die grondslag help lê vir die onderhandelde skikking wat in Suid-Afrika bereik is, het dr Boraine gesê, maar dr Slabbert het mettertyd “ontnugterd” geraak.
“Ons was destyds so naar van die bankrot en korrupte leiers van die Nasionale Party (NP), dat ons gedink het die nuwe leierskap sou anders wees. Ons het gedink almal in die ANC sou Nelson Mandela se voorbeeld navolg, maar dit het nie gebeur nie. Van Zyl het dieselfde maatstok gebruik om die nuwe leierskap te beoordeel en hulle tot verantwoording te roep.
“Hy het absolute konsistensie geopenbaar. Die gierigheid, die korrupsie, die gepeuter met die regstaatbeginsel en die gebrek aan respek vir die Grondwet het hom naar gemaak. Van Zyl moes eens aanskou hoe sy beginsels deur die NP vertrap word, en nou het dieselfde jammerlike verhaal voor hom afgespeel. Hy was gefrustreerd, hartseer en kwaad.
“Ons mis hom erg, en hopelik sal hierdie nuwe inisiatief ʼn nuwe geslag jongmense – swart en wit – oplewer om aan Suid-Afrika die kreatiewe, menslike, eerlike en empatiese leierskap wat benodig word, te verskaf,” het dr Boraine gesê.
Die FVZS Instituut aan die US is die eerste in sy soort in Suid-Afrikaanse hoër onderwys. Dit bied programme om Maties se leiersvaardighede te ontwikkel en hulle as gegradueerdes af te rond. Skoolleerders en studente van ander kampusse word ook betrek.
Die programme is daarop afgestem om etiese leierskap te kweek en studente se rol as leiers in Afrika- en wêreldverband beklemtoon. Dit is voorts daarop gemik om studente se leiers-, kommunikasie-, konseptuele en besluitnemingsvaardighede te ontwikkel.
Die Instituut maak deel uit van die US se HOOP Projek – ʼn kampuswye inisiatief waardeur die Universiteit sy akademiese uitnemendheid en toonaangewende wetenskaplike navorsing gebruik om oplossings te vind vir van ons land, ons vasteland en die res van die wêreld se strafste uitdagings.
“Dr Slabbert was die vergestalting van die US se visie om gegradueerdes op te lewer wat as verantwoordelike en kritiese burgers ʼn leiersrol in die samelewing kan vervul. Ons beskou al ons gegradueerdes as agente vir verandering,” het prof Russel Botman, Rektor en Visekanselier van die US, gesê.
“Die Universiteit waar sommiges hom eens verguis en verwerp het, het hom ten einde laas in 2008 verwelkom as Kanselier. Hy het die breë oorgang in Suid-Afrika help moontlik maak, wat ook die gewenste uitwerking op sy alma mater gehad het.
“Ons is jammer dat Van Zyl nie meer met ons is nie, maar ter erkenning van sy bedrae tot die samelewing staan almal van ons – sy familie, sy vriende en sy aanhangers – saam om sy nalatenskap uit te bou.
“Ons is voornemens om jong leiers toe te rus met die vaardighede wat hulle benodig om die soort wêreld te skep waarop Van Zyl sou trots wees – ʼn oop samelewing, vry van diskriminasie en onreg.”