1 2 3c

Totale besoekerstal

Artikels vertoon Trefslae
11209123

Besoekers aanlyn

Ons het 62 gaste en geen lede aanlyn

 

  Videos en Toesprake

St Helena projek 200

Teken aan

Afrikaner

GELOOF

BybelGén. 15:1-21:“En hy het in die HERE geglo; en Hy het hom dit tot geregtigheid gereken.” (:6). Geliefdes, God maak aan Abram die belofte dat sy nageslag soos die sterre van die hemel sal wees. En op hierdie stadium het Abram nog geen kind van sy eie nie. Hierdie onderstreep dan juis vir ons wat geloof is. Wanneer God hierdie belofte aan Abram maak, is dit menslik gesproke nie net onwaarskynlik nie, maar onmoontlik dat dit kan gebeur. Maar Abram glo in God en dit word hom tot geregtigheid gereken.
 
Abram het in die HERE geglo. Wat is geloof geliefdes? Dit word in Heb. 11:1 as volg gestel. “DIE geloof dan is ’n vaste vertroue op die dinge wat ons hoop, ’n bewys van die dinge wat ons nie sien nie.” Abram se geloof in die HERE was dus ’n vaste vertroue op Hom. Geloof is ’n kompliment en handeling van eerbied en respek teenoor God, geliefdes. As Abram God nie geglo het nie wat sou hy deur sy optrede impliseer? Sou hy impliseer dat God by onvermoë is om dit wat Hy sê te doen of sou hy impliseer dat God iets sou sê en dit nie uitvoer nie? Hierdie teenstelling onderstreep dan ook vir ons dat ongeloof ’n belediging teenoor God is, geliefdes.
 
Dit word ook in Rom. 4:19-22 vir ons dienooreenkomstig verduidelik. “En sonder om te verswak in die geloof het hy, al was hy omtrent honderd jaar oud, nie gelet op sy eie liggaam wat alreeds verstorwe was, en op die verstorwe toestand van die moederskoot van Sara nie. En hy het nie deur ongeloof aan die belofte van God getwyfel nie, maar hy is versterk deur die geloof en het aan God die eer gegee en
was ten volle oortuig dat Hy ook die mag het om te doen wat Hy beloof het. Daarom is dit hom ook tot geregtigheid gereken.” Abram se geloof het getuig dat Hy glo dat God waaragtig is en dit wat Hy sê, sal doen.
 
En daarbenewens het dit ook getuienis gelewer dat hy glo dat God almagtig is en dit wat Hy beloof wel tot uitvoer kan bring. Ons verstaan dan ook beter waarom dit onmoontlik is om God sonder geloof te
behaag, want ongeloof is ’n belediging teenoor Hom. “En sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en ’n beloner is van die wat Hom soek.” (Heb. 11:6). Hierdie geloof van Abraham maak dan ook ’n ander saak vir ons baie duidelik, geliefdes. Abraham het in God geglo. En hierdie geloof van Abraham was dan ook die basis vir sy gehoorsaamheid aan Hom.
 
“Deur die geloof het Abraham, toe hy geroep is, gehoorsaam weggetrek na die plek wat hy as ’n erfenis sou ontvang; en hy het weggetrek sonder om te weet waar hy sou kom. Deur die geloof het hy as vreemdeling gaan woon in die land van belofte soos in ’n vreemde land en in tente gewoon met Isak en Jakob, die mede-erfgename van dieselfde belofte.” (Heb. 11:8&9). By ’n gebrek aan geloof sou Abram Hom nie gehoorsaam het nie. Hy sou nie bereid gewees het om Isak sonder geloof in God aan Hom te offer nie. “Deur die geloof het Abraham, toe hy op die proef gestel is, Isak geoffer; ja, hy wat die beloftes ontvang het, het sy eniggeborene geoffer, aan wie gesê is: In Isak sal jou nageslag 
genoem word – want hy het gereken dat God mag het om selfs uit die dode op te wek; daaruit het hy hom ook, om so te spreek, terug ontvang.” (Heb. 11:17-19).
 
Ja, Abraham se geloof is deur sy werke ten toon gestel en bevestig, geliefdes. “Maar wil jy weet, o nietige mens, dat die geloof sonder die werke dood is? Is Abraham, ons vader, nie uit die werke geregverdig toe hy Isak, sy seun, op die altaar geoffer het nie? Sien jy dat die geloof saamgewerk het met sy werke en dat die geloof volkome geword het uit die werke? En die Skrif is vervul wat sê: En Abraham het God geglo, en dit is hom tot geregtigheid gereken, en hy is n vriend van God genoem.” (Jak. 2:19-23).
 
Geliefdes, laat ek en u ook hierdie voorbeeld van Abraham nastreef en met ’n vaste geloofsvertroue teenoor God aan Hom ons eerbied betoon. Ja, ’n eerbied wat gestalte kry in ons gehoorsaamheid aan Hom met ’n ware geloof in Hom as die basis daarvan.
Amen.

 s1

 d1

 sw1

 v1

Haat Spraak  

 

Volkstem Vorige Uitgawes Advertensie