Die onderstaande artikel het op 25 Julie 2010 op ons webblad verskyn en is waarskynlik vandag meer belangrik as toe dit verskyn het in 2010, wanneer dit gebruik word om ons volksankers te trek!
25 Julie 2010
“Dink weer APK, en daarmee saam elke ander kerk wat die Afrikanervolk poog te bedien, oor waarmee julle besig is wanneer julle apartheid veroordeel!
In die Junie-uitgawe van Die Boodskapper van die Afrikaanse Protestantse Kerk verskyn ‘n verkorte artikel deur dr Mark Kreitzer oor apartheid. Die oorspronklike artikel het elders verskyn en is vertaal deur Antoine Theron. Die titel daarvan is “Die Tragedie en Hoop van Apartheid SA”.
Reeds by die lees van die inleidende gedeelte in Die Boodskapper word die leser gekonfronteer met woorde soos dat ons nie werklik “onbevange voorraadopname” kan doen oor apartheid nie, weens die gespanne toestand in ons land. Daarom is ‘n buitestaander klaarblyklik in ‘n beter posisie om dit te doen!
Die artikel gee voor om ‘n ewewigtige beoordeling van die apartheidsbeleid weer te gee, maar is, gestroop van al die akademiese jargon, niks anders nie as ‘n skerpe veroordeling van die apartheidsbeleid. Interessant is ook dat die gedeeltes waar apartheid onder die felste kritiek van die skrywer deurloop, uitgelaat is uit die gedeelte wat in Die Boodskapper verskyn het. Hoekom? So word sogenaamde “klein apartheid” as onbybels veroordeel en sommerso as ‘n “menigte burokratiese reëls en regulasies” omskryf wat kwansuis moeilik rym met die Bybelse beginsel van “gelyke beskerming deur die reg”, en wat die “regverdige juridiese raamwerk” wat God se Woord daarstel, oortree.
Volgens Kreitzer het die beleid van etniese geografiese skeiding haalbaar gelyk in die vyftiger- en sestigerjare, maar het die groeiende getal Swartes teen die jare sewentig ‘n skadu daaroor laat val. Die “krisis” vir die tuislandbeleid was dat die hervestiging nie vinnig genoeg kon geskied nie vanweë ‘n anti-Christelike ekonomiese stelsel wat ekonomiese groei in die tuislande gedwarsboom het. Hier bied die skrywer sommer ‘n oplossing ook aan, naamlik dat herafbakening van grense en verlening van volle onafhanklikheid sonder inmenging moes geskied! Die regerende Afrikaners van die Nasionale Party het, so wil die skrywer, aan ‘n geheel onbybelse interpretasie van wat die Skrif oor die aard, rol en funksie van die regering leer, vasgehou, en so die wrange vrugte van hulle sosialisme moes smaak. Meer en meer geld is van “hulle eie mense afgepers” vir die sosiale opheffing van die Afrikaners en daarom het die drukkende skuldgevoel hulle gedryf om ook astronomiese bedrae te spandeer op die sosiale opheffing van die Swart volkere.
Ook met die “visie” van apartheid het die skrywer ‘n probleem. Een van die “groot sondes van apartheid” was dat standaarde naas die Bybel gestel is en pragmatisme algaande as hoogste norm aanvaar is. Afrikaner Calviniste se groot fout was dan dat hulle nie hulle toevlug geneem het tot die Mosaïse wette nie. Dit sou hulle kon lei daartoe om etniese vreemdelinge toe te laat om in hulle “etnies-verbondsmatige uitgebreide familie ingesluit te word in die derde geslag met volle stemreg in die politieke vergaderings, na belydenis van geloof en verbondsgehoorsame vereenselwiging met hulle nuwe wet, God en hulle nuwe taal en volk en toekoms”. Dat dit nie gedoen is nie, is ‘n “gebrek aan Bybelse liefde”, soos wat God se wet vereis!
Dit is vir enige Afrikanernasionalis duidelik dat dit ‘n liberalis is wat hier aan die woord is. ‘n Deurtrapte liberalis daarby. Een gekleed in skaapsklere wat onder behoudende Afrikaners losgelaat word deur die leiers van die AP Kerk. Een wat voorgee tot die Afrikaner se hulp en verdediging kom, maar ‘n aanval op apartheid doen wat ‘n geswore vyand van die Afrikaner nie beter kon doen nie. In die proses word met grootste spul bog en bedrog na vore gekom wat ‘n mense se hare laat regop staan. Ja, ‘n mens het inderdaad ‘n besondere mate van genade nodig om geduldig te bly as sulke twak aan ‘n mens opgedis word.
Baie duidelik het hierdie akademikus geen behoorlike studie van apartheid gemaak nie. Die vraag is of hy enige moeite gedoen het om dr Verwoerd se toesprake te lees of met Jaap Marais gespek te gevoer het oor die saak. Die antwoord is klaarblyklik nee. Dit maak dit moeilik om sinvol oor die saak te debatteer. Hy kan duidelik nie insien dat die blote verwydering van “klein apartheid” onmiddellik die ganse apartheidsbeleid in duie sou laat stort, soos wat dit inderdaad gedoen het na Verwoerd se dood nie. Want gewone logika bepaal dat integrasie op een gebied, noodwendig die “dun ent van die wig sou wees” wat na volle integrasie sou lei.
Was die “nuwe” sportbeleid van John Vortser nie die beste voorbeeld daarvan nie? Hy tref dan ook geen onderskeid tussen die beleid soos deur Verwoerd toegepas, en die beleid soos deur Verwoerd se opvolgers verknoei nie; iets wat vir enige deeglike student van die apartheidsbeleid, opeens duidelik sou wees.
Dr Verwoerd het goed geweet en dit ook prontuit verklaar dat slegs algehele skeiding die aanvanklike diskriminasie wat daar was, sou uitskakel. So verklaar hy in 1961: “deur skeiding ver genoeg te voer, moet diskriminasie uitgeskakel word”. Die vereiste was dat meer apartheid bewerkstellig moes word met die uiteindelike gevolg dat diskriminasie minder sou word. Toe Vorster, Botha en De Klerk daarna “wegbeweeg van diskriminasie”, sonder dat apartheid deurgevoer is, was die resep vir integrasie daargestel en meerderheidsregering ‘n blote formaliteit.
Hoe die opneem van Swartes en Kleurlinge deur ‘n blote “geloofsbelydenis” ons volk se toekoms kon verseker, sal leunstoel-akademici soos hierdie natuurlik nie verklaar nie. En dit is werklik beproewend om steeds aan mense te probeer verduidelik wat die gevolge van so ‘n stap sou wees. Dat dit wel ‘n bastervolk en die ondergang van die Afrikanervolk tot gevolg sou hê, het duidelik by hierdie skrywer verbygegaan. Ook die praktiese uitvoerbaarheid van so ‘n utopia.
Hoe dit in elk geval sou verskil met dit wat ons vandag het, word nie uitgespel nie, maar hierdie nuwe “uitgebreide familie” (van wit, swart en bruin) sou klaarblyklik alle aanslae op hulle kon afweer! Dit is werklik teleurstellend dat die AP Kerk, wat deur goedgelowige lidmate as ‘n bastion teen liberalisme beskou word, nou deur kerklui aan hierdie liberale dogma blootgestel word. Ewe teleurstellend is dat die artikel met klaarblyklike goedkeuring van die AP kerkleiding geplaas is. Vir ingeligte Afrikanernasionaliste is hierdie stap deur die AP kerkleiding egter nie verbasend nie. Talle oud-KP’s het hulle destyds tot die AP Kerk gewend.
Baie van hulle bevind hulle in leiersposisies in hierdie kerk. En hulle was almal John Vorster-dissipels. Ook hulle het – as dit dan nie oor die salaris van volksraadslede gegaan het nie – getwyfel aan die houdbaarheid van die apartheidsbeleid. Daarom het hulle eers vir Vorster en daarna vir PW Botha ondersteun in die aftakeling van die apartheidsbeleid.
Klaarblyklik het die groot afwyking in die Nasionale Party-beleid mos eers in 1982 plaasgevind, of hoe? Dit lê egter op die weg van die derduisende nasionaalgesinde APK-lidmate om hierdie liberale propaganda aan die kaak te stel en hulle misnoë daarmee te kenne te gee. Wat veral nodig is, is prinsipiële weerstand teen hierdie liberale dogma. Want as die liberalis eers vastrapplek in jou kerk gekry het, raak jy moeilik van hom ontslae. Vra maar vir daardie eens behoudende Afrikaanse kerke wat voor die voet in liberale neste omskep is!
Dink weer APK! Moet asseblief nie nóg ‘n gewillige meeloper in die hande van die vyande van ons volk word nie.”
Dit is as gevolg van diésulke liberale teoloë wat ons volk in die mees benouende toestand van ons geskiedenis verkeer!