1 2 3c

Totale besoekerstal

Artikels vertoon Trefslae
9977514

Besoekers aanlyn

Ons het 80 gaste en geen lede aanlyn

 

  Videos en Toesprake

St Helena projek 200

Teken aan

Afrikaner

FORUM VIR DEMOKRASIE VERWERF VIR DIE EERST TWEE SETELS IN DIE ROTTERDAMSE RAAD

RAADSLID MNR NIC REDELINGHUYS: "AS IMMIGRANT IN 'N ANTI-MASSA-IMMIGRASIE PARTY WEET EK DAT OMGEREMDE GASVRYHEID SONDER GRENSE VERNIETIG UITEINDELIK DIE HUIS SELF"

Geagte leser. Ons het die genoeë gehad 'n insiggewende onderhoud in Afrikaans te hê met mnr Nic Redelinghuys wat tydens die gemeenteraadverkiesings van Maart op Woensdag 1 April gekies is as raadslid in die Rotterdamse munisipaliteit. Meneer Redelinghuys kom oorspronkelik uit die Boland regio wat lê in die provinsie van die Wes-Kaap.

2026 04 22 1Vanwee die feit dat hy n Protestantse Christen is vanuit die NG Kerk , het hy die eed afgelê in plaas daarvan om die belofte af te lê. Die nuwe raadslid het gesê dat hy 177 stemme as nommer 2 op die Rotterdamse lys gekry het. Sy kollega mnr. Daan Hamhuis as nommer 1 het met 5011 stemme ingeskryf. Mev. Lidewij de Vos (Partyleier van die party) was op die lys as 'n lysstooter en het 3495 voorkeurstemme gekry. Sy het besluit om haar setel aan mnr Redelingshuys af te staan, en so het hy die raad betree.

In ons voorgesprek beklemtoon hy: 'ek staan in Nederland nie as n buitestaander nie, maar as deel van n geskiedkundige band die oor oseane strek'. Meneer Redelinghuys waarsku dat: "Hy gesien het hoe vinnig 'n land kan val - Nederland en Europa dink nog nie dit kan hier gebeur nie'

Ons het hom onder andere vrae gevra oor die feit dat daar baie christelike raadslede in sowel in as buite die sogenoemde Bijbelbelt gekies is wat sy party verteenwoordig en in munisipaliteite as Staphorst en Kampen (provinsie Overijssel) en Scherpenzeel (provinsie Gelderland) en Urk (provinsie Flevoland) 'n uitstekende verhouding is met die Staatkundige Gereformeerde Party waardeur die Sondagsrus ook deur hul gesteun word.

(Die een foto is waar mnr. Redelinghuys sy eed aflê as nuwe Raadslid. En die ander foto is hy links en mnr. Daan Hamhuis Fraksievoorsitter Forum vir Demokrasie Rotterdam regs)
Beide fotos is deur mnr. Hans Tak geneem.

"Meneer Redelinghuys, ons wil voordat ons met die onderhoud begin, u en u kollega raadslid baie geluk wens en boonal God se rykste seën en Sy wijsheid".

"Baie dankie, meneer Veldman. Dit is ’n groot eer en voorreg om namens ons party en beweging in die raad te mag dien, en ek en ons span gaan ons beste gee vir die Rotterdammers."

"In die inleiding het ons al gelees dat u oorspronkelik vanuit die Boland kom.. Wil uself verder aan ons leserspubliek voorstel?"

"Ja, ek is eintlik ’n Karoo-kind, gebore in Beaufort-Wes, maar ek het vir die grootste deel van my lewe in die Boland-streek gewoon. Ek was van jongs af lief vir geskiedenis, verskillende kulture, lees en kreatiwiteit - veral fotografie, ontwerp en video. Soos ek ouer geword het, het my belangstelling in politiek ook gegroei - plaaslik en internasionaal.
Ek het vir meer as 10 jaar my eie klein bemarkingstudio gehad in Suid-Afrika, waar ek ’n wye verskeidenheid kliënte in verskillende sektore gedien het met hul visuele bemarkings- en kommunikasiedoeleindes."

2026 04 22 2"Hoekom het u besluit om van Suid Afrika na Nederland te emigreer?"

"Dit was ’n baie moeilike besluit om te maak, kan ek jou verseker, maar ek was nog nooit in Europa gewees nie. Ek het ’n begeerte gehad vir ’n nuwe lewensavontuur, nuwe uitdagings en die uitbreiding van my perspektief oor ander dele van die wêreld.
Nog ’n faktor wat ’n rol gespeel het, was die grootskaalse probleme in Suid-Afrika wat niks goeds voorspel het nie. Dit is iets waarmee baie Suid-Afrikaners worstel, en dit veroorsaak dat baie wat kan emigreer dit wel oorweeg.
Dus het ek gedink: kom ek gee dit ’n kans en kyk hoe dit hier is, en wat ek hier kan uitrig. Nederland was ’n logiese keuse, aangesien ons noue bande met die land het vanuit ’n geskiedkundige, kulturele en taalperspektief, maar ook die feit dat my een oupa ’n Nederlander vanuit Rotterdam was.
Hy het ná die Tweede Wêreldoorlog na Suid-Afrika geëmigreer, waar hy ’n nuwe bestaan gemaak het nadat sy stad in die oorlog verwoes is. Ongelukkig het ek hom nooit geken nie, aangesien hy op ’n baie jong ouderdom in Suid-Afrika oorlede is. Ons familie het egter al die jare kontak gehou met sy familie in Nederland en die verhale en foto’s bewaar. Deur hierdie konneksies het ek Rotterdam my nuwe tuiste gemaak toe ek byna sewe jaar gelede na Nederland verhuis het."
“Kan u ons meer vertel oor u familie se geskiedenis en hul historiese verbintenis met Suid-Afrika en Europa?”
"Wel, die eerste Redelinghuys wat na Suid-Afrika geëmigreer het, was ’n Duitse jagter in diens van die VOC wat daar ’n nuwe begin gaan maak het in die Kaap. Van daar af het die familie oor die eeue heen gevestig, floreer en uitgebrei oor die hele Suid-Afrika. Daar is selfs ’n dorp, Redelinghuys langs die Weskus, wat na my familie vernoem is — iets wat vir my ’n besondere trots en verbintenis met daardie geskiedenis simboliseer.
Soortgelyke verhale maak deel uit van baie ou Afrikaanse families wat die stamvaders geword het van vandag se Afrikaners. Die feit dat hierdie mense bereid was om die bekende te verlaat vir die onbekende en die wilde, ongetemde wildernis, sê iets oor die Afrikaner se wese — ’n ou pioniersvolk, gewoond aan uitdagings, swaar tye en deursettingsvermoë. Daarom glo ek bestaan ons klein volkie nog steeds, te midde van ’n vyandige omgewing, met soveel wat teen hulle werk.
Wat vir my besonder interessant is, is die feit dat ons Europese norme, tradisies en innovering saamgebring het na die kontinent, maar dat ons daar geslyp is deur die harde elemente van Afrika en uiteindelik gevorm is tot ’n nuwe volk wat homself met reg as ’n ware Afrikavolk kan beskou.
’n Hibriede volk — anders as die Britse setlaars, die Australiërs of die Portugese in Afrika, wat oor die algemeen ’n nouer band met hul oorspronglande behou het — maar ’n volk wat hier gevorm is, gewortel is en sy eie identiteit ontwikkel het."

"Wanneer het u die plan bedink om by die Forum vir Demokrasie party aan te sluit, en wat was die basis daarvoor?"

"My eerste amptelike posisie in die Europese politiek was om vir die Party vir die Vryheid te werk in die sosiale media-afdeling. Daar was ek deel van mnr. Geert Wilders se span wat sy sosiale media-kommunikasie moes aanvul met visuele ondersteuning van plasings, debatvideo’s en ander reklame, ook tydens die 2021-verkiesing.
Daarna het ek in Brussel gaan werk vir Vlaams Belang in hul sosiale media- sowel as DTP-afdeling. Dit was ’n wonderlike ervaring om meer te kon leer oor die Vlaamse kultuur en geskiedenis, en die liefde en noue bande wat hulle met die Afrikaner het. Dit was ook besonders om die trots en ywer onder die Vlaminge te sien wat hulle vir hul volk en land het. Anders as die Nederlander sit die Vlaming met ’n soortgelyke probleem as die Afrikaner, naamlik dat dit volke is wat ’n land moet deel met ander vyandige of teenwerkende groepe en nie selfstandig oor hulself kan regeer nie. Dit merk ’n mens duidelik in hul nasionalistiese stryd wat hulle voer vir onafhanklikheid en outonomie - dieselfde stryd wat die Afrikaner ook het.
Intussen het Forum voor Democratie in Nederland onder my aandag gekom. Ek het gesien hoe hulle die liefde vir hul kultuur, hul geskiedenis en die vryheid van die Nederlander bevorder en daarvoor stry. FVD is trots op hul Nederlandse geskiedenis en koester ook die bande met die Afrikaner. Ek het besef dat FVD moontlik een van die mees unieke bewegings in Europa is, en dat ek graag my energie en ywer wil bydra tot die party, omdat ek glo dit is die enigste manier om vryheid, trots, onafhanklikheid, veiligheid en n mooie toekoms weer aan Nederlanders terug te gee. Ek het toe lid geword en ’n posisie gekry in die sosiale media- en visuele kommunikasie-afdeling by die party in Den Haag.
Ek was nog nie een oomblik spyt nie, en intussen is ons beweging besig om op alle vlakke te groei. Ek voorsien nog groot dinge vir die party en beweging. Ek is baie trots en geëerd dat ek nou ook as gemeenteraadslid die party kan verteenwoordig in Rotterdam en op ’n plaaslike vlak die belange van die party kan bevorder vir die Rotterdammers."

"Het u geweet dat Forum vir Demokrasie net begin het as 'n Facebookgroep waar besprekings en diskussies kon plaasvind en idees uitgeruil kon word?"
"Ek was nie bewus daarvan dat dit aanvanklik ’n Facebookgroep was nie, maar ek weet dat dit as ’n “think tank” begin het om alternatiewe idees uit te ruil en ’n ander geluid na die publieke debat te bring. Dit is vir my mooi, want dit dui daarop dat FVD nie net ’n politieke party is nie, maar ’n maatskaplike beweging wat in alle vorme van die samelewing ’n invloed kan hê.
Vergelyk FVD byvoorbeeld met die Party vir die Vryheid. Die PVV het geen lede nie, geen byeenkomste, geen lesings, geen boekuitgewery, geen prettige aktiwiteite nie, en ook geen jongerafdeling nie. So ’n party sal op die ou einde uitsterf, terwyl ’n beweging soos FVD gevul word met nuwe bloed, dinamies is en vol energie ook buite die parlement verandering en invloed nastreef".

"Kan ons stel dat u, deur die voorgenoemde party, mense wil waarsku dat 'n reënboognasie nie werk nie of is ons nie reg nie?"

"Suid-Afrika se multikulturele eksperiment is ’n mislukking. Sekere kulture verskil net te veel van mekaar om saam geregeer te kan word of geforseer te word om saam te leef. Sulke vorme van multikulturalisme sal op die ou einde unieke kulture vermeng, wegdryf en/of vernietig.
In Suid-Afrika sien mens duidelik wat gebeur het toe sekere volke minderhede in hul eie historiese gebiede geword het. Ek vrees dieselfde vir die Weste. Die voormalige “high-trust societies” verval, veiligheid neem af, en sosiale ruimtes verander onherkenbaar. Ek kry die gevoel dat lande in die Weste nou min of meer begin voel soos Suid-Afrika in die 1990’s begin voel het. As dit dieselfde pad loop, bloei my hart vir wat hier kan kom. Die Europeër is nie gereed daarvoor nie.
Die hartseer van die saak in die Weste is dat dit nie natuurlik gebeur het nie, maar dat die multikulturele situasie opsetlik deur ideologie en beleid oor dekades heen gevoer is. Europeërs is ’n leuen verkoop deur hul leiers en media.
Ek glo dat elke volk op aarde die Godgegewe reg moet hê om homself te regeer, sy eie grense te hê, sy eie wette in te stel en sy eie volk eerste te stel".

"U het nie tydens die eedaflegging gesê: "Ek verklaar en belowe" nie, maar 'so help my God, die Almagtige. Daar is baie ander raadslede wat vir u party is gekies wat ook so maak. Blykbaar respekteer Forum vir Demokrasie, wat uit 'n verskeidenheid mense bestaan met diverse geloofsoortuigings, dat u dit kan doen. Vir ons is dit nie regtig verbasend nie, maar ons vra hierdie vraag omdat u party dikwels daarvan beskuldig word dat hulle ander opinies nie respekteer nie.Pak ons nou die bul by die horings?"

"Ja, kyk, ons party bestaan inderdaad uit mense met diverse geloofsoortuigings. Daar is baie Christene wat nou in die afsonderlike munisipaliteite sit namens ons party. Forum voor Democratie (FVD) glo nog altyd dat alle munisipaliteite self moet kan beslis oor wat in hul streek mag of kan. Dus, as daar ’n munisipaliteit is waar ons raadslede saamstem met ’n gevoel dat Sondagsrus gehandhaaf moet word, is hulle vry om daarvoor te pleit in die munisipaliteit. Ander streke se verteenwoordigers voel dalk weer anders hieroor, en dit is vir hulle om self daaroor te besluit".

"In baie stede en dorpe het die sogenaamde 'demokratiese partye' by voorbaat besluit om Forum uit te sluit. Is dit ook die geval in Rotterdam?"

"Ja, inderdaad. Volgens my kennis het alle partye, behalwe Leefbaar Rotterdam, by voorbaat gesê hulle wil nie met ons saamwerk nie. Dit sien mens gebeur in Vlaandere (Vlaams Belang), Duitsland (AfD) en ander lande waar partye wat ’n bedreiging vir die huidige sisteem vorm aan die opmars is en sodanig deur die sogenaamde “demokratiese” partye uitgesluit word. Ons staan altyd oop om met ander partye saam te werk en te kyk waar ons raakpunte kan vind om die beste resultate vir ons inwoners te behaal."

"Wat is u belangrikste prioriteite vir u stad?"

"Daar moet gefokus word om totale veiligheid weer terug te bring, want ek voel dit is stadig maar seker besig om negatief te verander hier. Ek wil ook geen nuwe asielsoekersentrums in die stad hê nie - ideaal gesproke geen, maar ja, dit word ’n uitdaging. Die hawe-industrie van Rotterdam moet vry wees om te floreer en normaal sake te kan doen sonder klimaatsbelemmerings, en dit geld ook vir die Rotterdamse lughawe wat oop moet bly. Daar moet ook meer gedoen word om lokale argitektuur, kuns en kultuur te beskerm teen linkse subsidie gedrewe culturele projekte."

"Op Saterdag 3 April het u Vlaanderen besoek om met andere Afrikaners gesels. Kan u wat oor daardie ontmoeting vertel?"

"Ja, ek het ou skoolvriende van my gaan besoek wat vyf jaar gelede na Vlaandere geëmigreer het met hul gesin. Wat merkwaardig is, is dat my vriend nou die besluit geneem het om met sy hele gesin weer terug te trek na Suid-Afrika. Hy het twee dogtertjies en nog ’n seuntjie wat op pad is. Dit is juis om daardie rede - sy kinders se toekoms - dat hy die besluit gemaak het.
Hy is geskok oor die toestande in België en hoe die land daar ook agteruitgaan, en hoe die Vlaminge ’n minderheid in hul stede word. Hy verkies dus om hulle eerder in Suid-Afrika groot te maak, waar jou geld jou nog ’n mate van afstand kan gee tussen verval en veiligheid, en waar ’n man wettiglik makliker sy gesin en eie lewe kan beskerm teen kriminele as in België, waar ’n mens nie eers pepersproei mag besit nie."

"Ons wil nou die hagelike toestand belig waar Suid Afrika hom sedert die 'magsoorname' in bevind. Kan u skets wat u self van daardie onreg ervaar het?"

'Ek kan eerlik sê dat ek en my familie tot dusver met God se genade lig daarvan afgekom het. Almal wat ek ken, was al slagoffers van diefstal - byvoorbeeld, twee van ons motors is al gesteel, daar was twee inbraakpogings by my ouers se huis, en items soos motorradio’s, fietse en selfone is gesteel.
Maar ons almal ken mense wat baie slegter afgekom het van die misdaad in die land - verkragtings en verskriklike moorde. Die verhale is net te erg om hier te deel, en dit is baie hartseer wat met van ons mense gebeur. Dit was nog altyd ’n harde en brutale land, maar tans word daar meer as 20 000 mense per jaar vermoor. Sedert 1994 is daar al meer as 500 000 mense in Suid-Afrika vermoor - erger as baie onlangse oorlogsones.
Maar daar is ook ander probleme. Die verval van infrastruktuur is groot. Sedert 2008 is daar “loadshedding”, waar daar nie genoeg elektrisiteit is vir groot gebiede nie en die elektrisiteit vir ure en selfs dae afgeskakel word. Dit kos die land biljoene rande.
Orals waar die ANC-regering heers (alle provinsies, behalwe die Wes-Kaap), verval paaie, waterwerke, veiligheid, publieke skole en hospitale. Die ANC-regering is een van die wêreld se mees korrupte regerings, en duisende biljoene rande is al uit die staatskas gesteel - geld wat na ontwikkeling, infrastruktuur en veiligheid kon gegaan het.
Dan het ons ook meer rassewette as tydens apartheid. Die groot verskil is net dat die uitwerking daarvan nou die hele land se mense grotendeels benadeel. Beleide soos Black Economic Empowerment (BEE) en Affirmative Action dwing werkgewers om mense of kontrakteurs aan te stel op grond van ras en geslag eerder as meriete. Die rimpel-effekte hiervan is groot: dit lei tot onbevoegdheid, korrupsie en verhoogde kostes.
Al hierdie faktore is maar die punt van die ysberg, maar dit raak ons almal. Dit maak dit moeilik vir blankes en selfs ander groepe om werk te vind, en daarom het baie van ons entrepreneurs geword. Maar selfs dan is dit moeilik om vooruit te kom.
Tog moet ’n mens jou hoed afhaal vir ons volk wat, ten spyte van al hierdie ondenkbare teenslae, steeds relatief welvarend bly as ’n minderheid. Ek glo dit is ons vertroue in God en liefde vir ons kultuur en geskiedenis wat ’n groot rol speel in ons voortbestaan."

"Ja ons kan 100 persent saam stem. Wat is u mening oor die feit dat FW de Klerk in 1992 die oproep gedoen het om die mag te deel, dog dat hier dadels van gekom het en die land sedertdien in die afgrond in gedryf word?"

"Ek is van mening dat F.W. de Klerk en ander rolspelers in die politiek en media die blanke bevolking gerusgestel het met sekere aannames en verwagtinge oor die toekoms van Suid-Afrika ná die oorgang na demokrasie. Daar was ’n sterk klem op die idee van die sogenaamde “Reënboognasie”, waarin verskillende kulture en gemeenskappe vreedsaam sou saamleef.
In die praktyk het dit egter geblyk dat die kompleksiteit van so ’n oorgang moontlik onderskat is. Die groot verskille tussen gemeenskappe, sowel as die uitdagings rondom sosiale en ekonomiese integrasie, het groter geblyk te wees as wat aanvanklik voorgehou is. Daar kan ook geargumenteer word dat daar nie voldoende meganismes in plek gestel is om minderheidsregte effektief te beskerm binne ’n nuwe demokratiese bestel nie.
Ten slotte kan ’n mens redeneer dat sommige leiers moontlik te optimisties of selfs naïef was oor hoe glad die oorgang sou verloop, terwyl ander dalk doelbewus ’n valse narratief bevorder het om die proses te ondersteun".

"In die verlede is twee mosies van die Party vir die Vryheid wat ondersteun is deur die Staatkundige Gereformeerde Party en die ChristenUnie, wat stel dat die Plaasmoorde net blankes teiken deur die toenmalige minister van Buitenlandse Betrekkings Frans Timmermans ontraad. As die indiener van daardie mosie mnr Raymond de Roon het verklaar dat hierdie misdade ook swartes getref het, was die mosie aangeneem. Wat sê dit oor die voormalige minister?"

"Ja, kyk, ek sien Timmermans nie as ’n vriend van die Afrikaner, die Nederlander of die Europeër nie. Dus is ek nie verbaas nie. Die tipe ideologie waaraan hy en sy party aanhang, pas in by ’n realiteit waarin blankes alleen as die daders uitgebeeld word en die nie-blanke as die ewige slagoffer".

"Voordat ons wil afsluit, wil ons u die geleentheid gegee om ons lesers vir oulaas toe te spreek nie. Wat wil u vir hulle sê?"

"Nederlanders en Vlaminge, wees trots op julle ryke geskiedenis - ’n erfenis wat oor eeue heen opgebou is met opoffering, geloof en volharding. Koester dit. Moet nooit julle kultuur, welvaart, veiligheid en toekoms as vanselfsprekend aanvaar nie, want dit kan in ’n oogwink verdwyn. Dit het in Suid-Afrika gebeur, en dit kan ook hier gebeur indien die huidige tendens voortduur.
Maar selfs in tye van onsekerheid bly daar hoop. As hoop nie bestaan het nie, sou ons lankal opgegee het. Die wiel van geskiedenis staan nooit stil nie - en stadig maar seker begin dit weer draai. Daarom moet ons leer uit die foute van vorige generasies wat mislei is deur die spreekbuise van hul tyd.
Ons is almal deel van dieselfde groter stryd - van die Duitser tot die Afrikaner, die Sweed, die Brit, die Vlaming en die Nederlander. Jy hoef nie ’n politikus te wees om ’n verskil te maak nie. Ware verandering begin naby - in jou eie lewe, jou eie gemeenskap.
Onthou dit: jou eie volk is die kosbaarste besitting wat jy het. Koester dit - beskerm dit - en bou dit met oorgawe vir die geslagte wat nog kom".

"Ons wil u opreg dankie sê vir u tyd en wens u en u mede-raadslid God se ryke seën en Sy wysheid toe om julle belangrike werk uit te voer".

"Groot plesier en dankie vir die geleentheid om my storie te kan vertel".

Kyk ook by: https://www.facebook.com/profile.php?id=100077922464589

 

 

 s1

 d1

 sw1

 v1

Haat Spraak  

 

Volkstem Vorige Uitgawes Advertensie