1 2 3c

Totale besoekerstal

Artikels vertoon Trefslae
7441624

Besoekers aanlyn

Ons het 20 gaste en geen lede aanlyn

 

  Videos en Toesprake

St Helena projek 200

Teken aan

Afrikaner

STILLE HOOP

BybelKlaagliedere 3:1-66

“Dit is goed om in stilheid te hoop op die hulp van die HERE.” (:26).

Die lewe is vir ons menigmaal raaiselagtig. Dinge in die lewe kan vir ons soms so ooglopend verkeerd lyk. Daar gebeur dinge in die lewe wat ons geensins kan verstaan en soms ook nie kan verklaar nie. Dit kan dan ons gemoed met soveel vrae vul.

Die skrywer van die boek Klaagliedere was niemand anders as Jeremia nie. Dit laat ‘n mens verstom om te dink dat die man van wie ‘n mens lees in Jeremia 1 wat spesiaal deur God geroep is as Sy dienskneg in Klaagliedere hierdie wanhopige woorde kan uitroep – “My het Hy gelei en laat wandel in duisternis sonder lig. Ja, altyd weer draai Hy die hele dag sy hand teen my. Al skreeu ek ook en al roep ek om hulp, Hy laat my gebed onverhoord.” (:2,3&8). Hoe gebeur dit dat God wat vir Jeremia verseker dat Hy hom geken het nog voor sy geboorte en dat Hy vir hom wat Jeremia is, afgesonder het as Sy dienskneg, soveel ellende kan laat ervaar? “Voordat Ek jou in die moederskoot gevorm het, het Ek jou geken; en voordat jy uit die liggaam voortgekom het, het Ek jou geheilig; Ek het jou tot ‘n profeet vir die nasies gemaak.” (Jer. 1:5).

Daar is natuurlik menig antwoorde op hierdie vraag, maar een van hulle is natuurlik dat God ‘n soewereine God is wat met elke geskape wese kan maak soos wat Hy dit goed dink. Beteken dit dat Hy ‘n liefdelose God is wat daarvan hou as mense swaarkry? Allermins is dit die geval, want net soos wat daar baie klaagliedere en gebede van versugting in die Woord van God opgeteken is, is daar ook menig lofgesange en dankgebede wat van God se goedheid en barmhartigheid getuig.

Een van die redes waarom God beproewing oor die gelowige se lewenspad bring, is natuurlik om ons te herinner aan ons afhanklikheid van Hom. Beproewing in die lewe laat ons opnuut besef dat daar sekere dinge in die lewe is wat buite ons beheer is en waarvoor ons vir God nodig het. Ons voel soms baie suksesvol, baie slim, baie magtig en dan maak daardie onverwagse beproewing in ons lewenspad sy verskyning. Dit is dan wanneer ons weer besef hoe nodig ons God in ons lewens het. Dit is dan wanneer ons opnuut ons afhanklikheid van Hom besef en bely dat ons Hom graag deel van ons lewens wil hê, want ons weet dat ons nie sonder Hom kan leef nie.

God is vir ons ‘n barmhartige Vader wat graag wil hê dat ons in diepe ootmoed voor Sy Aangesig sal leef. Wanneer ons in diepe ootmoed en afhanklikheid voor Hom leef, sal ons Hom ook met ‘n opregte hart liefhê aangesien ons deurgaans bewus van en dankbaar vir Sy wonderlike versorging en troue barmhartigheid sal wees. Die wyse koning van Israel gee aan ons die raad dat ons God nie maar net in die onmoontlike omstandighede en beproewing moet ken nie, maar in alles wat ons aanpak in die lewe omdat Hy die Een is wat ons heil bewerk en ons lewenspad vir ons gelyk maak. “Vertrou op die HERE met jou hele hart en steun nie op jou eie insig nie. Ken Hom in al jou weë, dan sal Hý jou paaie gelykmaak.” (Spr. 3:5&6).

Dit is soms vir die gelowige nodig om terug te staan in sy eie lewe om God toe te laat om beheer te neem van daardie dinge wat buite sy beheer is. Ons dink maar aan die volk Israel wat uit Egipteland getrek het en op hul reis spreekwoordelik tussen die duiwel en die diep blou see beland het. Dit was natuurlik die leër van die Egiptenare wat aan die eenkant gedreig het en die magtige waters van die Rooi See wat hulle aan die anderkant in benoudheid gebring het. Dit was in hierdie benoude situasie dat God die volk beveel het om Hom toe te laat om vir hulle te stry terwyl hulle hulself stil moet gedra. “Die HERE sal vir julle stry, en julle moet stil wees.” (Ex. 14:14). Die stryd het ontvou met die magtige waters van die Rooi See wat agteruitgewyk het op God se bevel en ook gebruik is as instrument om die ganse Egiptiese leërmag te verdelg wat dit gewaag het om teen die Almagtige God in die stryd te tree.

In teenstelling met hierdie gesindheid van geloof in God se hulp, redding en versorging, staan die humanistiese lewensbeskouing dat die mens homself op allerhande wyse moet bemagtig om onafhanklik van God te kan leef. Hierdie is ‘n verskriklike gevaarlike siening wat parallel loop met die siening wat gehuldig is in die oprigting van die toring van Babel wat ‘n opstand teen God se heerskappy was.

Ons as gelowige moet derhalwe opnuut besef dat God nie liefdeloos is wanneer allerhande beproewinge ons lewenspad kruis nie, inteendeel. Dit is juis omdat Hy nie wil hê dat ons van ons afhanklikheid van Hom sal vergeet nie. Dit maak dalk nie vir die wêreld sin nie, maar elke ware gelowige sal vanoggend verstaan wanneer ek vir u sê om te onthou dat wanneer ons op ons swakste is, is ons op ons sterkste. Onthou, in stilwees en vertroue lê ons krag. “Want so sê die Here HERE, die Heilige van Israel: In terugkeer en rus lê julle heil, in stil wees en vertroue bestaan julle krag;…” (Jes. 30:15).

 s1

 d1

 sw1

 v1

Haat Spraak  

 

Volkstem Vorige Uitgawes Advertensie