1 2 3c

Totale besoekerstal

Artikels vertoon Trefslae
7446638

Besoekers aanlyn

Ons het 199 gaste en geen lede aanlyn

 

  Videos en Toesprake

St Helena projek 200

Teken aan

Afrikaner

DEURGROND MY, O GOD!

BybelPsalm 139:1-24

“Deurgrond my, o God, en ken my hart; toets my en ken my gedagtes; en kyk of daar by my ‘n weg is van smart, en lei my op die ewige weg!” (:23&24).

Ons weet dat koning Dawid ‘n besondere man in God se oë was.  Ons leer uit die Psalms wat Dawid geskryf het dat hy weliswaar ‘n besonder noue verhouding met God gehad het.  Daar was egter ‘n eienskap van Dawid wat hom, soos menig ander geloofshelde, laat uitstaan het bo sy tydgenote.  Hierdie eienskap was natuurlik die opregtheid waarmee hy God gedien en liefgehad het.

Ons lees in Génesis 6:9 van Noag wat ook ‘n opregte man was.  “…Noag was ‘n regverdige, opregte man onder sy tydgenote. …”  Hierdie selfde eienskap was ook in Job se karakter duidelik waarneembaar en dit het God klaarblyklik behaag wanneer ons kyk met watter behaaglikheid Hy hierna verwys in Job 1:8:”En die HERE vra vir die Satan: Het jy ag gegee op my kneg Job? Want daar is niemand op die aarde soos hy nie: ‘n man vroom en opreg, godvresend en wat afwyk van die kwaad.”

Ek wonder hoeveel mense in vandag se lewe nog ag gee daarop om opreg te wees in hul lewens?  Ons lewe in ‘n wêreld van soveel nagebootste dinge waarin mense die heeltyd ‘n front probeer voorhou ten einde ‘n bepaalde posisie en status te behou.  Dit is hierdie voortdurende front wat mense moet voorhou wat hulle so geestelik afmat dat hulle feitlik alle lewenslus verloor en ophou om te lewe en maar net ‘n bestaan van dag-tot-dag begin voer.  

Dit is vir gelowiges baie belangrik om daadwerklik ag te gee aan opregtheid in ons lewens.  As kinders van die lewende God moet ons daarna streef om opreg te wees teenoor ander mense, maar ook teenoor God.  Dit is wanneer ons opreg is met God dat ons ook met vrymoedigheid tot Sy troon kan nader in ons gebede.  Dit is met opregtheid wat ons ons swakhede voor Hom moet bely, ons hartseer in Sy Hande moet plaas en ons vrese en probleme met Hom moet deel.  

Daar is soveel mense wat fyn opgevoed is en baie “christelik” voorkom in hul lewens terwyl hulle God nie waarlik ken nie.  Daar is soveel mense wat godsdienstig is, maar ‘n ware verhouding met hulle Verlosser is nie ‘n realiteit in hul lewens nie.  God wil nie hê dat ons  bloot maar godsdienstig moet wees nie, maar dat ons Hom in opregtheid moet dien met ons hele hart, siel en verstand.  Hy verwag dat ons geloofsverhouding nie ‘n aangeleerde gewoonte sal wees nie, maar ‘n lewende en opregte verhouding, want Hy is ‘n lewende God!

Dit is wanneer ons opreg is in ons verhouding met God dat ons nie die verkeerde in ons lewens probeer miskyk en verberg nie, maar dit eerder in nederigheid voor God bring ten einde die verkeerde in ons lewens te oorwin.  Dit was met opregtheid dat Dawid sy skuld van owerspel voor God bely het en ook laat staan het en derhalwe vergifnis daarvoor kon ontvang!  Dawid het nie sy sonde bely omdat hy bang was dat hy sy aansien of koningskap sou verloor nie, maar omdat hy opreg bedroef was dat hy God teleurgestel het in sy lewe.  Ek en u is ook veronderstel om uit dankbaarheid vir die verlossing wat ons reeds ontvang het deur die Soenbloed van Jesus Christus ons swakhede voor Hom te bely en te laat staan omdat ons Hom nie wil bedroef of teleurstel in ons lewens nie.Hoeveel mense is maar net godsdienstig in die hoop om iets van God te ontvang?  Hoeveel mense dien God maar net uit vrees dat slegte dinge met hulle sal gebeur indien hulle nie kerk toe gaan nie?  Wanneer ons ‘n skynheilige lewe leef, verloor ons die vrymoedigheid om met God te praat deur gebed.  Dit laat by ‘n mens ‘n skuldgevoel ontstaan en vervreem jou derhalwe van God indien jy nie daadwerklik daaraan aandag skenk nie.

Dit is dalk nodig dat ek en u ook opnuut stilraak vanoggend en peins oor hoe opreg ons werklik met God in ons lewens is?  Onthou, dit is nie nodig om u swakhede en sondes vir Hom te probeer wegsteek nie, want laasgenoemde is in alle geval nie moontlik nie.  Daar is selfs nie eers ‘n gedagte wat vir Hom verborge is nie.  “U ken my sit en my opstaan; U verstaan van ver my gedagte.  U deurvors my gaan en my lê, en U is met al my weë goed bekend.  Want daar is nog geen woord op my tong nie – of U, HERE, U ken dit geheel en al.”  (:2-4).

Die vraag is dan ook of ek in opregtheid God wil gehoorsaam?  Sal ek ook selfondersoek in my lewe instel ten einde die dinge wat Hom mishaag te laat staan?  Kan ek en u ook met ‘n opregte hart vanoggend vir God uitnooi om in ons lewens ondersoek in te stel om ons harte en gedagtes te deursoek en te toets ten einde Hom toe te laat om ons op die ewige weg te lei?

 s1

 d1

 sw1

 v1

Haat Spraak  

 

Volkstem Vorige Uitgawes Advertensie