‘n OORLOG SONDER KOEËLS
INLEIDING
Dit was mnr. Jaap Marais wat gesê het dat politiek ‘n oorlog sonder koeëls is. Hy het verder ook gesê dat politiek die kroonrat van ‘n samelewing is. Politiek is in die volkshuishouding en veral in die vorming en beheer van die maatskaplike orde, onontbeerlik. Individue, organisasies en bewegings het oor ’n lang termyn die Afrikanervolk polities ondergrawe en hoewel ons skade gely het aan nasionalisme, was dit die politieke leiers wat ons volk uiteindelik polities ontman het en is dit die politiek van die dag wat besig is om ons en alles om ons te vernietig! Dit is tog die politieke terrein waarop die volk se stryd om sy lewensbelang besleg word. U het langs dié weg, waar daar uit eie geledere sonder koeëls téén Afrikanerbelange gewerk is deur die Afrikanervyandige oogmerke van ons vyande te bevorder, beleef hoe die De Klerk-regering se politieke verraad as gevolg daarvan kon slaag en die kroonrat se tande gestroop het! Met daardie veldslag teen ons gewen, moet ons nou besin. Was hulle reg en ons verkeerd. Moet ons nou aanvaar dat ons heil lê in die saamwerk om ‘n reënboognasie te wees, ‘n identiteitversakende Suid Afrikaner word? Sou ons kon saamstem met die res van die wêreld dat afsonderlikheid onbybels en rassisties is? Was dit die Afrikanervolk se roeping om die land na eeue van beskawingstryd, met ander en veral ongelowige en onbeskaafde barbaarse swart volke te deel op gelyke vlak en alles wat ons voorsate opgebou het toe te vertrou aan die noodwendige swart meerderheid se politieke onvermoë?
U ken tog self al die verskillende terreine waarop die Afrikanervolk sedert die sluipmoord op dr. Verwoerd ongevalle gely het, omdat uself in die voorste linies staan waar die oorlog nou nog woed. En u voel magteloos omdat u skade ly en u uself nie kan verweer nie. U sien die verwoesting, u ervaar die verwonding maar die wapen om uself te verweer ontbreek terwyl die skote wat rondom ons klap sonder koeëls is, maar tog dodelik, vernietigend, afbrekend en selfs satanies geïnspireerd is.!
FRONTE WAAR ONS GEDIEN EN TOG SKADE GELY HET.
KERK: U het ‘n kerk help bou, daarin gedien, as lidmaat moes u toesien hoe afwyking van die waarheid van die Woord dit verdeel en verskeur om aan die eise van die wêreld dienstig te word.
SKOOL: U was by die skoolkomitee, beheerliggaam en skoolaktiwiteite betrokke terwille van die opvoeding en onderrig van u kinders. Die modelle A, B en C moes u deurworstel en ten spyte van die “wigte en teëwigte” sien hoe u kinders se opvoedings-en-onderrigplek oorstroom, veragter en besoedel word met leerinhoude wat volksvreemd en Godloos op hulle afgedwing word, meesal met tekort van boeke en bekwame opvoeders, maar met oormaat van uitkomsgebaseerde voorbehoedmiddels.
TAAL: U is blootgestel daar waar u moedertaal verdring, verkleineer en uitfaseer word op feitlik elke bekende en onbekende lewensterrein in al nege nuutgeskepte korrupsieterreine wat die vier vorige provinsies vervang het.
GESONDHEIDSDIENSTE: Het u nie al in stinkende lang rye moes sit en ‘n beurt afwag in die hospitaal, opgerig met u belastings en wat eens flink en effektief na u kon omsien terwyl u of van u geliefdes ernstig siek was nie?
INFRASTRUKTUUR: Terwyl u jaar vir jaar belasting betaal vir die instandhouding van paaie en ander infrastruktuur, beleef u nie hoe dit nogtans daagliks tot niet gaan terwyl u belastings steeds net opgaan nie? Wat van KRAG en WATERVOORSIENING? Gereelde onderbrekings en ongeskik vir menslike gebruik vanweë swak of selfs geen beplanning en instandhouding!
WERK: Het u al tevergeefs, omdat u wit is, by ‘n instelling vir werk aangeklop om vir sekuriteit en finansiële versorging van u gesin voorsiening te maak? In kort, is daar ‘n énkele lewensterrein waaraan u kan dink waar u nie gekwes en gekneus word sonder koeëls nie, so asof die misdaad waar daar wel koeëls teen u gebruik word nie genoeg is nie? Misdaadsyfers wat selfs die onbekwame en onvermoënde polisiediens se statistiek aandui dat dit buite beheer is en daagliks toeneem?
EENSYDIGE OORLOG VAN LAE INTENSITEIT
Eensydig omdat net óns die risiko loop om verwond te raak terwyl die vyand sarsie vir sarsie op ons afvuur sonder vrees vir vergelding, want ons vuur nie terug nie. Ons verdedig nie onsself nie. Ons bedink geen strategie nie en dwaal bloot agter diegene aan wat die simptome van die oorlog probeer teëgaan op die vyand se voorwaardes en met die wapen wat die vyand gekies het en op die terrein wat die vyand uitgesoek het. Die sekerste manier om die oorlog wat nou daagliks in intensiteit toeneem, finaal te verloor!
Laat ons dan net vandag eers oor een ding saamstem, ongeag die omstandigheid, ongeag die wêreld mening en ongeag die vyand se uitsprake: Hiérdie land is óns land, dit is Afrikanerland uit God se hand, en ons sal stry totdat ons weer regmatig in beheer daarvan gekom het! Daarvoor is allereers die wil om te stry noodsaaklik. Daarnaas die vaste vertroue dat ons saak reg is en die aanvaarding van die bewys uit die geskiedenis dat slegs die handhawing van elke volk se identiteit, eerder as die prysgawe daarvan blywende en saambindende waarde het. Iets wat nog nêrens in die wêreld ‘n waarborg was vir onderlinge vrede en samewerking tussen volke, is die vermenging van rasse wat tot die onomkeerbaarheid van verbastering en onvergenoegdheid lei.
As daar ‘n voorbeeld van hierdie stelling gesoek moet word, het u nie nodig om op enige ander plek te gaan soek as die voorbeeld van die afgelope 21 jaar se verloop in Suid Afrika nie! ‘n Verloop wat sedert 1948 beredeneer, verduidelik, toegepas en oor en oor gedebatteer is. Die waarskuwings oor wat die gevolg van die teenhang van afsonderlike ontwikkeling sou wees, het desondanks al die versekerings dat vrede en voorspoed vir ons wag in die nuwe “democrasy”, asof ons nooit een gehad het nie, in naakte en aaklige detail ontplooi voor ons en die res van die wêreld se oë die afgelope 21 jaar.
OORLOG SONDER KOEËLS
Die Afrikanervolk is nie en was nog nooit ‘n oorlogsugtige volk nie. Ons het egter nog nooit daarvan weggeskram om onsself tot die dood toe te verdedig, al was die oormag hoe groot. Ons geloof in God was nog altyd die krag wat ons deurgedra het. Daar word baie gevra waarom ons nie in opstand gekom het teen die ongelooflike onreg wat ons in die mees benouende posisie in ons ganse volk se geskiedenis laat beland het nie.
Die antwoord daarop is baie kort. Daar is van die Afrikanervolk se goedertrou misbruik gemaak deur ontroue Afrikaners en deur naakte verraad is ons soos skape deur ‘n Judasbok, geleidelik en ongemerk ter slagting gelei. Dit is egter water onder die brug deur. Die vraag wat nou beantwoord moet word, is hoe keer ons die posisie om? Wat is die ontwykende antwoord op hierdie tergende vraag?
Ek wil u nie nou deur die hele verraderlike geskiedenis van oorgawe vat nie, maar dit is noodsaaklik om te weet waar om te begin. Nadat al die pogings van die opstook van onrus, bomontploffings, linkse propaganda tot ‘n hoogtepunt gevoer is met Harold McMillan se “Winds of Change” toespraak, wat alles deur dr. Verwoerd meesterlik hanteer is, ons die hofsaak oor Suidwes Afrika in Den Haag oortuigend gewen het, was die vyande raadop en het die eerste aanslag op dr. Verwoerd deur David Pratt begin en is hy op 6 September 1966 deur Tsafendas vermoor. Daardie handeling het die deur geopen na die swakkere opvolgers wat direk na sy dood met beleidsveranderinge begin en gelei het tot waar ons vandag is. Die vyand se strategie was goed beplande en aanhoudende aksies, met die moord op dr. Verwoerd as plan B. Daarna geweldige druk vir verandering op sportgebied, kerkbeleid en gelykstelling van rasse op elke lewensterrein. Dr. Albert Hertzog se waarskuwing oor beeldradiouitsendings word in die wind geslaan en dit, saam met sport en vermaaklikheid, word dié instrumente vir brugbou tussen rasse en van hoë morele standaarde na feitlik openlike pornografie.
GOD UIT DIE GRONDWET
In Persone en Familiereg van J.D. vd. Vywer en Joubert, bladsy 402, was ons vroeg reeds gewaarsku dat daar in die 1983 Grondwet, in teenstelling met die Grondwet van 1961, statutêre bepalings met ‘n godsdienstige grondslag bestaan wat ‘n bepaalde neutraliteit ten opsigte van verskillende gelowe en geloofsverskille handhaaf. God is dus 23 jaar na die moord op dr. Verwoerd, uit die grondwet verwyder en met ‘n potpouriegod vervang! ‘n Siedende oorlog sonder koeëls op ons aangelê wat die Afrikaner se fondasie onder ons uitgeruk het! Feitlik heeltemal gestroop van infrastruktuur, die afdanking van die konserwatiewe generaals, suiwering van die totale weermag en die polisie deur F.W.de Klerk , wegdoen met kernkrag ontwikkeling by Pelindaba, die gekaapte Afrikanerfront en die BKA deur Constand Viljoen, is ons mense so gedemoraliseer deur die Bophuthatswana inval en die omstrede Boeremagsaak, sodat militêre opstand feitlik in die ban gedoen is.
SONDER WAPENS?
Dit beteken egter nie dat ons totaal sonder wapens is nie, inteendeel! Ons sal egter net eers weer moet klarigheid kry oor ons roeping as gelowige volk in Afrika. Waarom is ons hier en wie is ons vyande? Bedoel vir ‘n lewe wat God verheerlik, het die mens sy bestemming gemis en is hy diensbaar aan die magte van die duisternis. Hierdeur word kommer, angs en pyn sy deel. Menslike lewe is egter ‘n onsterflike saad. Saad, my volksgenoot, bring vrugte voort vir goed of vir kwaad tot aan die einde van alle dinge. Hoe ontsettend ernstig maak hierdie feit óns kortstondige lewe! Want daarin lê onder andere ook opgesluit die bepaling van die lotgevalle van hulle wat na ons kom, soos dit wat óns nou beleef in ‘n Godlose bestel, as gevolg van die vrugte van hulle wat na dr. Verwoerd gelei het.
HOEKOM NIE EENDRAGTIGHEID NIE?
Het die vraag al by u opgekom oor waarom ons sedert die NP-skeuring in 1969 nog glad nie daarin kon slaag om die Afrikanervolk in verset op te vorder teen dit wat ons kon sien besig is om verkeerd te loop nie? Slaag ons tot vandag toe nie daarin nie?
Laat ons dan vandag ook besin oor die vrugte wat óns dra. Hoe sal dit hulle wat ná ons kom se lotgevalle beïnvloed? Belangriker nog, indien ons begryp dat ons lewens bedoel is om God te verheerlik deur die vrugte wat ons voortbring, hoe beïnvloed dit ons lewens hier en nou? Wanneer ons onsself agter leiers groepeer, het ons eers vasgestel hoe die vrugte lyk wat húlle voortbring in terme van die verheerliking van en gehoorsaamheid aan God? Verstaan die leiers agter wie ons ons skaar wat dit beteken as daar in Efésiërs gemaan word: “Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug”? Verstaan hulle wel dat daar twee koninkryke bestaan, wat voordat enigeen van ons geslagte se saad in Suid Afrika gesaai is, in ‘n geestelike oorlog met mekaar gewikkel is? Wat meer is, dat elkeen van ons in een van hierdie twee koninkryke figureer en dus in ‘n staat van oorlog teenoor die ander koninkryk verkeer?
Hierdie twee koninkryke, die Koninkryk van God en die koninkryk van Satan wat in ‘n geestelike oorlog sonder koeëls teenoor mekaar staan, maar wat ook sy vleeslike soldate in die vorm van geskape mense het, beïnvloed wêreldgebeure om ons, maar beïnvloed ook elkeen van ons se persoonlike lewe, ons huwelike, ons gesinslewe, ons familielewe en uiteindelik ook ons volkslewe! Dit is waarom Jesus vir die Fariseërs in Mattéüs 12:25 se: “Elke koninkryk wat teen homself verdeeld is, word verwoes; en elke stad of huis wat teen homself verdeeld is, sal nie bly staan nie.”
Voorsitter, is ons huis verdeeld? As hy nie was nie, hoekom is ons “Afrikanerkoninkryk” dan verwoes? Waarin moet leiers dan nou leiding gee as verdeeldheid ontstaan het omdat ons tussen die twee koninkryke verdeeld geraak het, anders as om húlle bymekaar te maak wat uit innerlike (geestelike) oortuiging bymekaar hoort en diégene af te wys wat deur Satan se skepping van grysgebiede alreeds in sy weermag figureer sonder die besef dat hulle dwaal? II KORINTHIËRS 6:14-18 Moenie in dieselfde juk trek saam met ongelowiges nie, want watter deelgenootskap het die geregtigheid met die ongeregtigheid, en watter gemeenskap het die lig met die duisternis? En watter ooreenstemming het Christus met Bélial, of watter aandeel het die gelowige met die ongelowige? Of watter ooreenkoms het die tempel van God met die afgode? Want julle is die tempel van die lewende God, soos God gespreek het: Ek sal in hulle woon en onder hulle wandel, en Ek sal hulle God wees, en hulle sal vir My ’n volk wees. Daarom, gaan onder hulle uit en sonder julle af, spreek die Here; en raak nie aan wat onrein is nie, en Ek sal julle aanneem; en Ek sal vir julle ’n Vader wees, en julle sal vir My seuns en dogters wees, spreek die Here, die Almagtige. Is dit hoe dit nou met ons gaan, voorsitter? Is ons werklik sy tempel of ly ons onder die aanslag van Satan se troepe? Kry die woorde van dr. D.F. Malan wat maan dat diegene wat uit innerlike oortuiging bymekaar gebring moet word, nie opnuut nuwe betekenis as wêreldgebeure en onbestendigheid in ons eie land bedink word nie?
Dít was die vrugte wat ons voorvaders sedert 1652 gedra en waarvan ons die dankbare erfgename was. Voorspoed en vooruitgang het gevolg uit die stryd wat ons gehad het om Suid Afrika as jong volk uit die wildernis te ontworstel, terwyl die eer van God en ons geloof in Jesus Christus vooropgestel was en die eer daarvoor aan Hom toegesê was. Dié saad het egter gaandeweg verdroog en is deur die eise van die Internasionale Wêreld en swak leiers besoedel en verdring en die vrugte wat daaruit voortgekom het, nl. Magsdeling, saamtrek in dieselfde juk met die ongelowige, is waarvan ons vandag die voorspelde gevolge beleef.
KOM, LAAT ONS DAN NOU ONSSELF OPNUUT BEWAPEN!
Die regte wapens kan egter net vir die regte redes gekies en opgeneem word indien ons ons vyande ken. In die boek Daniel verskyn daar ‘n vergelykbare verhaal met dit wat ons Afrikanervolk vandag beleef. Soos ons was Israel die gevangenes van ‘n ongelowige volk. Daniel het vir drie weke gevas en gebid en ingetree vir sy volk. Die gebeure wat op sy handeling gevolg het, is vir ons begrip van die wapens wat ons benodig in hierdie oorlog sonder koeëls, onontbeerlik! Dit werp ook lig oor waarom kerk en staat, kultuur en opvoedkundige leiers handomkeer gemaak het in terme van beginsel en beleid wat beproef en suksesvol bedryf was, en dit verruil het vir dit wat ons almal geweet het en voor gewaarsku was dat dit nie kan en nie sal werk nie.
Die engel Gabriel besoek Daniel en verduidelik dat vandat dit in sy hart opgekom het om hom voor God te verootmoedig, was sy woorde gehoor en het God hom wat Gabriel is gestuur om sy gebed te verhoor. Wat egter ons aandag ontglip is dat die Meders en Perse in daardie tyd die beheer by Nebukadnesar oorgeneem het. Gabriel verduidelik aan Daniel dat hy vir 21 dae deur die Prins van Persie gekonfronteer was en dat die engel van Israel, nl. Michael hom moes kom help. Hy verduidelik ook verder in verse 20 en 21 van Daniel 10: 20, Toe sê hy: Weet jy waarom ek na jou gekom het? Ek moet dan nou teruggaan om te veg met die vors van die Perse; en as ek heengegaan het, kyk, dan kom die vors van Griekeland.
21 Nogtans sal ek jou te kenne gee wat geskrywe is in die boek van die waarheid; en daar is nie een wat hom saam met my dapper gedra teen hulle nie, behalwe julle vors Mígael.
Wat ons hier lees is nie blote teorie nie maar ‘n bewys dat daar Sataniese magte is wat oor elke volk figureer en geestelik in stryd is teen God se magte wat waak oor SY volgelinge. As Paulus in Efesiërs 6:12 skryf: ”Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug,” was dit al nagenoeg dertig jaar na die kruisiging, opstanding en hemelvaart van Christus. Dit dui onteenseglik daarop dat wat die organisatoriese samestelling van Satan se koninkryk ookal was voordat Jesus gebore is, het Sy Kruisiging, opstanding en hemelvaart niks daaraan verander nie, behalwe dat ons nou reg bewapen kan word mits ons binne God se koninkryk bly. Dit plaas ook ons perspektief oor wêreldgebeure in ‘n ander lig as die blote gewoel van volkere en nasies.
Die engel het verwys na Griekeland, want na die Persiese ryk, sou die Grieke oorneem. In Daniel 11:1 verwys die engel daarna dat hy Darius die Meder moes versterk. Hier tree die engel op om ‘n ongelowige koning en sy magte te versterk omdat God Darius gebruik het om die Babiloniërs te verslaan sodat Israel bevry kon word om terug te keer na hulle land. Dit is dus duidelik dat daar ‘n voortdurende, vir ons onsigbare geestelike oorlog aan die gang is wat lotsbepalend is vir volkere en nasies, maar ook vir families, gesinne en persone. Die saak wat ons moet uitmaak, is in wie se koninkryk is ek ‘n soldaat en kyk ek slegs horisontaal na gebeure rondom my en soek ek derhalwe die oplossings slegs uit menslike perspektief en eie krag? Verder, vriende, hoe lyk mý wapenuitrusting? RPG 7’S, R4e, handgranate, tenks, mortiere? Is dit al wat tel en belangriker, is dit genoegsaam?
Daar is volkere en nasies met formidabele wapentuig waarmee oorlog teen ander gemaak of afgeweer kan word. Dit is egter slégs die Christendom wat deur God self bewapen is vir die geestelike oorlog wat woed terwyl ek hier met u praat en wat alles te maak het met ons lotsbestemming. Wat meer is, wat ons instaat stel om in te gryp in die planne van die Satansmagte soos in die geval van Daniel, terwyl ons gedink het dat ons geheel en al ontwapen was!
In Efesiërs 6:13 begin Paulus sy sin met “daarom” as hy die sewe wapens waarmee ons toegerus is opnoem. Hierdie “daarom” verwys terug na vers 12 waarin hy ons inlig oor die aard van ons stryd. 12. “ Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug.”
13. “Daarom, neem die volle wapenrusting van God op, sodat julle weerstand kan bied in die dag van onheil en, nadat julle alles volbring het, staande kan bly”. Paulus verwys na ‘n dag van onheil waarvoor ons toegerus moet wees. Omdat hy geleef het in die tyd van die Romeinse oorheersing, beskryf hy die wapenrusting soos wat die soldate van daardie tyd se gevegsmonderings gelyk het. (1) Hy begin met die lyfband om die middel: 14. Staan dan vas, julle lendene met die waarheid omgord, die geestelike lyfband wat ons moet aanhê, is die waarheid! Blý dus by die waarheid. .. (2) “met die borswapen van die geregtigheid aan”, ‘n borsplaat het die hart beskerm. Ons harte moet beskerm wees deur geregtigheid. Nie die geregtigheid verkry deur menslike toedoen nie, maar geregtigheid wat verkry is deur geloof in Christus! (3) 15. en as skoene aan julle voete die bereidheid vir die evangelie van vrede. Skoene aan sodat die evangelie selfs oor ruwe terrein gedra en verkondig kan word soos wat ons voorgeslagte vir ons ‘n voorbeeld was.
(4) 16. Behalwe dit alles neem die skild van die geloof op waarmee julle al die vurige pyle van die Bose sal kan uitblus. In die Romeinse tyd was hulle skild feitlik so groot soos ‘n deur waaragter die hele liggaam verskuil en beskerm kon word teen die vyand se pyle. Met geloof as skild is jy beskerm teen die vurige pyle van die bose en het jy niks te vrees nie!
(5)17. En neem aan die helm van verlossing : ‘n Helm beskerm die hoof en die hoof verteenwoordig jou gedagtewêreld. Omdat God die strategie van Satan ken en bewus is van hoe belangrik dit is dat ons gedagtewêreld beskerm moet wees teen hom, het hy aan ons die helm van verlossing geskenk waarmee ons denke gevul moet wees.(6) En dan die swaard van die Gees — dit is die woord van God — Die eerste wapen wat, van die ses wat ons ontvang het, nie net vir verdediging bedoel is nie, maar ook vir aanval. In HEBREËRS 4:12 word dit genoem: Want die woord van God is lewend en kragtig en skerper as enige tweesnydende swaard, en dring deur tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg, en is ’n beoordelaar van die oorlegginge en gedagtes van die hart.
(7)’n balistiese misiel!!18 terwyl julle met alle gebed en smeking by elke geleentheid bid in die Gees, en juis daartoe waak met alle volharding en smeking vir al die heiliges. Soos Daniel gebid, God gehoor en Gabriel gestuur het. 21 dae moes hy veg met die prins van Persie, maar hy het gekom en Daniel se gebed is verhoor en Israel kon na hulle land terugkeer. As ek vandag net daarin kon slaag om u aan die dink te sit, verby dit wat ons kan sien en hoor en selfs beleef, dan het ek geslaag om u toe te rus om te help met die voorbereiding van ons volk se eendragtigheid op pad na ons vryheid in die land wat God ons as erfenis gegee het. Nie by die vyande te gaan bedel om vir ons ‘n stukkie terug te gee van dit wat ons s’n is nie, maar om na 45jaar se verdeeldheid weer een van siel en een van sin te word!
Vriende, ek is vyf en veertig jaar aktief in die politiek betrokke in ons verdeelde en verskeurde volk. Onder leierskap van die mees bekwame politici wat ons land opgelewer het en volharding beleef en geleer het sonder om eenheid van siel en eenheid van sin te beleef soos wat dit in dr. Verwoerd se era was, tot vandag toe. Dit maak dus ons wat hier bymekaar is se verantwoordelikheid om rigting aan te dui wat sal aanleiding gee tot Afrikaner eendragtigheid, soveel groter. As gelowiges het dit tyd geword om soos Daniel vir God te vra! Dit is vasgelê in ons volk se geskiedenis dat waar ons volk hom op God beroep en verlaat het, daar telkens uitkoms was. Psalm 149:5-8 staan daar: Laat die gunsgenote juig in heerlikheid; laat hulle jubel op hul bedde. 6 Lofverheffinge van God is in hulle keel, en ’n tweesnydende swaard in hulle hand; 7 om wraak te oefen onder die heidene, strafgerigte onder die volke; 8 om hulle konings met kettings te bind en hulle edeles met ysterboeie; 9 om ’n vonnis wat opgeskrywe is, aan hulle te voltrek. ’n Eer is dit vir al sy gunsgenote! Halleluja!
Onvergelykbare wapentuig in hierdie oorlog sonder koeëls! ‘n Wegbeweeg van toegewings aan omstandigheidseise, vrees en gelatenheid wat aangevuur word deur ongeloof, ontkenning en misleiding.
Ek sluit af met ‘n aanhaling van ds. Tobie Muller: “Maar laat ons met Gods hulp ons lewe breed maak, sodat dit ook die welsyn van ander insluit. Laat ons dit veral diep maak, gewortel in ‘n noue omgang met God. So word dit ook hoog, opgehef deur die Heilige Gees tot die dinge van die Vader. Die breedte, die diepte en die hoogte van die lewe – daar lê ons taak. Die lengte kom aan God alleen toe. Laat Jong Suid-Afrika sy nasionale geloofsbelydenis onderteken, nie met sy naam, maar met sy lewe en dan het ons niks te vrese vir die toekoms nie!"