So skree die voorbladopskrif van die RIDGE-TIMES van die Hoëveld in Evander op 19 September 2014! Onder enige omstandigheid, in enige land, ‘n opskrif wat dui op anargie! Dié woorde, tussen 50 en 100 mense het op ons losgebrand, kom uit die mond van adj. Offisier Oosie Oosthuizen wat saam met adj. Offisier Marietha Wright op ‘n oproep reageer het toe diewe die sekuriteitsbeamptes by ‘n myn gevange geneem het.
Volgens Jana Oosthuizen van die Ridge Times het die voorval om 11:45 vm plaasgevind toe daar by hulle aankoms dadelik op die polisievoertuig gevuur is. “Ten minste tussen 50 en honderd mense het met AK45’s op ons losgebrand”, sê adj. Oosthuizen.
Hulle het probeer wegjaag en in die proses in iets vasgejaag wat die voertuig beskadig het. Terwyl hy uitgeklim het om die beskadigde wiel te vervang het die koeëls deurlopend om die voertuig en oor sy kop gefluit. Hulle is deur die rowers vasgekeer wat eers op die vlug geslaan het toe hulp van Secunda en die motorfietseenheid hulle te hulp gesnel het. Niemand is in hierdie voorval beseer nie en die voertuig is ook nie raakgeskiet nie.
Hoewel die AVP ‘n paar vrae het, bly die voorval ‘n teken van ‘n ongesonde klimaat wat besig is om te verhit. Die Afrika-piesangrepublieksindroom is nie in wording in Suid Afrika nie, dit is reeds ‘n voldonge feit!