(VOORSITTER VAN DIE ORGANISASIE VIR GODSDIENS-ONDERRIG EN DEMOKRASIE)
3 September 2014
Mnr. Pietersen,
I/S: BERIG IN DIE VOLKSBLAD, 2 SEPTEMBER 2014
Luidens bogenoemde berig in die Volksblad meen u dat u organisasie se aanval op die Christelike geloof nie ‘n heksejag is nie. Wanneer ‘n persoon homself of sy argument in dieselfde asem verdedig as wat die argument gestel word, moet die vraag gevra word wat is daar wat nie op die tafel geplaas is nie? ‘n Mens vra mos nie om verskoning vir iets wanneer jy nie oor iets skuldig voel of weet dat jy verkeerd is nie?
Daar is ‘n wonderlike spreukwoord in die Afrikaanse taal wat lui: “Al gaan die leuen ook hoe snel, die waarheid agterhaal dit wel.” Dit is egter so dat dit soms vir die waarheid langer neem om die leuen in te haal, want soms word die leuen as ‘n halwe waarheid voorgehou. Hoe slinkser die leuen aangebied word, hoe meer tyd sal daar moet verloop alvorens die waarheid dit sal ontbloot.
In die berig onder bespreking ontbloot die probleem homself. U meen in paragraaf 2 dat u hofaansoek nie ‘n heksejag op Christenskap is nie, maar in paragraaf 3 kom dit aan die lig dat slegs Christelike gebruike en verwysigings onder skoot kom. U wil die Christelike gebruike en verwysings in skole ongrondwetlik laat verklaar, maar ontken dat u besig is met ‘n heksejag? U voer aan dat dit ingevolge die land se demokratiese grondwet ongrondwetlik is om een geloof bo 'n ander uit te sonder. Is dit dan nie ook ingevolge dieselfde grondwet ongrondwetlik om één geloof uit te sonder en ‘n direkte aanval daarteen te loods nie? Volgens u organisasie is dit “ongrondwetlik om van enige leerling te verwag om regstreeks of onregstreeks aan te dui of hulle enige geloof voorstaan”, maar u beskou dit nie as ongrondwetlik om dieselfde leerlinge te verbied om dit spontaan, en uit vrye keuse en beginsel uit te leef nie?
Die gevolgtrekking is dus dat daar vryheid van keuse en geloof is solank dit nie die Christelike geloof is nie. Dit is “ongrondwetlik om leerlinge te isoleer" as gevolg van die godsdienste wat hulle voorstaan, maar dit is nie ongrondwetlik van u om die Christelike geloof (en dus ook die leerlinge wat dit aanhang) te isoleer en hof toe te sleep in ‘n poging om dit te vernietig nie?
U is vinnig om beskuldigings te maak dat sekere gebruike inbreuk maak op verskeie “grondwetlike regte” van leerlinge, maar u reken dat u en u organisasie nie inbreuk maak op die “regte” van die Christelike geloof en die leerlinge, leerkragte en skole wat dit aanhang nie?
Dit is betreurenswaardig hoe u en u organisasie onder die dekmantel van “reg tot gelykheid” met ‘n persoon simpatiseer teen wie daar gediskrimineer word wat nie aan godsdienstige gebruike wil deelneem nie. Daar is egter volgens u oordeel geen probleem daarmee om te diskrimineer teen ‘n persoon wat wel ‘n begeerte het om daaraan deel te neem nie?
Wanneer daar met insig na hierdie saak gekyk word, word dit duidelik dat diskriminasie nie die spil is waarom u argument of bekommernis wentel nie, maar dat dit om die geloof wat beoefen word gaan.
Ingevolge die grondwet wat u so hoog ag het elke lid van u organisasie mos die reg om hul kinders ter enige tyd uit hierdie skole uit te haal en in ‘n skool waar Christenskap en Christelike praktyke nie beoefen word nie, te plaas. Op hierdie manier sal hulle nie so swaar hoef saam te sleep aan die “ondraaglike juk” van Christenskap nie. Indien u openbare belang, reg en regverdigheid of eerlikheid nastreef, sal u hierdie opsie uitoefen.
Wees verseker dat u oorlogsverklaring nie ongesiens voor die Almagtige God van hemel en aarde verbygaan nie. Ons Christene weet dat daar struikelblokke in die lewe as gevolg van ons geloof in Jesus Christus sal wees. Maar Jesus het ook diegene deur wie hierdie struikelblokke gelê sal word gewaarsku: “Wee die wêreld weens die struikelblokke! Want dit is noodsaaklik dat daar struikelblokke kom, maar wee die mens deur wie die struikelblok kom.” - Matthéüs 18:7.
Ten spyte van die feit dat ons weet van hierdie dinge wat besig is om te gebeur en nog moet gebeur, hou ons onwrikbaar vas aan ons Christelike geloof omdat ons nie ons Verlosser om aardse gewin aanbid nie, maar uit dankbaarheid omdat Jesus Christus die losprys vir ons sondes alreeds aan die kruis betaal het!
U desperaatheid om weerlose kinders se geloofsoortuigings aan te val is bejammerenswaardig. Wees egter verseker dat Hy, die Onoorwinlike,nie ongeregtighede ongestraf laat verbygaan nie. “Markus 9:42: “EN elkeen wat een van hierdie kleintjies wat in My glo, laat struikel, dit is beter vir hom as ‘n meulsteen om sy nek gehang en hy in die see gegooi word.”
Die uwe
J.F. Ollewagen