Hierdie “BOERE-AFRIKANER VOLKSRAAD”, wat beslis níé die gedeelte van die Afrikanervolk wat lede van die AVP is en daarby ingesluit alle lede van die HNP, ANB, AWB en elke ander organisasie wat die standpunt handhaaf dat Suid Afrika die Afrikanervolk se land is verteenwoordig nie, het reeds met die aanvaarding van die beginsel om te onderhandel oor dit wat volgens elke bestaande regsreel ons s'n is, Afrikanerland prysgegee!In die onderstaande samesprekings met die Swart, Kommunistiese meerderheidsregime vir ‘n volkstaatjie, iewers waar dit die Swartes behaag en so groot as wat hulle bereid is om af te staan, in ruil vir ons Godgegewe erfenis, is die regmatige aanspraak van hulle deel van die Afrikanervolk op Suid Afrika prys gegee en in beginsel die reg van die Swart volke op ons vaderland erken. Dit was van meet af duidelik gemaak dat geen diskriminasie van welke aard ookal voortaan in Suid Afrika geduld sal word nie en is dan ook so in die Afrikanervyandige grondwet vasgelê wat sal geld waar en indien hulle ookal so ‘n grondjie afgebedel kan kry.
In die ganse geskiedenis van die Afrikanervolk was daar nog nooit so ‘n openlike kapitulasie van sogenaamde “regse” Afrikaners teenoor enige van ons vyande nie en verteenwoordig dit ‘n uiterste laagtepunt in ons vryheidstryd, ongeag al die onsinnige argumente daarvoor. Hierdie is niks minder as die kulminasie van die deurlopende en onderduimse ondergrawing van die voormalige HNP leiers se beleid en beginselstandpunte wat die breuk in die Nasionale Party onder die leiding van Vorster, Botha en de Klerk regverdig het. Die onsinnigheid van “ons doen ten minste iets om net êrens weer ‘n vastrapplekkie te kry waarvandaan ons weer die land kan oorneem, spreek van politieke bankrotskap en gebrek aan moed en verlies van geloof. Die AVP distansieer hom uitdruklik van hierdie versaking van beginsel!
Mnr. Jaap Marais het meermale beklemtoon dat politiek ‘n oorlog sonder koeëls is. Om van ‘n politieke party na ‘n beweging te degenereer soos wat die HNP onlangs gedoen het, was waarskynlik om die “oorlog” prys te gee in ruil vir onderhandeling en samesprekings, wat in twintig jaar nog net tyd gekoop het vir die vyand om sy greep te verstewig. Hierdie land is óns land wat stryd en nie samesprekings vra nie!
SAMESPREKINGS BOERE-AFRIKANER VOLKSRAAD MET REGERING
Verteenwoordigers van die Boere-Afrikaner Volksraad (BAV) het gister, 28 Augustus 2014, met Adjunk-president Cyril Ramaphosa samesprekings by die Uniegebou in Pretoria gevoer oor die toekoms van Arikaners. Die volgende media verklaring is nou deur die BAV uitgereik: “Ons het geen negatiwiteit oor die beginsel van selfbeskikking vir die Boere-Afrikanervolk ervaar tydens die gesprek nie. Die byna twee en ‘n half uur lange gesprek het openhartig en in goeie gees verloop. Dit was hoofsaaklik ‘n informatiewe gesprek. Opbouende vrae oor veral die uiteindelike formaat van ‘n Afrikaner-volksrepubliek is deur die regeringsafvaardiging gestel, en kon almal positief beantwoord word. Daar is ooreengekom dat daar nog baie gesprek met mekaar nodig is. Die Regeringsafvaardiging sal pres. Zuma op hoogte stel, en sy kommentaar sal in ‘n opvolggesprek bespreek word. Mnr. Ramaphosa het bepaalde operasionele voorstelle aan die afvaardiging van die Boere-Afrikanervolksraad gemaak, wat eers aan die volle Volksraad gerapporteer sal word om te oorweeg binne sy strategiese beplanning. Intussen het die Volksraad die onderneming gegee om ook ander Afrikanergroepe wat selfbeskikking nastreef, sal nader met die oog daarop om die proses meer inklusief te maak sodat die regering uiteindelik slegs met ‘n enkele forum gesprek hoef te voer.” Inmiddels het ‘n regeringswoordvoerder Ronnie Mamoepa na afloop van die vergadering gesê Ramaphosa het tydens die samesprekings opnuut die belangrikheid van die Handves van Menseregte in die Grondwet bevestig, in besonder die regte van alle burgers om hulle kultuur, geloof en taal in ‘n verenigde demokratiese staat uit te oefen. Ramaphosa het ook gesê die regering is daartoe verbind om meer duidelike beleidsrigtings aan die sakesektor te verskaf, terwyl hy daaraan werk om beleggersvertroue in die land te verstewig.