As hulle die 17-jarige Marchell Taljaard se selfoon nie toevallig gesien het nie, sou hulle haar nie vermoor het nie. Dit het hulle laat besluit om haar vir dwelmgeld te beroof, het Charles Simmers (26) Maandag in die Suid-Gautengse hooggeregshof getuig. Hy en sy makkers het Marchell na bewering gewurg, met ’n plastiekpyp verkrag en op haar kop gespring. Dit was egter nie aanvanklik hul plan dat Marchell, wat hy geken het, hul slagoffer moet wees nie.
Marchell se lyk is die oggend van 12Maart 2012 naby haar ouerhuis op ’n hoewe in Boksburg-Noord gekry waar sy in die oopte halfnaak tussen klippe en vullis gelê het. Die beskuldigdes het in hul verklarings erken een van hulle het ’n PVC-plastiekpyp by haar probeer opdruk. Toe sy haar bewussyn begin herwin, het een herhaaldelik op haar kop gespring. Daarna is sy ook met ’n baksteen teen die kop geslaan. Sy is ’n tyd later op die toneel dood.