1 2 3c

Totale besoekerstal

Artikels vertoon Trefslae
9965001

Besoekers aanlyn

Ons het 106 gaste en geen lede aanlyn

 

  Videos en Toesprake

St Helena projek 200

Teken aan

Media

DIE OORSPRONG VAN VERDEELDHEID IN AFRIKANERGELEDERE.

altHoewel hulle erken het dat algehele skeiding kon werk, is aangevoer dat die verstrengeling van volkere reeds te ver gevorderd was en nie meer sou kon slaag nie.Dat daar in Afrikanergeledere ‘n dringende behoefte bestaan vir ‘n sentrum vir strategiese studie om die politieke verdeeldheid in eie geledere te besweer en nasionalisme weer in sy regte voeg te plaas, kan nie oorbeklemtoon word nie. Deur die toenemende verval in Suid Afrika sedert die moord op dr. H.F. Verwoerd, wat tot die onwettige oorgawe in 1994 gelei het, het die Afrikanervolk se posisie toenemend benard geraak en bestaan daar nou geen staatsmasjinerie meer waarmee hy homself in sy eie land kan handhaaf nie.Die verskille wat die grootste invloed het in die bestaande verdeeldheid, is tweërlei van aard. Die eerste is die Afrikaners wat werklik glo dat die beleid van Afsonderlike ontwikkeling verkeerd was en vervang behoort te word teenoor die wat daarby staan en val, en dan diegene wat steeds glo dat apartheid reg was maar dat dit nie nou meer haalbaar is nie en ons die “nuwe Suid Afrika derhalwe moet maak werk.

Om te verstaan waar hierdie verskille in die eens heggebinde, een van siel en een van sin Afrikanervolk ingesluip het, moet daar noodwendig op ons spoor teruggegaan word. Die bloedige maar geloofsgebonde vryheidstryd van die Afrikanervolk sedert die Groot Trek van 1838, wat sy finale beslag op 31 Mei 1961 met Republiekwording gekry het, lê aan skerwe as gevolg van die verdeeldheid wat ontstaan het nadat ons vyande dr. Verwoerd met ‘n sluipmoord op 6 September 1966, uit die weg geruim het.

Die Slagordes teen die Afrikanervolk is reeds so vroeg as 1969 opgestel in die vorm van SPROCAS, (Study Project on Christianity in an Apartheid Society).  Die front waaragter opereer sou word was navorsing ten einde die Suid Afrikaanse samelewing te ontleed, dit te beskryf en met voorstelle vir ‘n alternatief te kom. Sprocas was gestig, befonds en ondersteun deur die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke (SARK), en Die Christelike Instituut (CI). Hulle is gesteun deur Die South African Institute of Race Relations en die geldmag, almal geswore vyande van die Afrikanervolk. Hierdie inligting is versamel en saamgestel in ‘n boekie wat in 1986 uitgegee is deur Sabra onder die titel “Van Skeiding tot Integrasie”, wat vandag in terugskouing, waardevolle inligting is vir diegene wat belangstel om agter die waarheid te kom van hoe ons in hierdie benouende toestand beland het.

Dit is veral belangrik om daarop te let dat die georganiseerde aanslag op die Afrikaner se politieke beheer en in besonder die beleid van Apartheid, vanuit die kerkmilieu geloods is. Die uitslag van Sprocas se navorsing wat in 1973 voltooi is, was dat daar ‘n onregverdige bedeling in Suid Afrika was omdat mag, rykdom en inkomste ongelyk verdeel is. Hierdie bevinding is plaaslik en in die buiteland, wyd deur die media verkondig met die oog op alternatiewe voorstelle om dit wat verkeerd was reg te stel.

Aanbevelings van Sprocas vir regstelling was veral vervat in ses verslae van ses navorsingspanne wat gevorm is om ses samelewingsverbande te ondersoek en met aanbevelings te kom wat tot die “Nuwe Suid Afrika” moes lei. Dié verbande was: 1. Die Maatskaplike, 2. Ekonomiese, 3. Onderwys, 4. Politiek, 5. Regstelsel en 6. Die Kerkverband.  Onderliggend aan hierdie aanbevelings was egter die kernaanbeveling dat swart mense bewus gemaak moes word om self op te tree en van hulle mag gebruik te maak om self hulle lot en toekoms te verander. Bestaande verenigings moes beweeg word en nuwes gestig word om die aanvaarding van die Sprocasdenke te bevorder. Die gedagte van ‘n “Nuwe Suid Afrika” moes sterk uitgedra word.

Om die aanbevelings van Sprocas te bevorder is daar in 1971 deur dieselfde twee organisasies, nl. Die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke (SARK), en Die Christelike Instituut (CI), ‘n tweede onderneming, Sprocas 2 geloods.  Hierdie Sprocas het gestaan vir “Special Program for Christian Action in Society”.  Die aanslag steeds binne die raamwerk van die sogenaamde kerkgemeenskap om die skyn van welvoeglikheid te vertoon.  Die loodsvergadering van Sprocas 2 was in November 1971, voordat Sprocas 1 se navorsing afgehandel was, onder die leiding van Aartsbiskop Dennis Hurley van die Katolieke kerk.

Al ses navorsingspanne van Sprocas 1, was op mekaar afgestem oor die uitgangspunt dat Suid Afrika een omvattende en ineengeweefde geheel is en is die aanbevelings skerp gekant teen en gefokus op die vernietiging van afsonderlike ontwikkeling. Hoewel hulle erken het dat algehele skeiding kon werk, is aangevoer dat die verstrengeling van volkere reeds te ver gevorderd was en nie meer sou kon slaag nie. Daaruit het voortgevloei dat daar ooreenstemming was dat:1. Alle mense oor politieke mag moet beskik.2. Alle werkers moet aan wettig erkende vakbonde kan behoort. 3. Grond, Rykdom en inkomste moet herverdeel word. 4. Almal moet gelyke toegang tot die onderwys hê. 5. Trekarbeid moet beëindig word. 6. Almal moet vrylik van werk en van woonplek kan verander. 7. Werkafbakening moet afgeskaf word. 8. Kerke moet maatskaplike veranderinge onder hulle lidmate bevorder; selfondersoek instel oor die verdeling van mag binne die kerk; en ondersoekgroepe en kommissies aanstel om verandering daadwerklik te bevorder. By al hierdie aanbevelings is ‘n aantal verenigings en instellings by die naam genoem om hulle vir die uitvoering van die betrokke aanbevelings te beywer. Die Christelik-Nasionale lewensbeskouing is deur Sprocas om opvoedkundige redes verwerp omdat dit volgens hulle ‘n leer is wat gesagsafdwingend is watmense wat anders is uitsluit en wat ‘n oordrewe vaderlandsliefde by die jeug inskerp. Geen willekeurige of eiemagtige skeiding op grond van ras, herkoms, nasionaliteit, taal, kultuur of godsdiens moet geduld word nie.

Ek wil voorlopig volstaan met dié enkele aanhalings uit die verslae van Sprocas. Dit behoort egter voldoende te wees om aan te dui dat hierdie anti-Christelike en anti-nasionale gif wat kort na die sluipmoord op dr. Verwoerd saamgestel en deur eie instellings wat vir die doel gewerf was in kerk, skool, Universiteit en maatskappy ingedra is, feitlik woordeliks ooreenstem met die Freedom Charter, die geheime dokument van die Broederbond, Kerk en Samelewing en die dokument van Willie Jonker van die Rustenburgberaad.  Dit wat ons vandag beleef pas dan ook soos ‘n handskoen in die Sprocas aanbevelings waarvoor de Klerk en sy hele kabinet geswig het.

Die AVP se standpunt dat mense en organisasies wat hulle nou nog besig hou om al hierdie vereistes, of selfs net sommige daarvan te bevorder, nie in belang van die Afrikanervolk optree nie, maar selfs besig is met verraad teen ons volk, is nie bloot duimsuig of gevoel nie, maar gebaseer op Sprocas se sorgvuldige navorsing, beplanning en uitvoering deur hoofsaaklik ons eie mense en strukture daarvoor aan te wend, vandaar hulle uiterste sukses!

Dat ons dus as teenvoeter ons eie strategiese beplanning moet doen, behoef geen verdere verduideliking nie, slegs maar die dringende beroep op innerlike oortuiging dat die tyd daarvoor nie beter is as nou nie!

 

 s1

 d1

 sw1

 v1

Haat Spraak  

 

Volkstem Vorige Uitgawes Advertensie