Rapport sê: Die syfers wys die DA kon betekenisvolle swart steun in sekere plattelandse dorpe lok,’n verrassing vir dié wat sê ras bepaal hoe ons stem. Die AVP sê: né! ‘n Baie vroe aanduiding van die media se modus operandi om klimaat te skep vir wat vorentoe moet gebeur en dit ten koste van die waarheid en die werklikheid! Let op die woordgebruik. Nie het betekenisvolle swart steun nie, maar kon betekenisvolle swart steun lok.
Géén verassing vir dié wat sê ras bepaal hoe ons stem nie, maar ‘n duidelike bevestiging daarvan! Rapport wil nie dat jy moet glo wat jy met jou oë kan sien, met jou ore kan hoor en wat in die openbaar gebeur nie, nee, jy moet glo wat hulle wil hê jy moet glo! Soos byvoorbeeld dat ons ‘n nie-rassige samelewing is en dat ons in die “eerste democracy”, en nogal die mees moderne een leef sedert 1994!
Hoe blind is die wat nie wÍl sien nie en hoe doof is die wat nie wÍl hoor nie. Die teenstellings en dubbelsprakigheid in die berig slaan ‘n mens stom. Selfs die werklikheid van ‘n radikale koers wat selfs onder die ANC onafwendbaar is, word verskuil, ( vir die wis en die onwis) in die frase, pasop waarvoor jy wens. Wensdenkery by Rapport wat steeds die mondstuk van die trouelose Afrikaners is, het waarskynlik sy beslag gekry by F.W. de Klerk se wensdenkery oor wigte en teëwigte.
As daar iets is wat uit die syfers afgelei moet word, dan is dit dat deur gelykstelling van ras, jy die magshefboom demografies verskuif het na die Afrikabeginsel van getalle politiek. ‘n Les wat Zille en die DA besig is om eerstehands mee kennis te maak. Let maar op in die berig hieronder na die twis wat nou in die DA na die oppervlak gedryf word, en dit is maar die begin van die “betekenisvolle” swart steun!
Die AVP waarsku opnuut: Bly buite die bestel en behou ons aanspraak op ons land Suid Afrika. Moet onder geen omstandigheid die huidige onwettigheid en dienooreenkomstige onreg aanvaar nie. Bly u daarteen verset. Hou ons taal en kultuur lewendig en moet veral nie u geloof verloor nie, want hulle sal mekaar verteer en opeet saam met diegene wat in die stelsel opgegaan het.
Rapport sê: SA ná die ANC – pasop waarvoor jy wens
2014-05-17 22:22
Die syfers wys die DA kon betekenisvolle swart steun in sekere plattelandse dorpe lok, ’n verrassing vir dié wat sê ras bepaal hoe ons stem. Andersyds wys dit ook dat die groeiende swart middelklas, stedelike mense met ’n hoër inkomste en beter opvoeding as hul ouers se geslag, makliker teen die ANC stem. Tog was dit beleid van die ANC wat dié nuwe swart middelklas in plekke soos Johannesburg, Tshwane en Nelson Mandelabaai op die been help kom het. Regstellende aksie en bemagtiging hét deure vir baie swart Suid-Afrikaners oopgemaak. Maar beter lewensmiddele en opvoeding het dié kiesers ook laat besef blinde ANC-lojaliteit gaan nie vir hulle ’n blink toekoms verseker nie.
Die ANC se suksesse het die middelklas se verwagtinge laat styg. Dieselfde middelklas meet die ANC se mislukkings teen dié hoër verwagtinge en stem DA of EFF. Hoër verwagtinge is gevaarlik. Ook die toename in diensleweringsprotes is danksy beter dienslewering en hoër aspirasies, eerder as weens ’n ineenstorting van dienste.
In Indië is die Congress-party, histories die ANC se vennote, die afgelope week ontsetel. Korrupsie, ’n tanende ekonomie en ’n teleurgestelde middelklas het hulle gekelder. Net soos in Indië, waar ’n fanatiese Hindoe-nasionalis nou regeer, moet ons nie aanvaar die ANC se uiteindelike opvolger sal ’n beter, meer gematigde party wees nie. Ook ons kan weldra ’n meer radikale koers inslaan.
ZILLE PAK SENIOR LEIERS
‘Sekeres lek selektief inligting vir eie agenda’
Llewellyn Prince Maandag 19 Mei 2014
Lindiwe Mazibuko, Helen Zille en Mmusi Maimane het saam stemme gewerf voor die verkiesing, maar die onweerswolke pak nou toenemend saam vir die DA. Helen Zille, DA-leier, het gister lede van dié party se federale uitvoerende raad daarvan beskuldig dat hulle selektief inligting aan die media laat uitlek om hul eie agendas in die DA-opvolgstryd te bevorder. Zille het gister senior DA-leiers in die DA-nuusbrief, SA Today, gepak in reaksie op ’n berig in die Sunday Times wat beweer dat sy sou gesê het sy het Lindiwe Mazibuko, die DA se uittredende parlementêre leier, “gemaak” en verskeie kere “gered”. Zille moes ook gister vure doodslaan op Twitter, waar DA-ondersteuners haar daaroor gekonfronteer het. Sy het ten sterkste ontken dat sy Mazibuko openlik aangeval het en gesê inligting oor die normaalweg geslote vergadering van die federale uitvoerende raad wat Vrydag in Johannesburg gehou is, is selektief uitgelap.
“Wat net so kommerwekkend is, is dat sommige mediaplatforms misbruik word deur sogenaamde joernaliste en rubriekskrywers wat aan ’n sekere faksie van die DA behoort. “Dit is tyd om ’n lyn in die sand te trek. Ons sal nou in die DA praat oor hoe om mense te hanteer wat verdraaide faksie- agendas deur hul bondgenote in die media dryf.” Volgens Zille wil sy met betrokke koerantredakteurs vergader om dit stop te sit. Zille erken in die nuusbrief ook dat die DA se parlementêre koukus onder Mazibuko erg verdeeld was. Sy het herhaal dat Mazibuko besluit het om aan die Harvard-universiteit te gaan studeer “omdat sy geweet het sy sou die volgende parlementêre leiersverkiesing verloor het”.
Mazibuko het nie gister haar foon vir navrae beantwoord nie. ’n Senior DA-bron het gister gesê daar is ook groot verdeeldheid in die federale raad oor Zille se aandrang dat die “onervare” Mmusi Maimane as parlementêre leier moet oorneem. “Daar is groot ontevredenheid oor Zille se ondemokratiese werkwyse. Niemand praat daaroor uit vrees vir viktimisering.” Die bron het gesê veral swart leiers is omgekrap oor die jongste herrie rondom Mazibuko. “Dit insinueer dat Zille swart leiers as kwotas sien, ongeag dat hulle deur meriete in hul posisies is. Daar word ook gevoel dat sy self nie genoeg vertroue in Maimane as parlementêreleier het nie en daarom wil sy ’n sterk ondersteuningspan vir hom aanstel.”
James Selfe, die DA se federale voorsitter, wat na bewering ’n aanbod van Zille van die hand gewys het om vir ’n jaar as parlementêre leier op te tree totdat Maimane kan oorvat, het navrae gister na Zille verwys. Zille het verder in die nuusbrief gesê gister se berig is misleidend en “van alle waarheid ontbloot”. Volgens Zille het sy Vrydag aan die raad gesê sy het baie harder as ooit gewerk om Mazibuko se loopbaan te bevorder. “Ek het nooit gesê ek het haar ‘gemaak’ of ‘gered’ nie. Ek het nooit gesê dat sy ‘niks sonder my sal wees nie’.”
Zille erken egter sy het vroeër herhaaldelik verantwoordelikheid aanvaar vir foute wat onder Mazibuko se leierskap in die parlement gemaak is. Volgens haar het Mazibuko nadat sy as parlementêre leier verkies is, Zille se raad geïgnoreer en het weerstand teen haar opgebou wat die koukus erg verdeel het.
‘MY VISIE STEM OOREEN MET DIE DA SE BEGINSELS’
Lindiwe Mazibuko, uittredende DA- parlementêre leier, het so in Beeld se susterkoerant City Press geskryf oor haar besluit om aan die Harvard-universiteit te studeer: “Selfondersoek is ook belangrik in enige loopbaan, veral in die openbare sektor. Alle leiers moet tyd afknyp vir introspeksie. “Toe ek dit aan die einde van my eerste termyn as die DA se parlementêre leier doen, het ek die spoed en trajek van my vordering deur die range van die party oorweeg en of dit dalk vir my ’n goeie tyd sou wees om vir ’n tydjie uit die politiek te wees.
“Ek het ’n persoonlike visie wat in ooreenstemming is met die fundamentele visie en beginsels van die DA, en dit is om deel te vorm van die eerste opposisieregering wat ons land in ’n rigting sal lei waar hy waarlik sy potensiaal kan vervul. Ek glo daarom om my kennis te verryk en my ervaring tot dusver sal my in staat stel om hierdie ambisie beter te vervul.” Mazibuko het gesê in ag genome die komplekse aard van haar besluit, verstaan sy die belangrikheid daarvan om nabye vriende, kollegas en geliefdes te kon hê wat sy kon vertrou. “Dit is my eerste stuk advies aan enigiemand wat in die middel van hul loopbaan besluit om oorsee te studeer: Bespreek jou keuses met soveel vertrouelinge moontlik. Sluit ook diegene in wat bereid is om te argumenteer dat dit ’n slegte idee is.
“Hoe meer menings daar op die tafel is, hoe beter sal jy ’n besluit kan neem.”