March 24, 2014
Uit 'n berig van die Vryburger:
Die voorsitter van die Afrikanerbond, Pieter Vorster het met onmiddellike ingang uitgetree as voorsitter vanweë sy betrokkenheid by die Vryheidsfront Plus as kandidaat vir die komende algemene verkiesing. Vorster sê die Bond se politieke onverbondenheid mag nie geskaad word nie, en daarom tree hy dadelik uit. Hy was voorheen burgemeester van Bloemfontein, en ook DA raadslid van die gesamentlike munisipaliteit van Brandfort, Theunissen, Winburg, Verkeerdevlei en Soutpan.Vorster is vyfde op die lys van die VF Plus se kandidatelys.
Jan Bosman, sekretaris van die Afrikanerbond, sê Jaco Schoeman, ’n boer van die Barkly-Oos distrik in die Oos-Kaap is aangewys as waarnemende voorsitter van die omstrede beweging. Vorster sê hy kan nou vir die eerste keer sy politieke oortuigings uitleef sonder ’n albatros om sy nek. Daar kan nou met reg gevra word, wie en wat is die VF+ werklik en veral wat is hulle rol in die Afrikanerpolitiek.

Die Vryheidsfront is op 4 Maart 1994 gestig onder die leierskap van Generaal Constand Viljoen. Dit het die weg gebaan vir die Vryheidfront en ander regspraters maar linksdoeners se deelname in die eerste veelrassige “demokratiese” algemene verkiesing van 1994.
In September 2003, kort voor die 2004-verkiesing het die Konserwatiewe Party (KP) en die Afrikaner Eenheidsbeweging (AEB) hulle by die Vryheidsfront geskaar. Die Vryheidsfront sou sedertdien as die Vryheidsfront Plus bekend staan en geleentheid bied aan die KP en sy ondersteuners wat teen deelname aan veelrassige verkiesings was, om van standpunt en beginsels te verander..
Die Vryheidsfront Plus word ook nou verbind met die Afrikanergemeenskap van Orania, wat die enigste dorp in Suid-Afrika is met ’n VF-burgemeester, en is voorstanders van die Afrikaner volkstaat idee.
Met hulle leier in diens van die ANC en onlangse kandidaatversterkings uit DA geledere in die persone van Laurie Bosman en Niekie van den Berg, aangevul uit die Afrikanerbond se voorsitter, is hier ‘n legkaart waarvan die stukke nou vinnig bymekaarkom.
Vorster se opmerking dat die Bond se politieke onverbondenheid nie geskaad mag word nie, is tekenend van die liberales om hulle politieke bedrywigheid onder ‘n dekmantel van geheimsinnigheid te bedrywe. Dit is tog algemene kennis dat die Broederbond, Afrikanerbond, Toekomsgesprek, Volksbond, ens., uit politiek gebore en getoë is.
Afrikaners wat hulle van meet af aan van betrokkenheid by hierdie groepering weerhou het, bespiegel nou oor die volgende stap indien hierdie oefening vir ‘n maandelikse inkomste sou faal. Dalk ‘n pos by Radio Pretoria, ‘n vakbond, ‘n burgerregte organisasie of dalk georganiseerde landbou? Wat bo was kom na onder. Ai, die wiel wat so onverbiddelik altyd net in een rigting draai! Eish!