Het daar in die afgelope twintig jaar sedert ‘n een-mens-een-stemverkiesing in Suid Afrika wat deur die NP regering van F.W. de Klerk en kie bewerkstellig is, geen verskil aan die gevolge van Afrikaner deelname aan so ‘n verkiesing ontstaan nie. Wanneer daar in verkiesings nie ‘n moontlikheid bestaan dat die regering deurlopend daaraan blootgestel is om deur sy opposisie verslaan te kan word nie, kan daar in die eerste plek nie sprake van demokrasie in so ‘n land wees nie. Dit het sedert 1994 eerder swakker as beter geword. Vir enige ander politieke party om swart steun te verkry vir ‘n noemenswaardige sterk opposisie, sal die ANC geklop moet word met beloftes en begunstiging van swartes en benadeling van blankes, wat so ‘n party feitlik ‘n duplikaat van die ANC sal maak. Indien Afrikaners dus aan so ‘n verkiesing sou deelneem sonder die moontlikheid om die regering te vervang, is die noodwendige gevolg aanvaarding van deelname aan ‘n ondemokratiese stelsel wat van die betekenis van demokrasie ‘n belagging maak en volgens NP van Wyk Louw, reeds ‘n vorm van diktatuur. Deelname deur ander partye in so ‘n bestel verbloem net hierdie feit.
Dit is vir die ANC van die uiterste belang dat Afrikaners aan die verkiesings deelneem, want dan kan hulle sê dat dit die bewys is dat Afrikaners hulle onderwerping deur die ANC aanvaar het en berus in al die vorme van verandering wat hulle kan en sal bedink om swartes te bevoordeel vanweë die “onreg” wat Afrikaners deur apartheid hulle aangedoen het.
Deur nie deel te neem nie, is die sterkste vorm van verset wat vir die Afrikaner op die oomblik beskikbaar is. Deur nie deel te neem nie word die wettigheid van die aanspraak van die ANC op Suid Afrika in die ban gedoen en behou die Afrikaner sy regmatige eienaarskap van hierdie land wat ons land is, ongeag die onwettige beheer waarmee hulle bekroon is deur die verloopte NP regering van voor 1994.
In Nuuskommentaar van Radio Pretoria word daar verwys na: – “die sekondêre belang van die verkiesing.” Die AVP sê amen daarop. Daar is egter in die kommentaar aanbevelings en opmerkings wat daarop gerig is om rigtinggewend te wees waarmee die AVP ernstig verskil omdat dit juis ‘n rigting aandui wat die fokus verskuif van verset na aanvaarding.
Dat ons Afrikaners onsself toenemend moet bemagtig is tog ‘n gegewe. Om egter te beweer dat ‘n verswakkende staat talle aantreklike moontlikhede skep vir toenemende selfstandigheid, wat ʼn goed-funksionerende staat nie bied nie, is onsin. Verder is ‘n stelling soos: “Daarenteen kant kan ʼn sterker opposisie die na-verkiesings-ANC moontlik meer verantwoordelik stem”, saamgelees met: “Dié twee kragte dui albei aan waarvoor Afrikaners hulle energie moet monster naamlik om deur ons eie burgerlike organisasies – vakbonde, kultuurorganisasies, burgerregte-bewegings, onderwysinisiatiewe, instellings vir maatskaplike sorg, ons inisiatiewe vir geografiese vestiging en dergelike ander – ons toenemend self te bemagtig en sodoende stap vir stap ons eie selfstandigheid te vestig”, op aanvaarding gerig.
Inisiatiewe vir geografiese vestiging dui op die volkstaatgedagte wat ook beteken dat jy aanvaar dat die swartes regmatig aanspraak op Suid Afrika het en ons, wat deur Radio Pretoria as ‘n minderheid beskou word, tevrede moet wees deur iewers ‘n stukkie van Suid Afrika te beset waarin ons die meerderheid kan wees.
Die AVP se standpunt bly onwrikbaar dat om te stem in die verkiesing die Afrikaner se lot verseël in ‘n veelrassige eenparty diktatuur, wat ten alle koste vermy moet word. Bly dus weg van die stembus af!
Tweedens is ons standpunt dat verset ons primêre fokus moet wees waarin ons ganse Afrikanervolk se eensgesindheid verkry moet word sodat die onwettigheid en onregmatigheid van beheer, besetting, onteiening en volksmoord in ons eie vaderland deurlopend aan die groot klok gehang word vir die hele wêreld om daarvan kennis te neem.
Derdens is die kwessie van groeiende selfstandigheid belangrik. Dit word egter benadeel deur vakbonde, burgerregte en kultuurorganisasies wat veelrassigheid kondoneer en hulle selfs daarvoor beywer, sodat die mag van die getalsbegrip, waar die meerderheid altyd die oorhand oor die minderheid sal hê, voortdurend die bedreiging sal wees.
Daar moet duidelike grense getrek en gehandhaaf word. Die negatiewe konnotasie wat kleef aan die uitoefening van ‘n voorkeur vir die eie, moet daadwerklik teëgewerk word. Indien daar ‘n voorkeur vir eie vrou, of eie man, of kinders uitgeoefen word beteken dit nie dat ander vrouens, mans of kinders gehaat word nie! So geld dit ook vir ras. Mense wat ander afleidings maak en/of die teendeel verkondig, doen dit kwaadwillig met die oog op vertroebeling van verhoudings met ander oogmerke as vreedsame naasbestaan.
Laastens moet daar wegbeweeg word van die getalsbegrip wanneer volke ter sprake is. Ons is ‘n volk in elke sin van die woord! Of ons baie of min is, is irrelevant en reduseer die minderheidsterm ons tot ‘n getal wat noodwendig ondergeskik moet wees aan die meerderheid, wat nie deur die AVP aanvaar word nie. Hierdie land, Suid Afrika, behoort aan die Afrikanervolk en neem ons aan geen stemming deel wat die implikasie het dat dit ook aan ander volke behoort nie.
Sonder die bedoeling om Radio Pretoria te probeer benadeel, plaas ons hulle volledige nuuskommentaar om aan te dui hoe en waarom ons van hulle siening verskil in die vryheidstryd van die Afrikaner op wie se steun en vir wie hulle aanspraak maak om in die bres te staan. Die beklemtonings is die van die AVP.
RADIO PRETORIA: NUUSKOMMENTAAR
31 MAART 2014 – DIE SEKONDêRE BELANG VAN DIE VERKIESING
Algemene verkiesings is belangrik. Dit bepaal wie gaan regeer en wat die impak van opposisiegroeperings op die na-verkiesingsituasie sal wees. Die verkiesing van 7 Mei is eweneens van belang, selfs al toon die mees onlangse meningspeilings dat die verkiesingsuitslae nie die samestelling van die nasionale wetgewer wesenlik gaan verander nie. Indien daar wel ʼn beduidende verandering is soos dat Julius Malema se EFF aansienlike steun monster, kan die ANC in ʼn meer roekelose rigting beweeg. Daarenteen kant kan ʼn sterker opposisie die na-verkiesings-ANC moontlik meer verantwoordelik stem.
Tog, in weerwil van die belang van die verkiesing behoort die verkiesing en politieke partye nie Afrikaners se eerste politieke prioriteit te wees nie want geen verkiesingsuitslag kan enigiets verander aan die ingeboude en blywende aard van die Suid-Afrikaanse politiek nie. Dit is aan die hand van daardie blywende eienskappe wat Afrikaners hulle politieke heil moet uitwerk. Twee dinge is in hierdie opsig deurslaggewend.
Die eerste is dat die Suid-Afrikaanse staat vanweë die agteruitgang van die openbare sektor, geteister deur endemiese onbekwaamheid en galoppende korrupsie onafwendbaar verder sal verswak. Gevolglik sal daar al hoe minder op die staat gesteun kan word selfs vir noodsaaklike dienste. Verkiesingsuitslae kan daaraan nouliks enigiets verander.
Die tweede blywende faktor is dat Afrikaners synde ʼn nasionale minderheid binne ʼn onakkommoderende unitêre grondwetlike bestel nie by wyse van verkiesings aan bewind kan kom of enige noemenswaardige politieke mag kan bekom of ʼn beduidende partypolitieke opposisie kan vorm nie.
Dié twee kragte dui albei aan waarvoor Afrikaners hulle energie moet monster naamlik om deur ons eie burgerlike organisasies – vakbonde, kultuurorganisasies, burgerregte-bewegings, onderwysinisiatiewe, instellings vir maatskaplike sorg, ons inisiatiewe vir geografiese vestiging en dergelike ander – ons toenemend self te bemagtig en sodoende stap vir stap ons eie selfstandigheid te verstig.
Die agteruitgang van die staat skep weliswaar talle daaglikse hoofbrekens vir Afrikaners, net soos vir lede van ander gemeenskappe. Buitendien is dit ook frustrerend om belasting aan ʼn staat te betaal wat nie sy deel van die vergelyk nakom nie en nog meer sieltergend om naas die las wat ons op onsself neem om ons selfstandigheid uit te bou steeds finansieel tot die vervallende staat by te dra. Die einste verswakkende staat skep egter terselfdertyd ook talle aantreklike moontlikhede vir toenemende selfstandigheid wat ʼn goed-funksionerende staat nie bied nie. Dit laat leemtes wat met eie selfstandigheid gevul kan word. Juis daarom hou ons vindingrykheid en ywer om ons selfstandigheid uit te bou veel meer belofte in so ʼn staat in as wat dit andersins sou wees.
Afrikaners is trouens nou al geruime tyd hard besig om aan hulle eie selfstandigheid te werk en is tans reeds merkbaar sterker as voorheen. Daar heers ook groeiende Afrikaner-eensgesindheid. Te midde van die hierdie langtermyn-strategie vir groeiende selfstandigheid is die verkiesing ʼn vlietende oomblik wat op die keper beskou in vergelyking met hierdie langtermyn-strategie vir selfstandigheid van blote sekondêre belang is.
Afrikaners kan dus maar volgens hulle eie goeie oordeel gaan stem vir wie hulle wil of in hulle goeie oordeel besluit om nie te gaan stem nie, wel-wetende dat ons, ons vermoëns eintlik moet toespits op die uitbou van ons selfstandigheid. Daarmee kan ons sukses behaal ongeag die feit dat ons ʼn minderheid is. Ons is trouens reeds met groeiende sukses daarmee besig. ʼn Verkiesing kan nie ons aandag van hierdie hoof-prioriteit aflei nie.