Die voorval van ‘n lewensoriënteringboek met belaglike vrot pogings tot Afrikaans waaroor vroeg in Augustus 2013 berig is, het soos meeste dinge vandag vinnig gekom en net so ook weer gegaan: voorbladnuus vir ‘n oomblik en toe is dit ook maar weer verby. Hierdie voorval wys vir die oplettende waarnemer baie meer as net dit waarop die berigte klem gelê het (diegene wat hulle geheue wil verfris, kan gaan lees in Die Burger).
Afrikaners is aandadig aan die bedryf van Engelse onderwys in Afrikaanse woorde: die term CAPS word lustig gebruik, en selfs skole wat hulself hard as Afrikaans projekteer, staatskole maar ook CVO-skole inkluis, se Graad R-klas is al ‘n gevestigde term in Afrikaans, terwyl die “R” in hierdie geval vir “Reception” staan. Selfs CVO-skole handhaaf nie sterk standpunte hieroor nie.
Afrikaners moet hulself afvra of daar werklik ‘n wil is vir Afrikaanse onderwys, of is dit maar ‘n modegier om vir Afrikaans te skree en nie agter te kom dat die onderwysstelsel waarin dit bedryf word, in Engels uitgedink, geformuleer, beskryf en bedryf word nie?
Die CAPS (Curriculum Assessment Policy Statement) van die onderwysdepartement is ‘n toonbeeld van die regering se minagting vir Afrikaans, en dat daar nog nie meer hieroor deur Afrikaners gesê is nie, ‘n toonbeeld van die papperige ingesteldheid oor Afrikaanse onderwys. ‘n Paar voorbeelde:
•Die vak se naam is Afrikaans Huistaal (oftewel home language) – wat het geword van “eerste taal” of die nog mooier en ware Afrikanersegswyse “moedertaal”?
•Die voorblad stel dan dat dit die Nasionale Kurrikulumverklaring (NKV) en Kurrikulum- en asssesseringsbeleidsverklaring is, maar dan vir die Grondslagfase Graad R – 3 en veral die illustrasie met die drie sleutelprentjie is “CAPS: Structured. Clear. Practical: Helping Teachers Unlock the Power of NCS”.
•Deurgaans in die publikasie is die staatslogo daar met “basic education; Department: Basic Education; Republic of South Africa” en geen agting vir daardie amptelike landstaal, Afrikaans, nie.
•Die adres, uitgewer en drukbesonderhede is in Engels.
•Die voorwoord is Foreword by the Minister.
•Bladsy 3 tot 5 van Afdeling 1 wemel van die Engelse verwysings na wette en beleidsdokumente, wel mooi in kursief gedruk, maar dit vryf die feit van ‘n Engelstalige onderwysstelsel diep in – in die Kurrikulum en asssesseringsbeleidsverklaring (KABV) oftewel soos meeste Afrikaanssprekende onderwysers ook sommer sê: CAPS – vir Afrikaans Huistaal.
•Dit geld dus vir al die ander CAPS des te meer dat hierdie hele vorming en voorskrif van Suid-Afrikaanse onderwys in die 21ste eeu Engels van aard is.
Daar is ongelukkig meer voorbeelde van die diepte van verengelsing van Suid-Afrikaanse onderwys, wat onder andere in ‘n afdeling van die oorwegend Afrikaanse Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU) se SACAI gesien kan word. SACAI word op die kantlyn voorgehou as ‘n moontlike sogenaamde onafhanklike eksamenraad (onder andere vir tuisskole, en daar waar die BCVO Eksamenraad, later bekend as die OAER en later as ERCO hom begeef en gefaal het). SACAI staan vir die “South-African Comprehensive Assessment Institute” (die koppelteken in South-African is nou weer ‘n Afrikaansnisme, maar is presies soos die naam bo-aan hulle webblad by www.sacai.org.za voorkom). Die Afrikaanse naam vir hierdie organisasie is ‘n gedroggie wat soos volg lui: “Suid-Afrikaanse Komprehensiewe Assesseringsinstituut”. Is dit jou werklikwaar die beste wat Afrikaners kan voortbring, of sit daar ook maar agter hierdie organisasie ‘n Engelse karakter en struktuur?
Die tuisskoolverskaffers, Impakonderwys, wat ‘n jaar of wat gelede deur PSG gekoop is, het alreeds onder Pieter Botha-hulle met Delta Education begin; waarskynlik om redes van rand en sent, want die Engelse mark vir onderwys wat probeer wegbreek van staatsonderwys, is heelwat groter as die ooreenstemmende Afrikaanstalige mark. Die ooglopende verengelsing wat in Impakonderwys plaasvind, kan dus ook nie net op PSG se brood gesmeer word nie.
‘n Organisasie soos die BCVO (Beweging vir Christelik-volkseie Onderwys) sal vinnig moet plan maak of hy nou in of uit die staatsonderwys beweeg en sal minstens ‘n terminologie moet vestig om ‘n skans te bou teen die Engelse onderwys wat in Afrikaanse woorde uitgevoer word, teen te gaan.
Die IEB (Independent Examination Board) is in wese Engels, hoewel met ‘n mooi ingesteldheid om Afrikaners wat by hulle wil inskakel, wel tot ‘n mate ter wille te wees. Dit bly egter ook ‘n stelsel wat ten eerste die staatskurrikulum volg en dit net met baie beter bestuurde onderwys uitvoer, maar ook self in Engels gedink en bestuur word.
Afrikaanse onderwys word skaars. Dis tyd vir oorspronklike werk vir handboeke, videos, handleidings, werksboeke en allerlei leermateriaal in oorspronklike Afrikaans. Niemand anders as Afrikaners gaan dit vir Afrikaans doen nie.
Hierdie en ander artikels oor onderwys is beskikbaar by www.saonderwys.wordpress.com
Indicato is besig met oorspronklike handboeke vir laerskool wat eietyds is, sonder enige CAPS of staatsbeïnvloeding, maar eerder verantwoord aan die akademiese behoefte om die moderne Christen-Afrikaner ‘n akademiese voorsprong te gee. Die indicato-kurrikulum is selfstandig, en akademies verantwoordbaar. Op YouTube is indicato media besig om stadig maar seker videos met interessanthede en lesings oor bepaalde onderwerpe in Afrikaans te plaas.
Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees. om meer inligting te kry oor indicato se leidinggewende werk vir onafhanklike, moderne onderwys in Afrikaans.
Of doen navraag by Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees. om aansoek te doen vir leerlinge om in ‘n moderne, ware onafhanklike Afrikaanse skool wat akademies verantwoordbaar is in te skakel, wat voluit skool is met al die aktiwiteite van ‘n moderne Afrikaanse skool, en waar daar byvoorbeeld nie “lewensoriëntering” is nie, maar wel Bybelperiode, naas die volle lees, skryf en reken-aanbieding met al die vakke wat vir akademiese vorming nodig is