kommentaar van 'n webleser met 'n interessante strekking!: Van dubbelsinnig na veelsinnig na onsinnig, dié VF Positief. Kortbroek-comrade Piet, glo 'n hoogleraar in kommunikasiekunde, sal hierdie "beleid" van hom net aan 'n student wat hy in die kommunikasiekunde opgelei het - en dalk Jacob Zuma - kan verkoop: KAAPSTAD. – Die Vryheidsfront Plus het sy missie gewysig en alle verwysings na ’n volkstaat daaruit verwyder.
Die missie, wat artikel 3 van die party se grondwet vorm, is op 17 November verlede jaar deur die meerderheid van die party se federale raad goedgekeur, met enkele teenstemme. Sedert die party se stigting in 1994 was die volkstaat-ideaal sentraal tot die VF+ se identiteit. Die stigtersleier, genl. Constand Viljoen, het in daardie verkiesingsveldtog gesê die aantal stemme vir die party sal ’n aanduiding gee van hoe sterk die steun vir ’n volkstaat is.
Openbare vergaderings van die VF+ is destyds gekenmerk deur die dreunsing van die woorde “volkstaat, volkstaat” deur ondersteuners van die party. Tot in November was die VF+ se missie soos volg: “Die VF+ is eerstens onherroeplik verbind tot die verkryging van die Afrikanervolk se vryheid in ’n volkstaat onder ons eie regering, en tweedens tot die beskerming en uitbouing van die regte en belange van volksgenote wat hulle binne en buite die volkstaat bevind.”
Sedert November lui die VF+ se missie: “Die VF+ is onherroeplik verbind tot die verwesenliking van gemeenskappe, en in besonder die Afrikaner, se internasionaal erkende reg op selfbeskikking, territoriaal en andersins, die handhawing, beskerming en uitbouing van hul regte en belange asook tot die bevordering van die reg op selfbeskikking vir alle gemeenskappe in Suid-Afrika gebind deur ’n gemeenskaplike taal- en kultuurerfenis.” By navraag het dr. Pieter Mulder, partyleier, ontken die VF+ het afstand gedoen van die volkstaat-gedagte. Volgens hom bevat die nuwe missie ’n ruimer verwysing na selfbeskikking. Vir sommige mense is kulturele selfbeskikking genoegsaam. Ander mense verlang ’n eie provinsie of staat – territoriale selfbeskikking, in die nuwe missie se woorde.
“Dit was ná 20 jaar nodig om die beleid te hersien. Ons het besef die venster van geleentheid wat in 1994 oop was, is iets wat een maal in ’n leeftyd, een maal in honderd jaar, gebeur,” het hy gesê. “Dit is nou verby, en artikel 235 van die Grondwet geld. Boonop is ‘volkstaat’ ’n moeilik vertaalbare Afrikaanse woord terwyl ‘selfbeskikking’ algemeen aanvaar word in die internasionale onderhandelings wat ons oor die kwessie voer.”