Feit is dat berade in die bos, of dan ook in die veld, aanduidend daarvan is dat die volk reeds in politieke benoudheid is...
Feit is dat berade in die bos, of dan ook in die veld, aanduidend daarvan is dat die volk reeds in politieke benoudheid is of dat daar deur sy leiers, maar dikwels ook sy misleiers, geskarrel word. In die Tweede Vryheidsoorlog was daar twee lelike oorgeeberade in die veld, een op De Emigratie naby Ermelo, en die ander een op Cyferfontein. Ja, die volk was toe in benoudheid, maar dit was in daardie berade dat die ware bittereinders na vore getree het, bittereinders wat nie wou buig voor die Engelse wapengeweld nie en in die komende eeu rigtingaanduidend in die politiek sou optree.
Nou het hierdie waarnemer gewonder: Wanneer laas was van hierdie ou NP-politici teenwoordig op 'n bosberaad?
FW de Klerk is Saterdag in 'n losie van die FNB-stadion in Soweto opgemerk waar hy die slagting wat die Springbokke op die Argentynse rugbyspan pleeg sit en dophou het. Die kort rukkie wat die TV-kameras op hom gerig was, het hy nie te entoesiasties oor die slagting gelyk nie. Trouens, dit het gelyk of die slagting hom totaal koud laat, 'n mens, al is hy die argitek van die nuwe, bloedige Suid-Afrika, raak maar seker afgestomp vir bloed en mishandeling, selfs vir 'n volksmoord, mnr. De Klerk?
De Klerk se afsydigheid van die siek rugbyskouspel in Soweto het dadelik die gedagte laat opkom: Aag wat, hy is seker vir ander redes in die noorde van die land, wie weet, dalk 'n bosberaad.
Nie dat daar enige besondere probleem met berade is nie, trouens, selfs Die Skrif beveel klaarblyklik berade en “baie raadgewers” aan. Van raad sal 'n mens nooit genoeg kry nie, dis net dat diegene wat die raad aanhoor die vermoë en die verstandigheid moet hê om tussen goeie en slegte raad te onderskei.
Of hierdie waarnemer vir De Klerk sal aanbeveel om 'n beraad êrens in Afrika se bos, weg van mediese hulp en ander moderne geriewe by te woon? Hy het mos onlangs 'n “hartprosedure” ondergaan?
'n Ander goeie kandidaat vir 'n bosberaad is mnr. Pik Botha. Hy, De Klerk, Constand Viljoen en nog meer, is mos deur Dirk Hermann van Solidariteit vir kommentaar ingetrek in sy boek oor Swart bevoordeling in die werkplek, Botha wat verlede week 'n nuuskonferensie oor die boek bygewoon het.
Jammer om te skryf, maar die beeldmateriaal wat hierdie waarnemer op die TV-nuusuitsendings van mnr. Botha in oënskou gehad het, maak van hom uit 'n gesondheidsoogpunt nie 'n goeie kandidaat vir 'n ruwe bosberaad nie.
En die beeldmateriaal van De Klerk in die rugbylosie? Dis te kort om 'n verantwoordelike mening te waag. Die SABC-kameras het seker maar opdrag gehad om die TV-flitse kort te hou, De Klerk is glo 'n sagte of harde teiken weens die uitverkoop van sy volk, hy ry juis rond en 'n pantserkar van 'n paar miljoen rand.
En dié twee karnallies, dis nou Pik en Frik, was juis sulke goeie bosberaadgangers in die ou dae. Sportief en so aan, so sportief dat Ken Owen, 'n Engelse joernalis, oor al De Klerk se sportiewe politieke gebare verklaar het, “he went way beyond” die mandaat wat hy vir onderhandelinge met die kommuniste gekry het, dit was nou die mandaat wat De Klerk in die 1992-referendum van die Blanke kiesers ontvang het, 'n ja of 'n nee wat die kiesers op 'n misleidende vragie moes antwoord.
Dat bosberade 'n slegte naam het by Afrikaners is dus geen verrassing nie, dié goed sal deesdae so diep in die bos gehou moet word in pogings dat dit nie rugbaar raak nie, so geheimsinnig, dat die beraadgangers in morsekode met mekaar sal moet praat, die beraadgangers wat elkeen van agter sy eie miers- of molshoop met mekaar kommunikeer. Met die baie sterk waarskynlikheid dat elke beraadganger van sy eie molshoop 'n berg sal maak.
Hierdie waarnemer was op sy dag self bevoorreg om 'n beraad in die bos by te woon (ek kies my woorde versigtig), “nie 'n bosberaad nie”, is ek die dood voor oë gesweer, “as jy daarna verwys, noem dit liefs 'n kajuitraad – net nie 'n bosberaad nie”.
Die plek waar hierdie waarnemer die beraad bygewoon het, was klaarblyklik 'n gewilde oord vir bos- en kajuitrade. Terwyl ons die toneel van ons beraad genader het, het iemand my ingelig: Hier het so en so ingekoop by die nuwe, onverbeterde Suid-Afrika, as jy sy toestand tydens daardie beraad weet sal jy verstaan waarom hy ingekoop het. Laat my net byvoeg: Die woord “omgekoop” is nooit in die mededeling gebruik nie.
Laat daar tog maar toegegee word: Daar is steeds iets romanties aan die woord bosberaad. Of selfs bloot die woord bos.
Ongelukkig ook iets profeties daaraan.
Ja, ook die woord profeties het 'n modewoord van ons tyd geword, alles maar aanduidend van die onseker tye waarin ons leef. Daar moet ongelukkig gekonstateer word dat ook Swart profete toegetree het tot die voorspelling/verklaring van die toekoms, daardie baie ryk Nigeriese “profeet” TB Joshua wat ook nou 'n stuiwer in Suid-Afrika se armbeurs kom gooi het. (En, dink net, so 'n jaar of twee gelede en met die wêreldsokkerbekerreeks op hande en die slag van hele kuddes beeste in die sokkerstadions, was alles nog so rooskleurig vir die Swart menigte.)
Terug by bosberade...
Het hierdie destydse ywerige bosberaadgangers, ook Pik en Frik, geweet die Afrikaners sal nog eendag verplig wees om, weens die roof van hulle eie, wettig verkose Volksraad, in raap-en-skraap-omstandighede moet vergader ten einde een of ander koers vir die Afrikanervolk aan te dui?