1 2 3c

Totale besoekerstal

Artikels vertoon Trefslae
9959984

Besoekers aanlyn

Ons het 69 gaste en geen lede aanlyn

 

  Videos en Toesprake

St Helena projek 200

Teken aan

Media

Wat is die oplossing vir ons vryheidstryd

altBRING BYMEKAAR WAT UIT INNERLIKE OORTUIGING BYMEKAAR TUIS HOORT

Hierdie standpunt van dr. D F Malan, wat ook die strewe van die AVP is, sluit mense in en sluit mense uit. Om innerlik van iets oortuig te wees, is om vanuit jou diepste wese, nl. Liggaam, siel en gees te glo. Wie dan só glo, met die vereiste dat dit waarin en waaraan hy of sy glo, ooreenstem met diégene met wie hulle wil saamtrek, dit is hulle wat bymekaar tuis hoort. Dit is ook die enigste soort “hoort” wat blywende waarde het.

Waar ‘n volk betrokke is, sal die ideaal wees dat die hele volk eendragtig ten opsigte van beleid en beginsel moet wees ten einde by die mag uit te kom waarna President Paul Kruger verwys het in sy slagspreuk: “Eendrag maak Mag.” Dít is dan ook grootliks wat die Nasionale Party in 1948 aan bewind gebring, en tot die sluipmoord op dr. Verwoerd, in ‘n meerderheid eendragtig bymekaar gehou het sodat verkiesing na verkiesing, die Afrikanervolk ‘n stewiger greep van politieke beheer in Suid Afrika verkry het. Die gevolg hiervan was ‘n al swakker Britse invloed wat die voedingsbron van die liberale politieke partye was. Hulle verswakking het dan ook hand-oor-hand toegeneem met ‘n verval in een na die ander kleiner liberale party met feitlik geen invloed meer nie. Die VP het opgegaan in die Progressiewe Party, Progressiewe Reformiste Party, Progressiewe Federale Party, Demokratiese Party en uiteindelik in die Demokratiese Alliansie (DA) wat deur Helen Zille bedryf word.

 

Wat het van die innerlike oortuiging van 1948 geword?

Deur net die Verwoerdanker te trek was die Afrikanervolksboot aan die winde van verandering blootgestel en was die eerste brugbouer, die beeldradio, aangewend om nasionalisme af te takel. Dr. Albert Hertzog se waarskuwings ten spyt. Die tweede kragtige brugbouer wat aangewend is, was sport. Dr. Danie Craven het gedryf totdat hy daarin geslaag het om Maori’s teen die Springbokke in Suid Afrika toe te laat met die resultaat van een toegewing, nog ʼn eis, nog ʼn toegewing en met die finale eis, nl. Swart meerderheidsregering toegegee, was die innerlike oortuiging oor beleid en beginsel dermate geskaad dat die eendragtigheid van die Afrikanervolk aan flarde lê, en veral omdat ons nie tred gehou het met die aard van die stryd wat teen ons gevoer is nie.

Met die toetrede van die kerke en Afrikaner kultuurorganisasies wat almal deur Broederbondlede oorheers was in die leiersposisies en derhalwe in ‘n ondersteuningsrol tot die regering se oorgaweprogram figureer het, was die tafel gedek vir ‘n drastiese koersverandering. Die kern van die Afrikanervolk, wat as ‘n reël nooit meer as 10% van ‘n volk omvat nie, het onbesoedeld deur hierdie sekulêre wêreldgees, met ywer gepoog om die vloedgolf van verandering te keer, dog sonder sukses. Die deeglike en omvattende voorbereiding van buite ons volksgrense waarby die vertroude en gekose leiers van ons volk betrek is, was alles in die geheim agter geslote deure en met goedbeplande tydsberekening uitgewerk en toegepas, sodat die Afrikanervolk só volledig daardeur ingesluit en saamgeneem is, dat daar bykans geen weerstand daarteen opgewek kon word nie.

Professor Huntington van Harvard Universiteit se resep van persepteologie, nl. jy sê wat die mense wil hoor, maar doen dan wat jy beplan het, is so volledig toegepas dat die persepsie geskep is dat die mandaat van die volkswil uitgevoer word. Hierdie benadering wat gerugsteun is deur die brugbouery van vermaak en sport, kerk en kultuurleiers, het gaandeweg in ‘n raps minder as dertig jaar, die stroom van honderdduisende Afrikaners wat die NP van dr. Malan, adv. Strydom en dr. Verwoerd met hart en siel ondersteun het, laat verminder na ‘n dun stroompie wat plek plek dreig om op te droog.

STEL JOU BELEID

In die era van Verwoerd en verder terug was dit die vraag waarmee enige nuwe beweging gekonfronteer is. Stel jou beleid! Die Afrikaners wou eers weet waarheen jy met hulle op pad is voordat jy op enige steun kon staatmaak. Die pad vir die blanke in Suid Afrika was immers reeds duidelik bepaal deur enersyds die aanskouingsles van Afrika van eeue gelede wat ‘n vaste patroon had en andersyds deur beproewing en toepassing, ervaring en sukses van aanwending van beginsel en beleid. Die bedrogvolle en stelselmatige afwyking na links het selfs by die heel liberales egter nou ‘n sweem van skuld laat ontwikkel wat sy oorsprong in die verval op elke lewensterrein in die Suid Afrikaanse samelewing het. Meer so omdat dit ook in lyn is met die menige voorspellings dat dít die verloop gaan wees indien die teenpool van nasionalisme, nl. multikulturalisme aanvaar word as beleid. Wanneer die deelnemers vandag dan met die werklikheid van verval gekonfronteer word, is die vraag nie meer wat jou beleid is nie, maar wat is jou oplossing as verweer vir deelname in teenstelling met verset.

WAT ÍS DIE ANTWOORD?

Om begrip te hê vir die antwoord, moet daar allereers ‘n begrip wees vir die aard van die stryd. Daarsonder sou enige antwoord gegee kon word en word daar inderdaad antwoorde aangebied en optredes gevolg wat tot nou toe weinig indien enige positiewe resultaat gelewer het. Baie van ons bruikbare Afrikanerseuns is gevang en toegesluit, terwyl ander se geld en energie in nuttelose oefeninge aangewend is met frustrerende resultate en verdelende gevolge. Sodoende het menige al die stryd gewonne gegee en word hulle opgevang in pogings om die nuwe Suid Afrika te maak werk, terwyl andere heeltemal onttrek en nog ander emigreer het. Dit is dan ook hier waar die Humanisme vervleg raak met die Bybelse naasteliefde en die standpunte van mense en instansies soos Beyers Naude, Boesak en die Wêreld Raad van Kerke, wat aanvanklik hand en tand beveg is, nou nie net aanvaar is nie maar ook deur die teëstanders daarvan ondersteun en toegepas word in stryd met Afrikaners wat daarteen in verset is. Deur hierdie benadering word daar dus nou erken dat die beginsels en beleid van die Afrikaners nog altyd verkeerd was en die liberale teoloë en genote, nog altyd reg was!

Deelname is die teenpool van verset en stryd en is bepaald nie die antwoord nie. Daar is al baie gesê dat die stryd eers verlore is as jy die wil om te stry verloor het. Die praktyk is egter nou vinnig besig om antwoorde te formuleer as wêreldgebeure in aanmerking geneem word.

DIE AARD VAN DIE STRYD (Jaap Marais)

Die konvensionele politieke stryd in Suid-Afrika is verby na 27 April 1994, net soos die konvensionele militêre stryd na 30 Junie 1900 verby was met die Britse inbesitname van Pretoria. Polities is die Afrikaners in 'n soortgelyke posisie as wat die Boerevolk militêr gesproke na Junie 1900 was. By die vredesonderhandelings van 1993 was dit die verraaiers en oorgeërs en vredepraters wat vreemd aan die gees van die Bittereinders, hulle volk se vryheid op vernederende voorwaardes weggegee het. In 1902 het die vegtende Bittereinders hulle volk verteenwoordig by die vredesonderhandeling en 'n eervolle vrede beding.

Die geskiedenis sedert 1902 is die verhaal van voortgesette stryd van daardie Afrikaners wat die gees van die Bittereinders verteenwoordig het. Die ark van die Afrikanerdom is gedra deur die Bittereinders van elke geslag Afrikaners. Na 1902 was daar nie 'n Boereleier wat kon sê: dit is ons "strategie", en dit is ons "taktiek" op die pad vorentoe nie. Die land was verwoes, die volk in rou en in armoede gedompel. Die leiers moes koers aandui. Elkeen van die vier groepe was verbind tot die wese van hulle vorige optrede — verraad, oorgee, vredemaak, enersyds, en stryd wat voortgesit word, andersyds. Die verraaiers (Piet de Wet, Andries Cronjé, Vilonel) is uit die volk gestoot; die oorgeërs (Piet Cronjé en Ben Viljoen) wou die Boere-generaals na Europa vergesel na afloop van die oorlog, maar Botha, De Wet, en De la Rey wou hulle nie in die geselskap hê nie, en hulle het met ʼn gevoel van ontuis-wees die land verlaat. Viljoen vir goed; die vredepraters (Botha en Smuts) het opgegaan in die nuwe bestel en so teen hulle volk gedraai dat hulle in 1914 op hulle voormalige Boerestrydmakkers geskiet het ter wille van Britse belange. Van vredemakers het hulle deur 'n proses van volksvervreemding gegaan en 'n Britse aanhanklikheid verwerf wat hulle in die oë van die Bittereinders verraaiers gemaak het.

DIE OPLOSSING

Die AVP se strategie rus op dieselfde uitgangspunt as die wat mnr. Jaap Marais voorsien het. Ons berus nie in die bedrogvolle verowering deur 'n terroristebende nie; ons beskou die nuwe regime as onregmatig, daarom neem ons nie daaraan deel nie.

Ons taktiek is, na 27 April 1994, soos die van die Boeremagte na Junie 1900, aangepas by die nuwe situasie, naamlik die van 'n politieke guerrillastryd, met die primêre doel om ons volkstrots en nasionale selfrespek te herstel as die voorvereiste vir effektiewe vryheidstryd. Die stryd teen die Afrikanervolk is in wese ook die stryd tussen lig en duisternis. As ons dit besef sal ons met groter aandag en toewyding na bepaalde duidelike riglyne in die Bybel kyk en dan ons voorbereiding tref.

EFÉSIËRS 6:12

Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug.

SAGARÍA 4:6

Toe antwoord hy en sê vir my: Dit is die woord van die HERE aan Serubbábel, naamlik: Nie deur krag of deur geweld nie, maar deur my Gees, sê die HERE van die leërskare.

In eie krag was daar nou al heelwat mislukte pogings om by ons ideaal van vryheid uit te kom. Deur te open met Skriflesing en gebed? Is dit nie ook waar van ons Afrikanervolk as Jesus sê: MARKUS 7:6 En Hy antwoord en sê vir hulle: Tereg het Jesaja oor julle, geveinsdes, geprofeteer soos geskrywe is: Hierdie volk eer My met die lippe, maar hulle hart is ver van My af.

PREDIKER 10:2

Die hart van die wyse is na regs, maar die hart van ’n dwaas is na links

Guerilla Stryd.

Die destydse guerrillaleiers se taktiek was om die vyand se swak plekke uit te soek en aan te val. Hulle onvermoë, hulle korruptiewe optrede, hulle gebrek aan beplanning, hulle misdadigheid, in kort, elke swak plek in die huidige regime se mondering, met die klem op volksmoord en misdadigheid. Om die uitdaging tot magsametrekkings te vermy, die vyand se toevoer van wapens en proviand te ontwrig deur klem te laat val op die onverantwoordelike aanwending daarvan en veral klem te plaas op die Westersvyandige lande aan wie hulle wapens voorsien. Die stryd uit te rek en waar moontlik die vyand se soldate en ondersteuners te frustreer en te ontmoedig. Hierdie taktiese aksies in die huidige politieke guerrillastryd se uitvoering aan te pas na gelang die strydtoneel verander, terwyl die strategiese doelwit onvoorwaardelik bly: die herwinning van ons vryheid.

DEELNAME (Jaap Marais)

Een ding is duidelik: om aan die Kommunisties-gereelde een mens, een stem verkiesings deel te neem, is om terug te val tot die konvensionele politieke stryd wat sedert 27 April 1994 verby is, net soos die konvensionele militêre stryd na die val van Pretoria einde Junie 1900, en net soos die konvensionele militêre stryd verby was in Holland na Mei 1940 en in Frankryk na die Duitse inname van Parys. Die 1999-verkiesing is 'n magsametrekking van die vyand wat in guerilla-terme vermy moet word. Napoleon het gesê: "Dit is 'n aanvaarde voorskrif van oorlog: moet nooit doen wat die vyand wil hê jy moet doen nie, omrede alleen dat hy dit begeer... Vermy 'n slagveld waarop hy ingegrawe is". Dit is letterlik toepaslik op die uitnodiging om aan die 1999-verkiesing deel te neem. Die ANC-SAKP wil hê dat Afrikaners daaraan moet deelneem, omdat hulle weet die Afrikaners kan hulle nie in hul verskanste politieke posisie verslaan nie.

Die vraag om te beantwoord, is tans nie eerstens: wat is jou taktiek en strategie nie,   maar wat is jou uitgangspunt in die gegewe werklikheid? Neem jy deel aan die onregmatige politieke beste! en gee jy sodoende daaraan erkenning, of bly jy daarbuite en sit die stryd van buite voort? Dit was reeds die vraag toe die bedrieglike vredesonderhandelings in 1993 by Kemptonpark aan die gang was, waarby die vyande die Afrikaners ten alle koste betrokke wou kry, want die persepsie moes geskep word dat die Afrikaners met die ANC vrede gemaak het. Die wat daarin ingegaan het, kon nie weer daaruit nie en dit oorheers steeds hulle voortgesette verkeerde taktiek en strategie. Om aan die vredesonderhandelings te Kemptonpark deel te neem, was die voorvereiste dat aan die vyand oorgegee moet word. Dit is wat die ANC-SAKP sedertdien dan ook laat optree het as die oorwinnaars wat hulle vredesvoorwaardes aan ander opgedwing het en voortgaan om as die oorwinnaars die Afrikanervolk as 'n verowerde volk te behandel.

Die prys

Die KP het in 1991 in 'n verklaring gesê deelname aan die onderhandelings is verraad, maar in 1993 het hy onder die vaandel van die Afrikanervolksfront en die sogenaamde COSAG en Vryheidsalliansie deelgeneem asof deelname aan die onderhandelings toe nie meer verraad sou wees nie. Dit was 'n sigbare taktiese misstap wat net Afrikaners verwar en die vyande bevoordeel het. In 1994 het die KP gesê hy bly buite die Kommunisties-gereelde verkiesing, ook uit godsdienstige oorwegings, maar in 1995 en 1996 het hy met vernederende gevolg deelgeneem en is nou op grond van sy selftoegediende besering verbind om ook aan die 1999-verkiesing deel te neem. Geen taktiek en strategie kan sinvol wees as dit so veranderlik is nie, want dan is "taktiek en strategie" net 'n verskoning vir opportunisme en gebrek aan beginsels en oortuiging.

Alliansies

Die verkeerde besluit van die KP en ander om aan verkiesings deel te neem, neem nou die wetmatige verdere verloop. Dit is dat nie een van die Blank-oorheersde partye wat aan die vorige verkiesings deelgeneem het, op sy eie aan die 1999-verkiesing kan deelneem nie. In die munisipale tussenverkiesing in Boksburg in Oktober 1997 was daar sowat 8000 Blankes op die kieserslys teenoor 1200 Kleurlinge en 680 Swartes. Die NP het 648 stemme gekry, waarskynlik meestal van Kleurlinge. Die Vryheidsfront het 247 stemme gekry. En die KP net 125. Dit was net nadat die KP besluit het om aan die 1999-verkiesing deel te neem, wat hy klaarblyklik nie op sy eie sal kan doen nie. Dit bring die volgende misstap mee, naamlik die sluiting van alliansies met ander partye wat in 'n soortgelyke posisie verkeer. Dit is dus nie bondgenootskappe op grond van eenderse politieke oortuigings nie, maar onheilige alliansies om eie belange te bevorder en vyandige oogmerke te dien deur Afrikaners na die stembus te lei.

Die alternatief is om buite die bestel te bly, en soos Napoleon gesê het die slagveld te vermy waarop die vyand verskans is. Hoe groter die getal Blankes is wat weier om aan die verkiesing deel te neem, hoe sterker word die gees van verset en hoe gunstiger word dit om in gemeenskaplikheid teen die vyand te staan en die stryd voort te sit.

Nasionalisme

Een feit moet steeds erken word: nasionalisme se krag lê in die vermoë om eenvoudig nee te sê. Daar is tevore aangehaal wat genl. De Gaulle se Minister van Kultuursake, Andre Malraux, oor hom gesê het, naamlik: "Sy (De Gaulle se) natuurlike impuls was om nee te sê, en hy was op sy gemak alleen wanneer hy nee gesê het". Dit is die onderskeiding van die egte nasionalis. Om nee te sê vir 'n vyand se taktiek en strategie is 'n onmiddellike teentaktiek en -strategie. Om dit te doen, is nie om, soos gesê word, niks te doen nie: dit is die grondslag van teentaktiek en -strategie. Daaruit het die weerstandsbewegings in Europa begin en is die Engelse Oorlog deur die Bittereinders, eers op ander wyses en later met ander middels, voortgesit, met geen ander taktiek nie as die opwekking van die wil tot verset en volharding en die handhawing van die nasionale eer nie.

Begeestering, Organisasie

Die essensie is dat vir effektiewe weerstand daar begeestering en organisasie en kommunikasie moet wees. Dit ontbreek tans onder Afrikaners, omdat leiers hulle in die steek gelaat en verraai het. En die herstel daarvan moet voorrang geniet. Die begeestering moet kom uit 'n verskerping van die historiese sin, begrip van vyandige oogmerke en die oproep tot plig en eer en trou. Die organisasie moet mense verenig op die grondslae van die Bittereinders se stryd, dit is Afrikanernasionalisme. Die leier-verraaiers moet geïdentifiseer, ontbloot en as volksvyande die banvloek oor hulle kry. Die leiers van die oorgeërs moet stilweg eenkant gehou word, want hulle het 'n geestelike knak gekry waarvan hulle nie sal herstel nie, maar waarvan hulle kinders vry sal wees. Die vredepraters moet skepties na geluister en op 'n gerieflike afstand gehou word, want hulle sal 'n verlammende en frustrerende invloed wees wat stryd teen die vyande wil vermy en die vyande se taktiek en optrede sal wil vergoeilik of verskoon. Die vegtende minderheid, die Bittereinders, sal die historiese oproep van die nasionalisme: vaderland, volkskap, vryheid, beantwoord. Hulle is die magnetiese kern wat ander aantrek en bind en 'n mag word groter as die totaal van hulle getalle. Die grootste deel van die Afrikanervolk is nie verraaiers of oorgeërs nie. Hulle is mense met moed en geloof, maar baie is mislei en bedrieg deur leiers.

Nuwe slenter

Mnr. Izak de Villiers, (vroeër NG predikant) en later redakteur van Rapport, bekend as 'n Broeder, 'n ou vriend van Pienk Piet Cillie (vroeër van Die Burger) het onder andere gesê: "... in veelbewoë tye van die Afrikaner het leiers op alle gebiede meermale blitsvinnig en onverwags op die toneel verskyn... Wie kan sê dat dit nie weer gebeur nie? En dan noem hy Vader Kestell, genl. Hertzog en Paul Kruger, asof enigeen van hulle "blitsvinnig en onverwags" op die toneel verskyn het.

Die figure wat wel skielik in die Afrikanerpolitiek verskyn het, het nie juis 'n gelukkige nagedagtenis gelaat nie. Een was 'n predikant, 'n ander 'n regsgeleerde en die derde 'n generaal, onderskeidelik ds. Thomas Burgers, dr Hans van Rensburg en genl. Constand Viljoen.

Daar word klaarblyklik beoog om weer 'n valse front te stig om die opgang van die HNP te belemmer, soos in 1982 met die stigting van die KP en in 1993 met die stigting van die Afrikanervolksfront (AVF). Al wat dit sal afgee, is verwarring en verydeling van goeie Afrikaners wat weer in goedertrou op sleeptou geneem sal word, soos op die reis na die nêrens van 'n volkstaat. Enige betrokkenheid van die Afrikaner (Broederbond) moet beskou word as voortsetting van die volksverraad wat deur die organisasie gepleeg is in die komplot om die Afrikanervolk aan 'n Kommunisties-beheerde Swart regering te onderwerp.

Hierdie standpunt van mnr. Marais is nou besig om te kulmineer in die FW Stigting se pogings tot opgang in samewerking met Radio Pretoria, Solidariteit en AfriForum.

Verder het ons te maak met die invloed van media wat gebruik word om mense te verwar, te verdeel en te frustreer. Die grootste voordeel van die vyande van nasionalisme is dat hulle die steun het van die kommersiële media wat beheer word deur die geldmag in sy strewe na die uitwissing van die grense van ras en volk en kultuur en godsdiens en nasionale state. Hulle beskerm die samesweerders en die verraaiers. En deur wanvoorstelling van volksgetroue leiers, soos die Afrikanervolk ervaar het deur die haatveldtog teen Kruger, Hertzog, Malan, Strijdom, Verwoerd en dr Albert Hertzog, skep hulle vooringenomendheid by 'n oningeligte publiek. Andersyds verswyg hulle politieke opponente in hulle berigte om die indruk te gee hulle bestaan nie of is nie belangrik nie. Daarnaas plaas hulle 'n verbod op publisiteit aan sameswerings teen die volk, soos die IDASA-komplot gedemonstreer het.

IDASA-komplot

Die onthulling van die IDASA-komplot het die kommersiële media se ware aard ook ontbloot. Hulle het die sensasionele onthulling van 'n groot sameswering volkome verswyg, in stryd met alle reëls van goeie joernalistiek en gewone eerbaarheid. Die rede is dat hulle die samesweerders en die magte agter die moet beskerm. Selfs Radio Pretoria was gemuilband, omdat die KP se R500 000-rentevrye lening aan Radio Pretoria en Constand Viljoen en Tienie Groenewald se invloed 'n versperring is teen publisiteit aan so 'n infame volksvyandige sameswering waarby hulle diep betrokke was.

MEDIA NIE ONOORWINLIK

Sulke bedrog het geen innerlike lewenskrag nie. En goeie organisasie kan 'n insulering teen die invloed van die kommersiële media wees en die valsheid teëwerk. Die oorwinning van die Nasionale Party in 1948, en die oorwinning van die Rhodesian Front in 1962 is goeie voorbeelde van hoe met beperkte kommunikasiemiddels, maar goeie organisasie, suksesvol teen die tegnieke van die geldmag-beheerde media gestry kan word.

Waar die media 'n party en sy leier in afbrekende terme behandel om 'n swak beeld van hulle te skep, is die antwoord daarop: inspanning, volharding en bekendstelling aan die publiek bo-oor en buite-om die media. In die VSA het byvoorbeeld Ronald Reagan die sukses daarvan bewys. En voor hom het Barry Goldwater se aanwysing as presidentskandidaat van die Republikeine die mag van goeie organisasie getoon. Daar is op die oomblik reeds 23000 mense wat deelneem aan ‘n boikot van Nasperskoerante en die AVP steun dit heelhartig. Hou eenvoudig op om hulle te ondersteun totdat hulle die Afrikaner se saak onpartydig publiseer. Swart op Blanke aanvalle, moord en verkragting op die voorblaaie plaas met fotos en telkens die oortreders se ras identifiseer.

LES VAN 2000 JAAR GELEDE

"Daar is niks" het Seneca in die eerste eeu n.C. gesê, "wat nie deur volgehoue inspanning en voortdurende en waaksame sorg oorkom kan word nie". En in dieselfde rede het hy gesê: "Gebrek aan vertroue is nie die gevolg van moeilikheid nie: die moeilikheid kom van gebrek aan vertroue". Die les van byna 2000 jaar gelede moet weer gegrif word op die hart van die Afrikaners wat die gees van die Bittereinders voortdra in een van die grootste krisistye van die Afrikanervolk.

ARK VAN AFRIKANERDOM

Vandat die Nasionale Party-Broederbond-NG Kerk-alliansie die rug op dr HF Verwoerd en sy voorgangers gedraai het, die ark van die Afrikanerdom kom rus by die wat trou gebly het aan hulle Witmanskap, hulle Afrikanerskap, hulle Christenskap en, soos 'n sterk voorgeslag van hulle nageslag sou verwag het, die stryd voortgesit het teen die aanvanklike politieke oormag van die NP-NG-AB-alliansie en hulle buitelandse base en bondgenote. April 1998                            

 s1

 d1

 sw1

 v1

Haat Spraak  

 

Volkstem Vorige Uitgawes Advertensie