
Referaat gelewer deur Pieter van der Spuy op die Afrikaner Volksparty-kongres op 16 Maart 2013
1 INLEIDING
In 1994 verskyn ‘n regeringspublikasie in verband met grondrestitusie aan swart mense in Suid-Afrika met die titel This is our Land (Commission on Restitution of Land Rights (Department of Land Affairs): This Is Our Land; Restitution of Land Rights, Act No. 22 of 1994 as amended and Related Documents).
‘n Slagspreuk van ‘n prominente Afrikaner-nasionalis, mnr JA Marais en sy party was Dié land is ons land!
Soos prof Louis Changuion en Bertus Steenkamp in die voorwoord tot hulle boek, Omstrede Land, tereg aandui skep die titel van die ANC-regeringspublikasie die indruk dat die regering glo dat die land net aan die swart bevolking moet behoort.
Hierteenoor dui die beklemtoning in wyle mnr Marais se slagspreuk dat die Afrikaner dit ondubbelsinnig stel dat hy nie ‘n ander land as Suid-Afrika het nie en dat hy sy reg op sy vaderland opeis.
Hoe dit ookal sy, hierdie slagspreuke dui op ‘n voortdurende stryd om die eiendomsreg van grond in Suid-Afrika en om die politieke mag binne Suid-Afrika as staatkundige gebied.
Wat die politieke mag oor die staatkundige gebied van Suid-Afrika betref, berus dit tans by ‘n kommunistiese swart ANC-regering.
Wat die eiendomsreg en fisiese beheer van grond betref, is Afrikaners en ander blankes die reghebbendes van ‘n groot persentasie van Suid-Afrikaanse grond. Statistiek in hierdie verband is onbetroubaar.
Changuion en Steenkamp 301 beraam dat 34% van alle Suid-Afrikaanse grond in 2012 aan blankes behoort het. Volgens Gugile Nkwinti, Minister van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming, het 87% van kommersiële landbougrond in 2010 aan blanke boere behoort en 13% aan swart boere. Die korrektheid van hierdie syfers is moelik verifieerbaar, maar dit kan aanvaar word dat ‘n groot persentasie van plaasgrond tans aan blankes behoort.
Dus: Die Kommunistiese ANC-regime het die politieke mag binne die Suid-Afrikaanse staat, maar ‘n groot deel van die grond binne die staat behoort aan die witman. Dit is vir die regime, wat privaat eiendomsreg as politieke mag beskou, onaanvaarbaar. Zuma verklaar op 12 Januarie 2013: “Die fundamentele grondslag van alle welvaart en mag is die besit van grond.” (Beeld 14 Januarie 2013 4.) Die ANC se grondhervormingsbeleid is daarop ingestel om ten alle koste die grond-situasie om te keer en alles dui daarop dat die proses vanjaar, 100 jaar na die inwerkingtrede van die Swart Grond Wet 27 van 1913, verskerp gaan word.
Die volgende vrae verdien aandag:
Wat is die betekenis en belang van eiendomsreg van grond vir die Afrikaner?
Wat is die aard van die aanslag op blanke eiendomsreg van grond in Suid-Afrika?
Kan die Afrikaner die aanslag op sy eiendomsreg van grond afweer?
2 DIE EIENDOMSBEGRIP IN DIE ROMEINS-HOLLANDSE REG EN DIE BETEKENIS VAN DIE AFRIKANER SE GRONDBESIT
Reeds sedert 1814 is volle eiendomsreg van grond aan blanke boere toegeken. Volgens die Romeins-Hollandse Reg wat in Suid-Afrika geresipieer is, is eiendomsreg (dominium, Eigentum, ownership) dié saaklike reg wat die mees volkome en omvangryke heerskappy oor ‘n saak, soos grond, verleen (Van der Merwe Sakereg 170). Volgens Van der Merwe 172 is die gemeenregtelike uitgangspunt dat “eiendom sover as moontlik absoluut en onbeperk is en dat selfs die wetgewer eiendomsreg slegs in besondere omstandighede en met groot omsigtigheid beperk”.
Dat eiendomsreg van grond ‘n belangrike rol in die geskiedenis en vorming van die Afrikaner se identiteit en karakter gespeel het, kan nie betwyfel word nie. Die Franse digter-filosoof, Charles Péguy, na wie die Amerikaanse skrywer, Richard M Weaver, met goedkeuring verwys in Ideas have Consequences 146, sê dat “the relationship between spirit and matter is one of the great mysteries ... .” Dit kan by uitstek van die verhouding van die Afrikanerboer en sy grond gesê word. In die proses om sy plaas van die wildernis te ontworstel, het die Afrikaner eienskappe soos ‘n liefde vir die Suid-Afrikaanse bodem, ‘n sterk vryheidsdrang, ‘n onafhanklike gees, wilskrag, deursettingsvermoe, spaarsamigheid, vooruitbeplanning, selfsorgsaamheid, ‘n sterk geloof en ‘n verantwoordelikheidsin teenoor sy naaste en gemeenskap ontwikkel. Sukses as boere het by die individu, maar ook die Afrikanervolk as groep, selfagting en selfvertroue gewek. Bowenal sien die Christen-Afrikaner boer homself as ‘n rentmeester van sy grond teenoor sy nageslagte en die Skepper. Dit verklaar miskien gedeeltelik die aard van ons eiendomsbegrip as relatief vry en absoluut: Die rentmeesterskap van die Afrikanerboer skep ‘n inherente beheer oor die uitoefening van sy inhoudsbevoegdhede, wat die noodsaak van eksterne regulering (soos deur wetgewing) beperk.
Inderdaad was en is die boeregemeenskap die ruggraat van die Afrikanervolk in sy stryd om oorlewing en vryheid. En hierdie Boere-adel is gevorm deur daardie geheimsinnige wisselwerking tussen die menslike gees en die stoflike, die grond. Hierdie wisselwerking vind treffend neerslag in van ons volksliedjies, byvoorbeeld O boereplaas. Met verwysing na die Nasionale Party van DF Malan, sê Changuion en Steenkamp 190 dat die vasberadenheid van die Afrikaner om sy politieke mag in sy land te behou versterk is “deur die geloof dat die blanke die grond (hoofsaaklik die boerderygrond) moes hou omdat dit so ‘n groot deel van hulle kultuur uitgemaak het.”
3 DIE AARD VAN DIE AANSLAG
‘n Belangrike aspek van die aanslag is die vals propaganda wat deur die vyande van die Afrikaner oor die grondkwessie versprei word. So herhaal Jacob Zuma in sy staatsrede van 14 Februarie 2013, by wyse van ‘n aanhaling, die leuen dat “the Land Act of 1913 was introduced to dispossess the African majority”. Eerstens is die korrekte titel van hierdie wet die Black Land Act (die Swart Grond Wet) 27 van 1913. Tweedens was die doel van hierdie wet, soos die naam aandui, juis om die reeds bestaande swart gebiede vir altyd as onvervreembare swart grond te erken en blanke verkryging daarvan te verbied (Changuion en Steenkamp 134). Dienooreenkomstig is swartes nie toegelaat om grond van blankes in blanke gebied te koop nie. Die Wet was duidelik ‘n tydelike maatreël en artikel 2 het bepaal “dat die Goewerneur-Generaal ‘n kommissie moes aanstel om te bepaal watter gebiede vir die swart en ander bevolkings van Suid-Afrika gereserveer moes word. Hulle moes veral ingaan op die moontlikheid van meer grond vir die swart bevolking.” (Changuion en Steenkamp 135). Die Naturelletrust en –Grond Wet 18 van 1936 het later uitvoering gegee aan die bepalings om meer grond vir swartes te verkry. Die area van die SA oppervlakte wat vir swartes gereserveer is, is daardeur verhoog van 7,5% na 13,4%, wat waarskynlik 24% van Suid-Afrika se landboupotensiaal verteenwoordig weens die hoë reënval in die grootste deel van hierdie gebied. Saam het die twee wette die grondslag gevorm vir die tuislandbeleid vir die swart volke (Changuion en Steenkamp 166,304).
Generaal Hertzog, wat eintlik die argitek van die 1913 Wet was, sê dat sy bedoeling daamee was “om de naturel eerlik in staat te stellen zich te ontwikkelen en hem zoveel mogelik macht en gezag te geven opdat het zal leiden tot zijn vooruitgang.” (Die Hertzog-toesprake Deel 3 (1970) 34). Maar Zuma verkondig dat “van Vrydag 20 Junie 2013 was die Suid-Afrikaanse inheemse bevolking ‘n uitgeworpene in die land van sy geboorte”! (Beeld 14 Januarie 2013 4.)
Die regering is van voorneme om vanjaar uitvoering te gee aan die aanbevelings vervat in die Green Paper on Land Reform van 2011. Die belangrikste bepalings van hierdie dokument is elders volledig bespreek (sien PdeW van der Spuy “ANC-groenskrif oor grondhervorming” Volkstem Junie 2012 1). Dit beveel onder andere aan die instelling van “leasehold” (huurpag) van staatsgrond as nuwe vorm van grondbesit, beperkings op die hoeveelheid grond wat in privaat-eiendom (sogenaamde “freehold with limitations”) gehou mag word, die instelling van ‘n Land Management Commission en ander statutêre liggame met ingrypende magte om beheer oor alle grond uit te oefen en die aanstel van ‘n grondwaardeerder-generaal om grond te waardeer vir onteieningsdoeleindes. Wat “leasehold” betref, beplan die staat blykbaar om sover moontlik self grond in eiendomsreg te verkry en dan te verhuur. (Volgens Changuion en Steenkamp 301 is die Staat reeds eienaar van 25% van alle grond in Suid-Afrika; volgens Gugile Nkwinti is dit 22% - Marianne Merton “Khoisan to meet Nkwinti over land” Sunday Independent 24 Februarie 2013.)
Landbou-ekonome bepaal tans vir die regering wat die grootte van ‘n lewensvatbare “freehold” plaas is. Oortollige hektaars kan dan deur die staat verkry word vir grondhervorming, aldus Nkwinti.
In die ANC-kongresbesluite van Desember 2012 en Jacob Zuma se 2013-staatsrede is snelle grondhervorming, soos beliggaam in die Groenskrif, as ‘n prioriteit aangedui. Ter uitvoering van hierdie dringende aangeleentheid moet die beoogde grondhervorming ‘n “radical and rapid break from the past” verteenwoordig.
‘n Totaal van 30% van kommersiële landbougrond moes reeds in 2014 aan swartes oorgedra gewees het. Die teiken is nie behaal nie en die ANC wil die proses nou versnel. Die “gewillige koper en gewillige verkoper”-beginsel word vervang met die sogenaamde beginsel van “regverdigheid en billikheid” (“just and equitable”). Dit dui daarop dat die staat voortaan die klem sal plaas op die onteiening, in plaas van die aankoop deur ooreenkoms van grond. Dit is strydig met een van die ondernemings wat De Klerk goedgelowig aanvaar het by Kodesa. Volgens Changuion en Steenkamp 268 was die belangrikste van die ondernemings wat die NP-regering beding het dat “‘n belofte gemaak is dat blanke grondeienaars die versekering kry dat hulle eiendomsreg op grond nie onvoorwaardelik bevraagteken en onteien sou word nie. Die oordrag van grond sou volgens ‘n streng gereguleerde proses onderhandel word.”
Die promulgering van die nuwe Onteieningswet sal bespoedig word en onteiening sonder vergoeding van grond, wat op ‘n “onregmatige wyse” verkry of vir ‘n “onwettige doel” gebruik is, sal geïmplementeer word. (In dié verband moet in gedagte gehou word dat volgens die Freedom Charter swartmense beroof is van hulle geboortereg op grond deur ‘n regering wat in onreg ontvang en gebore is.)
Volgens die Wet op die Herstel van Grondregte 22 van 1994 was die afsnydatum vir die instel van grondeise 31 Desember 1998. Volgens Zuma sal die datum nou verleng word om verdere eise te kan instel.
Volgens die Kodesa-ooreenkoms, die Grondwet van 1996 en die Wet op die Herstel van Grondregte kan restitusie slegs geëis word vir die beweerde ontneming van eiendom wat na 19 Junie 1913 geskied het. Zuma het in sy staatsrede aangekondig dat uitsonderings op die afsnydatum geskep sal word vir die Khoi- en San-afstammelinge en sekere ander gevalle. Ook dit is ‘n verbreking van een van die Kodesa-ondernemings wat De Klerk aanvaar het.
Voorheen is ook reeds gewys op talle statutêre maatreëls, soos die Mineral and Petroleum Resources Development Act 28 van 2002, wat die ANC-regering ingestel het en waardeur die eiendomsreg van veral landbougrond drasties uitgehol en beperk is. Ruimte laat nie toe nie vir ‘n verdere bespreking van hierdie maatreëls en ander faktore, soos die verval van wet en orde, plaasmoorde, drakoniese arbeidswetgewing, grondbelasting en waterheffings.
‘n Nuwe bedreiging van eiendomsreg op grond moet egter genoem word. In Beeld van 19 Februarie 2013 verskyn ‘n belangwekkende artikel van prof Johann Tempelhoff, ‘n waterhistorikus van NWU met die titel “Die Vere gaan nog waai. Stormloop vir Afrika-grond”. Dié kundige wys daarop dat grond- en wateroorloë in Afrika kan uitbreek weens groot maatskappye en ander lande soos China se vraag na grond. Wêreldwyd word meer as 46 miljoen hektaar se landbougrond aan buitelandse beleggers verhuur – die oorgrote meerderheid in Afrika. Die stormloop word aangedryf deur die behoefte aan voedselsekerheid, asook druk om bio-brandstof te vervaardig. Prof Tempelhoff dui daarop dat “onverantwoordelike regerings selde in die belang van burgers optree. Verdienste uit grondverkope of -verhuring vul dikwels die sakke van korrupte amptenare en politici.”
Hierbo is aangedui dat die ANC/SAKP-regime se klem verskuif het vanaf die verlening van eiendomsreg van grond aan swartes na ‘n beleid waar die staat self die eiendomsreg van onteiende en ander grond verkry en dit dan verhuur. Verskillende redes word aangevoer vir hierdie koersverandering, onder andere die feit dat volgens die regering se eie gegewens 90% van die grondoordragte wat tot in 2010 gedoen is, mislukkings is (Changuion en Steenkamp 291). So ‘n verandering pas egter ook mooi in by die sogenaamde “second phase of the transition to a national democratic society”, oftewel tot ‘n kommunistiese/sosialistiese staat. Voorts skep dit die geleentheid vir die grond-vergrype deur ‘n korrupte regime waarteen prof Tempelhoff waarsku.
Prof Tempelhoff noem ‘n ander bedreiging vir die kommersiële boer. Hy skryf: “ In die jongste uitgawe van die nasionale waterplan vir Suid-Afrika het beplanners van die department van waterwese voorsiening gemaak dat Suid-Afrikaanse water meer vir nywerheidsontwikkeling as kosproduksie gebruik word. ... Meer as 50% van Suid-Afrika se water word tans vir besproeiingsboerdery gebruik. Beplanners redeneer dat ons eerder besproeiingswater vir nywerheidsontwikkeling kan gebruik. Hulle meen Suid-Afrika moet industrialiseer, krag uitvoer en kos van sy noordelike bure invoer.” Verklaar dit (a) waarom Suid-Afrikaanse boere aangemoedig word om hulle in sentraal-Afrika te vestig en (b) die regering se onwilligheid om op te tree teen onwettige myne en industrieë wat sonder waterlisensies opereer en ons waterbronne besoedel en vernietig?
Laat ons nie die bedreiging onderskat nie. Volgens ‘n aantekening gemaak tydens ‘n HNP-hoofbestuursvergadering op 20 Mei 2000 het mnr Jaap Marais by daardie geleentheid gesê dat die grondkwessie gebruik word as ‘n instrument om die witman uit Suider-Afrika te dryf. Hiervan is Zimbabwe, wat ook eens met ‘n mooiklinkende eiendomswaarborg in sy grondwet gespog het, ‘n aanskouingsles.
4 KAN DIE AFRIKANER DIE AANSLAG AFWEER?
Mnr Jaap Marais het dikwels gesê dat indien jy ‘n stryd wil aanknoop, kies jy ‘n strydperk waarop jy die slag kan wen. Wat die aanslag op die Afrikaner se grondreg betref, het die Afrikaner nie ‘n keuse wat die strydperk betref nie. Tog meen ek dat juis hierdie strydperk sekere positiewe moontlikhede vir die Afrikaner kan inhou.
Richard Weaver (Ideas have Consequences 129 ev) argumenteer dat eiendomsreg en wat dit vir die reghebbende verteenwoordig, ’n belangrike rol kan speel in die morele herstel van ‘n gemeenskap. Hierdie omvattende reg genereer wilskrag en verantwoordelikheid wat die mens inspireer tot volle selfverwesenliking. Ek wil glo dat die Afrikaner ook intuïtiewelik aanvoel dat die eiendomsreg van ons grond, die erwe van ons vadere, veel meer verteenwoordig as bloot ‘n tasbare vermoënsbate. In ‘n sekere sin simboliseer dit die geskiedenis, die wel en weë, die identiteit en die toekomsdrome van die indiwidu, maar ook die volk.
Die vyande van die Afrikanervolk beplan om met die 100-jarige herdenking van die Swart Grond Wet van 1913, die aanslag op die blanke se eiendomsreg van grond te verskerp.
Miskien is die aantasting van hierdie fundamentele reg van die Afrikaner die nodige vonk vir die sluit van Afrikaner-geledere; vir effektiewe verset teen die onreg wat ons as individue en as volk aangedoen word - vir die kweek van ‘n eendragtige gees wat adem: “Hou julle hande tuis! Los uit ons grond!” Dit sal egter eensgesinde optrede verg, wat slegs moontlik is indien dit gebaseer is op waarheid en werklikheid. Daarvoor is kennis nodig sodat daar vanuit ‘n gemeenskaplike perspektief beplan en met selfvertroue opgetree kan word teen die anti-Afrikaner propaganda en die aantasting van ons eiendomsreg in ons vaderland.
In hierdie stryd om ons grond, is daar faktore wat in die Afrikaner se guns tel: ‘n Onbevoegde en korrupte staatsdiens wat haas niks effektief kan aanpak en afhandel nie, ‘n grondhervormingsproses wat tans in ‘n moeras vasgeval het (Changuion en Steenkamp 295), mislukte grondoordragte, ‘n ernstige gebrek aan staatsgeld en die risiko vir die regering in verband met voedselsekerheid en werkloosheid as gevolg van toenemende meganisering in die landbou.
‘n Suksesvolle stryd om die behoud van ons privaat grond, sal die selfvertroue en selfrespek van die Afrikaner stukrag gee. Dit kan dien as basis vir die groter stryd om die herwinning van ons soewereine vryheid in ons vaderland.
Die stryd om die behoud van ons grond is die grondslag vir die herwinning van ons vryheid. Verset teen die vergryp aan ons eiendom is ‘n sine qua non vir die lewe van ons volk.
Stryd is lewe!