7 MILJOEN LEERLINGE SAL VAN 17 SEPT. TOETS AFLÊ
Gedurende September 2012 is daar landswyd sogenaamde ANA- (die jaarlikse nasionale assesseringstoetse toetse) deur miljoene leerders afgelê.
Zuma het blykbaar die visier op ‘n 60% slaagsyfer gestel. Hoe haalbaar dit is in die lig van die onderstaande berig wat in Beeld verskyn het moet ons maar sien. Let veral op die antwoord van Polliah aan die DA-LP se vraag aan die einde van die berig. Daar is altyd ’n verskoning gereed om hulleself te verontskuldig.
Jan-Jan Joubert skryf:
“Kaapstad. – Die departement van basiese onderwys het gister die versekering gegee dat hy slaggereed is vir die reusetaak om die jaarlikse nasionale assesseringstoetse in Suid-Afrikaanse skole te administreer. Sowat 6,9 miljoen leerlinge in duisende skole sal die toetse van 17 September af aflê, het dr. Rufus Polliah van die departement aan die parlementêre portefeuljekomitee oor basiese onderwys gesê.
Vanjaar se toetse sal deur alle leerlinge in gr. 1 tot gr. 6 en gr. 9 in openbare skole en gr. 3 tot 6 in private skole afgelê word.
Die doelwit van die ANA-toetse is om as diagnostiese hulpmiddel te dien om sterk en swak plekke in skoolonderrig te identifiseer, onderwysers aan beter onderrigmetodes bloot te stel, onderwysdistrikte attent te maak op skole wat sukkel en inligting aan ouers oor hul kinders en oor skole te verskaf.
In verlede jaar se ANA-toetse het gr. 3’s gemiddeld 35% vir taalgeletterdheid en 28% vir syfergeletterdheid behaal, en gr. 6’e 28% vir tale en 30% vir wiskunde.
Vanjaar se toetse is interna¬sionaal geoudit en spesiaal vir dowe en blinde leerlinge aangepas.
Mpumalanga, Noordwes, KwaZulu-Natal en die Wes-Kaap verpak en versprei die toetse self. Die res word sentraal deur die departement van basiese onderwys gehanteer.
Die opstel van die toetse is teen 30 Junie afgehandel, die drukwerk het op 3 Augustus begin en die pakwerk vind van 17 Augustus af plaas. Die toetse sal teen 24 Augustus in provinsiale pakhuise wees en teen 31 Augustus by die 220 verspreidingspunte landwyd. Dit sal teen 14 September by skole afgelewer word.
Skoolhoofde sal dus drie dae hê om te verseker dat die regte getal toetse in die regte tale by die regte skole uitgekom het.
Nasienwerk sal intern by skole afgehandel word. Om standaarde te verseker (want Polliah het toegegee daar is druk op onderwysers om te presteer) is ’n omvattende modereringsproses daargestel.
Tussen 3 en 15 antwoordstelle per vak per graad per skool sal lukraak getrek en onafhanklik deur ’n diensverskaffer nagesien word. Boonop wag ’n verrassing op 125 skole per provinsie op 17 September wanneer hulle hoor al hul toetse gaan onafhanklik nagesien word.
Die finale uitslag sal in Desember aangekondig word, het Polliah gesê.
Op ’n vraag deur Annette ¬Lovemore, DA-LP, hoekom soveel leerlinge hul ANA-toetse druip, maar in hul grade slaag, het Polliah gesê die jaarpunt is nie vergelykbaar met ’n enkele toets nie en dat baie skole se puntestelsel nie op peil is nie.”
As ʼn mens die berig van Beeld van 31 Augustus gelees het met ʼn opskrif wat lui: 1m. Herhaal hul skooljaar, kan jy dalk begryp waarom hierdie assesserings nodig is. ‘n Mens wonder net wat die DA-LP verwag het om te hoor!