6 SEPTEMBER 1966
Dit was op hierdie dag, 46 jaar gelede wat die internasionale komplot om dr. H.F. Verwoerd uit die weg geruim te kry, uiteindelik suksesvol afgerond het. Die politieke en geestelike aanslag op die Afrikanervolk was ‘n verbete aanslag wat onverpoosd deur veral die Britse regering op ons aangelê is. Dit was die diaboliese en uiters fyn beplande gebeurtenis wat met behulp van sogenaamde “Afrikaners”, die ellende wat ons vandag beleef, suksesvol aangeskakel het.
Dit was Alfred Milner wat na die Anglo Boere-oorlog gesê het: “The South African struggle continues. It is no longer war with bullets, but it is war still” ,
en Dit was Tony Blair, voormalige eerste minister van Engeland, wat in Januarie 1998 gesê het: “the British “never forget the past even when addressing the future”. Die aanslag deur David Pratt op 9 April 1960 by die Unieskou, Milnerpark in Johannesburg, was nadat dit vir die wereld duidelik was dat die Afrikanervolk nie polities, ekonomies of geestelik oortuig sal kan word om in te val by die eise wat onvermydelik sou lei tot ons ondergang nie.
“Ons sal ons nie laat doodmaak nie, ons sal geeneen se slagoffer word nie; ons sal veg vir ons bestaan en ons sal bly lewe!” Dit was die profetiese woorde van dr. Verwoerd, enkele minute voordat Pratt hom met twee skote in die kop op ʼn kort afstand neergevel het!
Dit was die brutale moord deur Dimitrio Tsafendas, wat kort voor dié veragtelike daad teen dr. Verwoerd, uit Engeland hier aangekom het onder baie bedenklike omstandighede, wat die AVP se geheue prikkel om nie te vergeet nie.
Daarom sê die AVP vir die Engelse, daar skort ook niks met ons geheue nie! Maar belangriker nog, daar is niks van al hierdie ongeregtigheid wat ongesiens by God verbygaan nie. Elke beleidmaker, elke raadgewer en elke verantwoordelike persoon, of hy nou in Suid-Afrika, Engeland, Amerika, Palestina of Israel sit, sal in die gerig kom vir die besluite waarvoor hy verantwoordelik was, net so seker as wat die son opkom en ondergaan.
As dit God se wil is, en in afhanklikheid van Hom, herhaal die AVP namens elke lid van ons party daardie profetiese uitspraak van dr. Verwoerd: “Ons sal ons nie laat doodmaak nie, ons sal geeneen se slagoffer word nie; ons sal veg vir ons bestaan en ons sal bly lewe!” Dan voeg ons by, ons sal verder ook in afhanklikheid van ons hemelse Vader, by die eerste haalbare geleentheid wat hom voordoen, weer ons land se vryheid herstel. Mag ons volksgenote daardeur inspireer word om geloof te behou en daarvoor voor te berei deur ons ons nie te laat doodmaak nie en te bly lewe, sodat ons niemand se slawe word nie!
Danie Varkevisser