MARIKANA-MOORDTOG
‘n Interessante waarneming van die gebeure by Marikana wat op Praag se webblad verskyn het, verdien om wyer blootgestel te word. As dit saamgelees word met die AVP se artikel wat lui, “Skiet! Al hardloop hulle weg” en “Wat sit agter hierdie optrede”, is daar heelwat stof tot nadenke. Die standpunt van wyle ds. Jan Jooste dat, “Dit wat jy sien, is nie wat jy sien nie” is baie duidelik hier ter sake! Meer nog as die voorsitter van Lonmin, Roger Phillimore, "apartheid" die skuld gee vir die haglike omstandighede waaronder mynwerkers op Marikana leef, wel wetende dat Shanduka en Lonmin 'n groot deel van die myn se inkomste vir hulself toeëien.
Praag se artikel
PRAAG het nuwe inligting oor die Marikana-massamoord bekom wat dit laat voorkom asof die mynwerkers van die Association of Mineworkers and Construction Union (AMCU) met opset deur die polisie vermoor is as deel van 'n veldtog om van die lastige unie ontslae te raak.
Amcu was besig om die NUM as meerderheidsvakbond by die myn te vervang. Voordat die skietery losgebars het, het die polisie die media aangesê om die gebied te verlaat.
Lauren Clifford-Holmes, die multimediaredaktrise van die Mail & Guardian, is Donderdagnag verhoed om met beseerdes te praat. Sy het egter twee werkers van Lonmin teëgekom wat bevestig het dat die struweling tussen die twee vakbonde vir die probleme verantwoordelik is, aangesien die NUM-verteenwoordigers nie herkies is nie.
Die sakeman en hooggeplaaste ANC-politikus, Cyril Ramaphosa, beskik blykbaar via sy maatskappy Shanduka oor 'n kontrak om alle arbeid aan die Lonmin-myn op Marikana te verskaf. "Ramaphosa en die NUM bedryf 'n vorm van slawe-arbeid by die myn," het 'n bron op Marikana gesê. "Hy verskaf die arbeid teen ongeveer R12 000 per werker, betaal elke werker R4000 per maand en steek die res in sy sak. As voormalige hoof van NUM, kan hy die vakbondleiers beheer en sorg hy dat die groteske uitbuiting waarmee hy besig is, in stand gehou word."
NUM se mededinger, AMCU, vereis egter dat die R12 000 wat Shanduka as arbeidsmakelaar luidens die kontrak met die myn ontvang, direk aan die werkers uitbetaal word. Veral die rotsboorders, wat baie moeilike en gevaarlike werk doen, het gevoel hulle is op hierdie loon geregtig, aangesien dit reeds die tarief is wat Cyril Ramaphosa se maatskappy vir werk by die myn ontvang.
'n Oudpolisieman met wie PRAAG gesels het, maar wat nie sy naam genoem wil hê nie, sê dat te oordeel aan die foto's wat hy gesien het, was die werkers nie besig om die polisie aan te val nie, maar was hulle besig om weg te vlug van 'n gedeelte waar 'n tweede polisie-kontingent hulle met traanrook bestook het. "'n Mens kon sien party het probeer om hul oë en gesigte te bedek. Hulle het gedink hulle vlug na 'n plek van veiligheid waar die swaar gewapende polisie hulle egter met outomatiese wapens afgemaai het," meen die oudpolisieman.
Die motief vir die massamoord by Lonmin-myn op Marikana sou die beskerming van Shanduka se winsgewende dienskontrak vir die verskaffing van arbeid aan die myn wees. Shanduka het reeds bekendgemaak dat hy R2 miljoen vir die begrafnis van die 34 werkers skenk.
Die werkers is meesal afkomstig uit Lesotho en landelike gebiede in die Oos-Kaap en sou dus moeilik hul regte en hul lewens kon verdedig teen die ANC-beheerde staat wat nou saamwerk met 'n Brits-beheerde mynmaatskappy. Tot dusver het die enigste vrae rondom die massamoord van swart politici en aktiviste buite die ANC-dampkring gekom.
'n Groep bekend as die September National Imbizo het ter plaatse ondersoek gaan instel en met 'n ooggetuie gesels wat beweer dat die mynwerkers "in 'n hinderlaag gelok is" deur hulle eers van bo uit helikopters met 'n "blou middel" te bestook, waarna hulle in die verwarring doodgeskiet is. Vele is tereggestel terwyl hulle tussen rotse en in die bosse probeer wegkruip het. Op die webwerf van September National Imbizo word die ooggetuie as "ons vriend" beskryf:
"...ons vriend toon aan ons hoe verskeie mense geskiet is terwyl hulle tussen die rotse en onder bosse weggekruip het. Ons kon self sien waar die bloedkolle was wat 'n aanduiding was van die vasberadenheid waarmee werkers uit hul wegkruipplekke uitgehaal en doodgeskiet is. Allerlei soorte kledingstukke en skoene met bloed lê oral op die toneel rond."
Die webwerf beweer verder:
"Wat duidelik is uit wat daar aan ons gesê is, is dat dit 'n hinderlaag was. Die videomateriaal in die hoofstroommedia met werkers wat op die polisie afstorm was eerder werkers wat besig was om van koeëls agter hulle weg te hardloop. Waarom sou werkers, wat met knopkieries bewapen was, die gewapende polisie bestorm? Die werkers was heeltemal omsingel en wat ons in die media gesien het, is net die helfte van die verhaal. Daar was duidelik 'n bedoeling om dood te skiet, vandaar die ontplooiing van die weermag."
Ander vreemde dinge het gebeur.
Die media is ure lank ná die skietery van die toneel weggehou sodat dit moeilik sou wees om die presiese gebeure te herkonstrueer. 'n Kontak van The Star is tydens die massamoord doodgeskiet. Ook het die polisie 'n fotograaf van die Mail & Guardian gedwing om sy foto's uit te vee. Waarom was die polisie so bang dat bepaalde getuienis oor die gebeure sou uitlek?
'n Video wat in Nederland verskyn het, toon 'n Vodafone-ambulans op die toneel. Dieselfde video is later op News24.com vertoon, maar sonder die ambulans, wat toon dat die video geredigeer moes gewees het.
Vooraf het Sapa soos volg oor die leier van die AMCU berig: “Ons is nie veilig nie. Ons telefone word afgeluister, het die AMCU-president Joseph Mathenjwa aan 'n skare in die Wonderkop-plakkerskamp gesê.
"Ons is demokraties gekoloniseer - werkers werk onder vreeslik haglike omstandighede."
Ná die massamoord het Mathenjwa 'n werklik onafhanklike ondersoek geëis, maar die ANC het bloot een van sy eie ministers, Collins Chabane, aangestel om die kommissie van ondersoek te lei. Onder die vorige, sogenaamde "apartheidsregering" is daar altyd regters aangestel.
Waarna Mathenjwa waarskynlik verwys as hy van "demokratiese kolonisering" praat, is dat werkers teen R4000 per maand moet werk terwyl Cyril Ramaphosa drie keer soveel per werker ontvang.
'n Johannesburgse sakeman met wie PRAAG gesels het en wat ook in die dienstebedryf werksaam is, beaam dat die ANC se kaders feitlik 'n stelsel van "slawe-arbeid" in die land ingestel het. Die eertydse offisiere van Umkhonto we Sizwe verskaf tans arbeid aan die myne deur hoofsaaklik buitelanders te werf. Min of geen van die myne neem meer werkers regstreeks in diens nie.
"Alles wat die ANC sê apartheid was, met die stelsel van trekarbeid, geld nou, behalwe dat dit veel erger is," meen die sakeman. "Die ANC se kaders beheer alles. Hulle het hulle in alle sektore van die ekonomie ingegrawe. Hulle regeer nie, hulle is 'in besigheid'. Die staat is vir hulle bloot nog 'n besigheid, met hulpbronne wat hulle kan gebruik om hulself te verryk."
Of om 'n mededingende vakbond soos die AMCU te straf en 'n "voorbeeld van te maak"? In die aanloop tot die verkiesings van 1994 het die ANC halssnoermoorde op sogenaamde "sell-outs" gepleeg. Waar tienmiljoene rand per maand ter sprake is by die verskaffing van werkers aan 'n myn, kan 'n mens dus verwag dat 'n organisasie wat so gewetenloos soos die ANC kan optree, alle middele sal gebruik om mededingers te elimineer.
Tydens die skietery het 'n joernalis van The Star, Poloko Tau, vanaf die toneel getwiet: "Auto guns creacking [sic] and cocked like 100 at a time, scary … warzone down here, 1st shot fired … journalist running, diving and hiding amid shots, water canon spewing water at the strikers … my contact has just been shot dead …"
Ná die Marikana-massamoord het sommige mense eenvoudig net "verdwyn". Sapa het soos volg berig:
"Omtrent 100 vroue het by die Ga-Rankuwa-landdroshof buite Pretoria opgedaag waar meer as 250 betogers na verwagting op klagtes van openbare geweld sou verskyn.
'n Vrou, Nombulelo Jali, 37, het histeries gehuil. Sy sê die polisie weet nie wat van haar man Themba Khalo Jali, 40, geword het nie. Volgens haar is hy Donderdag in hegtenis geneem.
'Ek het al die pad van Harding in Kwazulu-Natal gekom maar ons kan hom nie kry nie. Ons het in aller yl oral gesoek en ons kan hom nie vind nie. Die polisie het hom weggevat, ' sê Jali."
Julius Malema beweer dat vele van die stakende werkers tans "onwettig in 'n privaatgevangenis" aangehou word. Sy vriend Floyd Shivambu sê insgelyks dat vele van die werkers in die rug geskiet is, wat sou aandui dat hulle weg van die polisie af gehardloop het toe hulle geskiet is.
Dit kon nog nie vasgestel word nie, aangesien 'n veiligheidskordon oor die gebied getrek is en joernaliste nie by die hospitaal toegelaat word nie.
Die noue verbintenis tussen die Brits-beheerde mynhuise en die ANC kan etlike dekades heen teruggevoer word. Die eerste kontak tussen die destydse Afrikaner-establishment en die ANC is deur die Britse mynmaatskappy Consolidated Goldfields in Engeland tydens die tagtigerjare gereël. By daardie geleentheid het Thabo Mbeki en Willie Esterhuyse mekaar ontmoet.
Die mynhuise het destyds 'n vername rol gespeel om die ANC as nuwe regering vir Suid-Afrika voor te stel en het waarskynlik private ooreenkomste met die sogenaamde "bevrydingsbeweging" gesluit.
Gister het die voorsitter van Lonmin, Roger Phillimore, "apartheid" die skuld gegee vir die haglike omstandighede waaronder mynwerkers op Marikana leef, wel wetende dat Shanduka en Lonmin 'n groot deel van die myn se inkomste vir hulself toeëien.
Julius Malema het Jacob Zuma en Cyril Ramaphosa vir die massamoord verkwalik: "Hulle het toesig gehou oor die massamoord op ons mense... Nie eens die apartheidsregering het soveel mense gedood nie."
Dit is onduidelik of die optrede van die polisie ooit intern ondersoek sal word, want die uitvoerende direkteur van die polisie se onafhanklike ondersoekdirektoraat, mnr. Francois Beukman, het so pas bedank "om ander loopbaanmoontlikhede te ondersoek". Hy verlaat die diens aan die einde van vandeesmaand. Sy kontrak sou eers aan die einde van Augustus 2014 verstryk het.In elk geval dink die nuwe baas van die polisie, Riah Phiyega, die dood van 34 mense was nie 'n slagting nie.