DIE REDES VIR EN DIE WARE BEDOELING MET DIE BELEID VAN AFSONDERLIKE ONTWIKKELING. (In twee aflewerings)
Met verwysing na die onlangse verklaring van die Israelse regering dat: “Ek tree nie teen hulle op weens vreemdelingehaat nie, maar uit ’n liefde vir my volk en om my geboorteland te red,”deur Eli Yishai, Israelse minister van binnelandse sake, is dit betekenisvol om weereens die ware bedoeling met die beleid van Afsonderlike Ontwikkeling te bekyk en die skuldlas van rassisme vir ewig van ons nekke af te haal! Ons haal aan uit die DEBATTE VAN DIE VOLKSRAAD DEEL 101, KOL. 6513-40; PELZER, BL. 254-75, en beklemtoon gedeeltes om valse aantygings wat deesdae na willekeur rondgeslinger word sonder enige substansie daarvoor, met die waarheid te konfronteer. .
Toe dr. Verwoerd minister geword het, het hy in 'n personderhoud met buitelandse joernaliste verklaar dat, "hoe verder die reservate ontwikkel, hoe meer sal die naturelle daarop aandring om regstreeks met die Regering te onderhandel". Naturelle-hoofde het reeds meermale by hom aangedring op die afskaffing van die bestaande verteenwoordiging in die Parlement1 . Hy het hierdie bewering 'n paar dae later, op 18 September, in sy beleidsverklaring in die Volksraad herhaal en daaraan toegevoeg dat die naturelle kla dat hulle hul verteenwoordigers in die Parlement slegs sien wanneer daar verkiesings was.
Verwoerd het van die kongresse van die Nasionale Party gebruik gemaak om, voordat hy die saak in die Volksraad weer sou aanroer, dit heel duidelik te stel wat sy doel was. Op 28 Oktober het hy op die Kaapse kongres in Die Strand gesê: "Wanneer die Nasionale Party praat oor die toekoms van die nie-blanke gebiede, is een van die geliefkoosde aanvalle van die Verenigde Party dat die Nasionale Party Bantoestate wil skep ... Die Nasionale Party sê hy sal die gevolge aanvaar, mits ons die losprys van Suid-Afrika kry. Die vraag lê nie in die moontlike ontstaan van Bantoestate nie, maar wel daarin dat Suid-Afrika een Bantoestaat kan word.
Hierdie selfde gedagte het Verwoerd twee weke later, op 12 November, op die Transvaalse kongres as volg geformuleer: " 'n Mens kan jou nie 'n toekoms vir Suid-Afrika voor-stel wat nie in een van die twee rigtings ontwikkel nie: of die Bantoe sal sy regte moet hê in sy eie gebiede en die blanke volk beheer in sy gebied, of daar sal 'n deurmekaar Suid-Afrika moet wees met die heerskappy in die hande van die meerderheid, nl. die Bantoe. Daar is geen ander uitweg nie. Die keuse is nie of daar Bantoestate sal wees waar die Bantoe hul regte sal hê nie en of daar sulke state sal wees nie; die keuse is of die hele Suid-Afrika deur die Bantoe, wat die meerderheid is, geregeer sal word of nie."'
Op 27 Januarie 1959, nadat sir De Villiers Graaff die gebruiklike mosie van wantroue in die Regering aan die begin van die sitting van die Parlement gestel het, het Verwoerd van die geleentheid gebruik gemaak om die beleid van sy teenstanders met sy eie te vergelyk. Hy het daarop gewys dat die Verenigde Party " 'n veelrassige gemeenskap aanvaar, maar daar-binne wil hy nogtans blanke leierskap 'met regverdigheid' behou". Die Verenigde Party meen dat hy die politieke mag kan behou deur sekere toegewings te doen, Verwoerd het verklaar dat die Verenigde Party so 'n beleid nie sou kon handhaaf nie. Die Verenigde Party "moet die tekens van die tyd lees. Dit is 'n vorm van vennootskapregering . . . Miskien sal die vennote minder mag hê as op die oomblik in Kenia, selfs minder as op die oomblik in die Federasie van Midde-Afrika, maar pertinent tog word die Unie daarmee op die pad geplaas van vennootskap . .. Maar die Bantoe van Afrika wil dit nie hê nie". Die Bantoe elders in Afrika eis dat al die politieke mag in hul hande geplaas moet word. "Dit is die onvermydelike en onverbiddelike end van daardie rigting , . . So sien die Nasionale Party dit met al sy gevare." (Vergelyk nou daardie helder politieke insig met wat ons vandag in Suid Afrika ervaar)
Verwoerd het daarop daartoe oorgegaan om die beleid van die Nasionale Party te stel. Hy het as uitgangspunt die politieke omstandig-hede in die buiteland geneem. Hy het gesê dat "jy kan nie regeer sonder rekening te hou met die strominge in die wêreld en in Afrika nie ... Die beleid moet daarmee rekening hou. En jy kan daarmee rekening hou met behoud van jou blanke landsbestuur as jy in die rigting van skeiding beweeg..." Sy eie beleid het Verwoerd as volg geformuleer: "Ek sorg ook dat ek 'n pad kies waarin ek vir die blanke aan die een kant in sy gebied die volle bestuursreg alleen behou, maar waarin ek aan die Bantoe, onder my sorg as voog, die volle geleentheid gee om in hul gebiede hul voet te sit op 'n pad van ʼn ontwikkeling waarop hulle kan vorder ooreenkomstig die vermoë wat hulle het."
Verwoerd het gekom by 'n gedagte wat vir sekere mense miskien rewolusionêr geklink het, omdat hulle nie deeglik op hoogte van die groot wêreldgebeure was nie. Vir mense wat egter wel op hoogte was, het dit 'n nuwe geluid van hoop en vertroue gebring. Verwoerd het verklaar: "En as dit so mag wees, in die toekoms, dat hulle (die Bantoe) vorder tot 'n baie hoe peil, dan sal die mense van daardie toekoms rekening moet hou met hoe om die verhoudings verder te reorganiseer. Ek het al self duidelik aangedui een van die metodes wat ek dink prakties uitvoerbaar sal wees duidelik aangedui. Ek het nl. gesê dat ek as vergelyking die Britse Gemenebes van Nasies neem waar die verskillende bestanddele nie in die moeder-parlement verteenwoordig is nie, maar binne watter organisasie daar tog verbande is - ekonomies en andersins — waardeur daar samewerking kan wees sonder dat daar ooit 'n gemengde parlement of regering tot stand kom, hetsy van die land self of van 'n federasie".
Nadat hy sy beleid so verduidelik het, het Verwoerd verklaar dat daar nou tot 'n volgende stap in die beleid van die Nasionale Party oorgegaan kon word. In sekere reservate of tuislande was daar onder die Wet op Bantoe-Owerhede reeds so ver gevorder dat gebieds-owerhede ingestel kon word. Daarop moet nou 'n verdere stap volg. Dit sluit in "om 'n duideliker skeiding op politieke gebied teweeg te bring as wat vandag bestaan. Dit beteken ook die beëindiging van "die oorblyfsels van 'n soort vennootskapsbewind" wat in 1936 ingestel is. Verwoerd het daarmee bedoel die verteenwoordiging van die Bantoe in die Parlement. "Ons moet in die plek daarvan stel 'n bestuurskans vir die Bantoe in hul eie gebiede."
Verwoerd het hierna nog 'n gedagte uitgespreek wat vir sekere mense waarskynlik te rewolusionêr geklink het. Hy het gesê: "Ons moet sorg dat die buitewêreld besef, en dat die Bantoe besef, dat hier 'n nuwe tydperk ontstaan, 'n tydperk waarin die blanke wegkom van diskriminasie teenoor die Bantoe wat sy eie gebiede betref; dat hy hom plaas op die eerste stap van volle ontwikkeling."
Aan die einde van sy toespraak het Verwoerd sy standpunt as volg saamgevat: "Dit is waarop ek al die nadruk wil lê; dat die strewe wat ons het, ... nie is om af te breek nie maar om op te bou. Ons wil opbou 'n Suid-Afrika waarin Bantoe en Blanke as goeie bure langs mekaar kan woon en nie as mense wat in gedurige getwis om die heerskappy verkeer nie).
Met hierdie toespraak het Verwoerd die Bantoevraagstuk 'n nuwe fase binnegelei. Was dit sedert die dae van genl. Hertzog die beleid van die Nasionale Party dat sekere gebiede vir die bewoning van die Bantoe opsygesit moes word en dat daar aan hulle slegs 'n beperkte mate van selfbestuur verleen sou word, Verwoerd het met die oog op die veranderde omstandighede in Suid-Afrika self en in die wêreld daarbuite, tot die besef gekom dat dit alles nie meer voldoende was nie; daar moes tot 'n verdere stap oorgegaan word. Dit was om in die gebiede wat die Bantoe bewoon het, hom die reg te verleen om tot voile onafhanklikheid te ontwikkel.
Verwoerd sou in die strewe na die ontwikkeling van 'n eie nasionale identiteit vir die Bantoe steeds 'n strenge skeiding maak. Hy was nie van plan om ooit toe te gee aan die druk van ontstamde Bantoeleiers wat onder die invloed van 'n ideologie soos die liberalisme of die Kommunisme verkeer het, wat die eie kultuur die rug toegekeer het, wat hom naas die blanke wou stel en wat nie teruggedeins het om van opruiing en geweld gebruik te maak nie. Dit het Verwoerd steeds verwerp as 'n valse uiting van die Bantoenasionalisme.
Hoe kon die Bantoenasionalisme ooit met die liberalisme of die Kommunisme verenig word. Die suiwer vorm van die Bantoenasionalisme het Verwoerd gesien in die strewe na die aspirasies wat ten doel het om voort te bou op wat reeds op die gebied van 'n eie kultuur bereik was en wat daarom geen klakkelose oorname van die vreemde was nie. Vir Verwoerd wat die nasionalisme by die Afrikaner vereenselwig het met 'n gees van toe-wyding en die lewering van diens aan die eie volk, was dit derhalwe vanselfsprekend dat die nasionalisme by die Bantoe ook aan hierdie vereistes moet voldoen, indien dit vir die volk van enige betekenis of waarde moet wees. Die ware Bantoenasionalis sou steeds van Verwoerd simpatie en aanmoediging kry; die valse Bantoenasionalisme sou steeds van Verwoerd bestryding kry.