DIE WETTE WAT DIE APARTHEIDSBEGINSEL BELIGGAAM HET VOOR 1948, LOËNSTRAF DIE NG KERK-BEWERINGS.
Niks van die NG-Kerk skrifgeleerdes en fariseërs se akademiese en Skrifvertolkings sedert 1986, saamgevat in Kerk en Samelewing van Oktober 1986 en die veranderde een van 1990, was en is vandag nog in staat om die moedswillige verswyging van die werklike rede vir hulle koersverandering te versluier nie.
Veral die standpunt in Kerk en Samelewing 1990, afdeling 5.2, paragraaf 282 tot 285, wat die wese van die besluit van die kerk om apartheid as sondig te verwerp beliggaam en dan te probeer voorgee dat die NP-regering se koersverandering daar niks mee te make het nie, dui op ʼn valsheid in die kerk wat hom uiteindelik sal vernietig. (D. Varkevisser)
APARTHEIDSWETTE VOOR 1948 (JAAP MARAIS)
■ Die ZAR se grondwet wat bepaal het "in Kerk en Staat geen
gelykheid van gekleurdes nie".
■ Die Wet op grondbesit wat dateer van 1913 tydens die genl.
Botha-bewind en wat grondbesit van Swartes tot sekere gebiede beperk het.
■ Die Paswette wat kom uit die vroeëre Kaaps koloniale bewind van voor 1900.
■ Die heffing van kopbelasting wat ook uit die tyd kom.
■ Die Heer en Diensbodewet wat ook in die negentiende eeu in die Kaapkolonie van krag geword het.
■ Die Loonwet wat dateer van 1925, deurgevoer deur 'n Engelse Minister van Arbeid.
■ Die Wet op Myne en Bedrywe wat ook in 1925 op die wetboek gestel is deur dieselfde minister. (Werkreservering was net 'n uitbreiding daarvan).
■ Die Wet op Oproerige Byeenkomste waarkragtens persone uit 'n gebied verban kon word, dateer van 1929.
■ Die wet wat stemreg van Swartes verander het deur hulle op (ʼn aparte kieserslys te plaas, en wat in 1936 deur die VP-regering van genl. Hertzog en genl. Smuts op die wetboek geplaas is.
■ Die Naturelle- (Stedelike Gebiede) wet wat 'n wet van 1945 van die Smuts-regering is.
■ Die Vaspenwet in verband met Indier-grondbesit wat in 1946 deur die Smuts-regering aangeneem is.
Vrae moet beantwoord word
Die lys kan uitgebrei word, indien nodig. Maar hierdie wette is genoeg om te toon dat "apartheid as 'n sisteem vir die beskerming van eie belange van die blanke minderheid" – die Sinode se bewoording - lank voor 1948 geskep is op die hele terrein van die samelewing in Suid-Afrika. En dit nie deur Afrikanernasionaliste nie. "Selfs sir Abe Bailey, 'n groot aandeelhouer in The Rand Daily Mail, het binne en buite die parlement die leerstelling van afsonderlike ontwikkeling (apartheid, as jy die vloekwoord verkies) onophoudelik gepredik." (Arthur Barlow.- That I may tread safely). As daar sprake van "etnosentrisiteit" en "politieke ideologie" in geval van latere regerings was, wat was dan destyds die oorwegings wat dit onderskei van die latere periode? Waar beweer word dat die latere ontwikkeling "tot 'n politieke ideologie van apartheid uitgebou is as 'n sisteem vir die beskerming van die belange van die Blanke minderheid ten koste van die ander", wat was die oorwegings in 1913 met die wet wat Swartes belet het om grond in Blanke samelewings te besit? en Swartes op ʼn aparte kieserslys te plaas en hulle verteenwoordiging te beperk en sekere werk in die Blanke samelewing vir Blankes te reserveer en Swartes passe te laat dra en Indiërs se bewoning van grond tot sekere gebiede te beperk?
Op watter grond kan beweer word dat "liefde vir die eie meermale die vorm van rassisme aangeneem het, en daaraan wetlike en strukturele uitdrukkingsvorme gegee is", sonder om die aanklag te laat slaan op die hele Suid-Afrikaanse geskiedenis van hierdie eeu en die grootste deel van die vorige?
Die wette waarna hier verwys is, moet volgens alle redelike beskouinge in terme van die NG-Kerkleiding se benadering “ ʼn vorm van rassisme wees waaraan wetlike en strukturele uitdrukkingsvorm gegee is", Maar dit is gedoen sonder dat dit die naam van "apartheid" gedra het. Is dit volgens die Sinode-besluit daarom nie sonde nie? Waar word die lyn in die geskiedenis getrek waar "apartheid" 'n sekere aard "gekry het" en tot 'n "ideologie uitgebou is"?
1948-Apartheidsbeleid: Beskerming van wit ras
Daar is 'n ontstellende verontagsaming van feite in die Sinode se besluit, met die gevolg dat 'n ernstig verwronge beeld geskep word van die apartheidsbeleid. Daar is byvoorbeeld klaarblyklik nie deur die NG-Kerkleiers enigsins aandag gegee aan die Apartheidsmanifes wat die destydse HNP uitgevaardig het voor die 1948-algemene verkiesing nie.
Daarin word verklaar dat die beleid van apartheid se oogmerk is: "die handhawing en beskerming van die Blanke bevolking as 'n suiwer wit ras, en die handhawing en beskerming van die inheemse rassegroepe as aparte gemeenskappe met vooruitsigte om tot selfonderhoudende gemeenskappe in hulle eie gebiede te ontwikkel...."
En verder: "Die party onderneem derhalwe om die wit ras behoorlik en doeltreffend te beskerm teen enige beleid, leerstelling of aanval wat sy voortbestaan kan bedreig."