GROND: NET HITTE, GEEN LIG Rapport 2012/02/25 – deur Frans Cronje
Dr. Pieter Mulder, die VF+-leier, het sy kop in ’n bynes gesteek toe hy onlangs gesê het meer grond behoort reeds aan swart mense as wat die regering voorgee en dat swart Suid-Afrikaners geen historiese aanspraak op die Noord- en Wes-Kaap het nie.
Dié opmerkings moet gelees word teen die agtergrond van die dikwels aangehaalde feit dat 87% van grond gedurende apartheid aan wit mense behoort het en dat min vordering sedert 1994 gemaak is om dié prentjie te verander. ’n Paar eenvoudige sommetjies toon egter dié syfer is ver van die waarheid.
Enige gesprek oor grondeienaarskap in Suid-Afrika loop gevaar om meer hitte as lig te genereer. Die rede is deels dat min deelnemers aan die debat die moeite doen om enige navorsing oor huidige eienaarskap patrone te doen.
Net so het min van Mulder se vele kritici die afgelope paar dae enige van sy feite bevraagteken, maar eerder teruggeval op rasse beledigings en verwyte.
So, aan wie behoort grond in Suid-Afrika? Die land se totale grondoppervlakte is 122 miljoen hektaar. In Maart verlede jaar was ’n kwart hiervan (of 31 miljoen hektaar) in staatsbesit. Die orige 75% (of 91 miljoen hektaar) was in private besit.
Die balans tussen staats- en private grond wissel egter aansienlik tussen provinsies. So byvoorbeeld is 89% van die Vrystaat en 91% van die Noord-Kaap in private besit, terwyl die staat 55% van die Wes-Kaap en Gauteng besit.
Diegene wat argumenteer dat 87% van Suid-Afrika teen 1994 aan wit mense behoort het, sluit die grond in staatsbesit by hul syfer van 87% in.
Dit volg daarom dat die 25% grond wat tans in staatsbesit is, nou gereken moet word as grond in swart besit. Daar is immers niks wat die staat verhinder om die titelakte van dié grond aan swart mense oor te dra nie.
Sedert 1995 is daar boonop 2,6 miljoen hektaar (of 2,1% van die totale grondoppervlakte) aan swart mense gegee deur die regering se restitusieprogram. Dit stoot die persentasie grond in swart hande dus op na 27,1%.
Terselfdertyd het die staat ook meer as R5 miljard uitbetaal aan restitusie-aansoekers wat die kontant eerder as die grond wou hê.
Dié geld was genoeg om nog 2,5 miljoen hektaar grond te koop, ’n syfer wat die totale oppervlakte van grond in swart hande sou opstoot na 30%.
Die grondherverdelingsprogram, ’n aksie bykomend tot die restitusieprogram, het teen 2010 ’n verdere 3,1 miljoen hektaar (of 2,5% van die land) aan swart mense oorgedra, wat die totale syfer op 32,5% te staan bring.
Grond in swart besit is dus reeds meer as dubbel die 13% wat dikwels deur regeringsamptenare aangehaal word.
Boonop neem dié syfer nie die grond in berekening wat sedertdien op die vrye mark in swart hande beland het nie.
Akkurate data hieroor is nie beskikbaar nie, maar daar is anekdotiese getuienis dat dit beduidende hoeveelhede is en dat dit die totale grondoppervlakte in swart hande kan opstoot na iets tussen 40% en 50%.
Met sy opmerkings dat swart mense geen historiese aanspraak op die Wes- en Noord-Kaap het nie, begaan Mulder egter ’n gevaarlike politieke misstap.
Sy weergawe van die geskiedenis – dat wit koloniste uit die suide swart koloniste uit die noorde in die omgewing van die Groot- en die Klein-Visrivier ontmoet het – is dalk korrek, maar om dít te gebruik as rede waarom swart mense geen aanspraak op die weste van die land het nie, is om te argumenteer dat wit mense geen reg op die noordelike provinsies het nie. Dít is ’n onhoudbare posisie vir Mulder se ondersteuners in die Vrystaat en die voormalige Wes- en Noord-Transvaal.
Soos my berekeninge hierbo wys, is Mulder egter reg om daarop te wys dat die huidige patrone van grondeienaarskap min ooreenkomste toon met die prentjie wat baie grondaktiviste en regeringsamptenare aan ons voorhou.
Baie voorstanders van grondhervorming sal natuurlik argumenteer dat selfs 50% van grond in die hande van 10% van die bevolking steeds onregverdig en onhoudbaar is.
Maar hier moet hulle versigtig trap.
Die meerderheid van hierdie grond is waarskynlik in die hande van kommersiële boere. Daar is na raming slegs 30 000 van hulle oor in Suid-Afrika. Dit is die helfte van die 60 000 wat daar 15 jaar gelede was.
Dit beteken dat elke boer in 2010 gemiddeld 1 500 hektaar besit het, teenoor die 750 hektaar per boer in die vroeë 1990’s. (Die syfers sal natuurlik baie van streek tot streek wissel.)
Hierdie toename in die grootte van plase illustreer hoe boere hul bedrywighede moes uitbrei om ekonomies produktief te bly deur voordeel te trek uit ’n ekonomie van skaal.
Dit is veral nodig in die lig van die proteksionistiese beskermingsmaatreëls wat hul vernaamste mededingers in Wes-Europa en Noord-Amerika geniet.
Terwyl plase groter en meer produktief geword het, het Suid-Afrika se stedelike markte ook vergroot. In 1990 het 52% van Suid-Afrikaners in ’n stad gebly; teen 2010 was dit 62%.
As gevolg van stedelike armoede en werkloosheid vind die stedelike bevolking dit egter moeilik om die impak van hoë voedselinflasie te absorbeer, en hoë kospryse hou ’n beduidende politieke risiko in.
Min dinge illustreer dié feit beter as die tienvoudige toename in dienslewering protesoptogte die afgelope dekade.
Gegewe dat dit nou aanvaar word dat agt uit tien grondhervormingsprojekte misluk het of besig is om te misluk, sal enige oproep vir versnelde grondhervorming ’n resep vir ’n politieke ramp wees.
Enige beleid wat die vermoë van die land se oorblywende boere om goedkoop kos te produseer bedreig, loop die gevaar om stedelike onrus in die hand te werk – en dis iets wat die regering moeilik sal kan beheer.

Frans Cronjé is hoof van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseaangeleenthede se eenheid vir risiko-ontleding.