KLANK EN WANKLANK
Die opskrif verwys na teenoorstaandes. Geletterd en Ongeletterd. Die waarheid en die leuen. Gelowiges en ongelowiges. Nasionaliste en Kommuniste. Bewaringsbewus en verkwisteraars. Belangstellendes en belangelose. Wyse en dwase. Patriotisme en liberalisme. Die lys is lank. Wat egter van belang is, is dat die klem op die positiewe en negatiewe van die teenoorstaandes deur die opskrif geplaas word.
By geleentheid verklaar ’n Afrikaanssprekende, relatiewe jongman in ’n gesprek dat dit hom nie aangaan wie Suid-Afrika regeer nie. Hy vra bv. aan sy gespreksgenoot: “Wat het nou eintlik verander? Ek staan nog elke oggend om 6 uur op, eet my ontbyt, neem die kinders skool toe, gaan werk toe en kom namiddag tuis. Saterdag gaan kyk ek rugby of neem die kinders atletiek toe en Sondag gaan ek kerk toe. So wat het verander? Solank ek werk het en my punte bymekaar kan kry, gaan dit my werklik nie skeel wie die land regeer nie!”
Hierdie gesprek het my voor die gees gekom nadat ek die rubriek in “Kommentaar en ontleding” van Beeld van Donderdag 20 Oktober 2011 onder oë gehad het. Neels Jackson skryf daarin onder die titel, DIT WÁS BOOS, GENERAAL en bring die verskillende sieninge van die politieke gebeure in Suid-Afrika sedert die moord op dr. Verwoerd, skerp na vore.
Jackson het sy mond uit te spoel oor Genl. Jannie Geldenhuys se kommentaar oor wat hy wat Jackson is, bestempel as die “Bosoorlog” Jackson praat van die tyd toe genl. Geldenhuys hoof van die weermag was en hy ’n dienspligtige. Behalwe dat dit interessant is om te sien hoe mense van dieselfde volk, tydvak en agtergrond, wesentlik van mekaar kan verskil oor dieselfde aangeleentheid, is dit ook tragies dat die teenoorstaande standpunte verdeeldheid in die hand werk, wat nadelig op die voortgang van ’n volk kan inwerk.
Jackson beskryf die oorlog as: “Van alle kante gesien, ’n uiters slegte era in ons geskiedenis.” Daarmee kan die AVP volmondig met hom saamstem, maar oor heel ander redes as dié wat hy aanvoer. Jackson wat homself as ’n gewetensbeswaarde beskryf wat genadiglik nie die bloedige kant van die oorlog gesien het nie, beskryf die oorlog as ’n handeling wat ’n onregverdige en in sommige opsigte ’n bose stelsel in Suid-Afrika help in standhou het en dat dit teen die wense en die belange van die meerderheid Suid-Afrikaners gevoer is..
Jackson beweer verder dat ’n hele geslag jong wit mans met haat ge-indoktrineer is, sodat dit vandag nog vir hulle moeilik is om die destyds gedemoniseerde vyand as medemens te aanvaar. Hierdie soort wanstaltige vertolking van beide die opleiding van dienspligtiges asook die strategie wat gevolg is in die destydse bosoorlog, is begrypbaar vanuit die gesigspunt van die destydse “gewetensbeswaardes” en is dit ook verstaanbaar dat diesulkes dit na vandag toe sal saamsleep om terwille van hulle “gewete”, ’n medemens te maak van enigiets van ’n duiwelaanbidder tot ’n dief en ’n rower en moorddadige barbaar in ontkenning van dit wat jy met jou oë kan sien en met jou ore kan hoor.
Dat die era waarin die bosoorlog plaasgevind het uiters sleg vir ons land was, is uit die gesigspunt van die AVP toe te skryf daaraan dat die destydse politici se verskuilde agenda om tyd te koop vir ’n onderhandelde skikking, ten koste van baie patriotiese jong blanke Afrikanerseuns se lewens en die Afrikanervolk se vryheid was! ’n Skikking waarvan ons die wrange vrugte vandag pluk. Hierdie vrugte wat “gewetensbeswaardes” , verraaiers en onderhandelaars, gewetenloos gemaak het ten opsigte van die anargie en chaos en honderde duisende menselewens wie se bloed ons land se bodem bevlek,…. terwille van hulle gewete! Dit is hierdie soort wanklanke wat die verdeeldheid in Afrikanergeledere voed en huidig nog die helder klank van patriotisme verdof wyl die “Jacksons” hulle daarin verbly.
Danie Varkevisser