Dis onwys om te sê ou dae was beter, sê prof. Dreyer - 2011-10-02 Beeld
Die Hervormde Kerk moet nou, in die woorde van die Prediker, vir homself sê: “Moenie sê in die ou dae was dit beter as nou nie; dis nie uit wysheid dat ’n mens so sê nie.” Dít is die raad van prof. Theuns Dreyer, gewese voorsitter van die algemene kerkvergadering, aan die vooraand van vandeesweek se buitengewone algemene kerkvergadering. Dreyer skryf in die jongste e-Hervormer, die kerk se elektroniese nuusbrief, oor die huidige onmin in die kerk en sê in sy 41 jaar as predikant was daar nog nooit soveel verdagmakery en vyandigheid as nou nie. Uit ’n pastorale oogpunt bring hy dit in verband met die beëindiging van apartheid in 1994 wat deur baie as verlies ervaar is. Afrikaners het hul vryheid en politieke seggenskap verloor.
Sommige voel hulle het hul vaderland verloor. Baie het hul werk verloor en ouers het kinders verloor wat geëmigreer het. Daarby het mense hul veiligheid verloor. Dreyer sê traumatiese verlies lei noodwendig tot ’n treur- of rouproses. Een manier om die verlies te hanteer, is ontvlugting na die verlede. Hy sê die Afrikaner het goeie dae in die vorige bedeling beleef, maar ook foute gemaak.
“Ons kan egter nie bly regresseer in die verlede nie. Die treurproses word eers afgehandel as ons die nuwe werklikheid in die oë staar en met die heroriëntering begin.”
Die groot uitdaging is nou om na die werklikhede te kyk en saam te besin oor hoe die Hervormde Kerk sy roeping in die nuwe bedeling die beste kan uitleef. Dreyer sê dit vra dat gelowiges mekaar met begrip, liefde en respek sal behandel en tot versoening sal kom. Hy bid dat die Hervormde kerk by die komende buitengewone algemene kerkvergadering die treurproses kan afsluit en met ’n nuwe hoofstuk in die kerk se geskiedenis kan begin.
Prediker 7:10
Moenie sê nie: Hoe kom dit dat die vorige dae beter was as die teenswoordige? want nie uit wysheid vra jy hierna nie.
Ek haal professor Dreyer aan uit die bostaande berig:
“Dreyer skryf in die jongste e-Hervormer, die kerk se elektroniese nuusbrief, oor die huidige onmin in die kerk en sê in sy 41 jaar as predikant was daar nog nooit soveel verdagmakery en vyandigheid as nou nie.” Is dit dan nie ook maar ‘n verwysing daarna dat dit in die ou dae beter was as nou nie? Vanuit ’n pastorale oogpunt is dit juis sy verantwoordelikheid om leiding te gee oor die vermyding van die huidige oorsake onderliggend aan die vyandigheid en verdagmakery waarna hy verwys, in stede van die sieklike strewe na horisontale versoening wat juis aan die wortel lê van al die ellende wat ons vandag beleef.
Die Prediker is reg as hy sê dat dit nie wys is om te vra waarom dit in die verlede beter was as nou nie. En in sy aanhaling daarvan is Prof. Dreyer ook reg. Dit is egter alles behalwe wys om die oorsaak van vandag se ellende as oplossing voor te hou vir ’n beter bedeling. Die beheptheid van die leiers van die kerk om voort te gaan om gelowiges te probeer saamsleep op ’n pad wat die potensiaal het om ook die kerk te vernietig soos bv. in Ethiopië en ander Afrika lande, bring nie net die leiers nie, maar ook die kerk as instelling onder verdenking en sal géén bydrae lewer tot die versoening waarna hy streef nie!.