Ons plaas hierdie berig wat September ‘n jaar gelede op ons webblad was en nou in ons argief is, net weer vir perspektief. Al gaan die leuen hoe so snel, die waarheid agterhaal hom wel, gaan die ou gesegde! Cele moet nou weer van voor af verduidelik!
Die verstommende aksies van ANC-hoofde is nie altyd as gevolg van onvermoë nie maar dikwels deurdagte besluite om hulle doel, wat dit telkens ookal is, te bereik. So kan genl.maj. Stephanus Terblanche, ’n voormalige polisiegeneraal en bestuurder in die polisie se afdeling Voorsieningsbestuur, getuig ná Bheki Cele, die ANC se nasionale polisiehoof, se inkriminerende uitlatings verlede week in die parlement. Terblanche wat in Augustus summier afgedank is nadat hy geweier het om te bedank word nou saam met nog 'n voormalige generaal deur Cele beskuldig van korrupsie, dinge waarvoor Cele self in die spervuur staan. Maar Cele het betyds van Terblanche ontslae geraak, of so dink hy, en nou kan die blaam na Terblanche verskuif word.
Volgens Terblanche het Cele reeds op 14 Julie besluit hy word herontplooi en dat hy sy pos “onmiddellik” moet ontruim. “Cele het (strydig met polisievoorskrifte) geen redes gegee nie. Ek het geweier.” Terblanche is ontslaan en het ’n skeidingspakket gelykstaande aan twee jaar se salaris ontvang.
Die twee voormalige polisiegeneraals oorweeg regstappe weens genl. Bheki Cele, nasionale polisiehoof, se “inkriminerende uitlatings” verlede week in die parlement.
Die ander persoon, lt.genl. Hamilton Hlela, voormalige hoof van voorsieningsbestuur, het gister gesê hy het reeds met sy prokureur gepraat. Ook genl.maj. Terblanche, het bevestig hy gaan stappe doen sodra die spesiale ondersoekeenheid (SOE) se ondersoek na die polisie se verkrygingsprosedures afgehandel is.
Albei beamptes was verlede Vrydag in die spervuur toe Cele en sy topbestuur voor die portefeuljekomitee oor polisie verskyn het. ’n Slangput van verdagte huurkontrakte, bouprojekte en tenders vir goedere en dienste het ter sprake gekom. Hlela en Terblanche, wat die polisiediens in Augustus verlaat het, is in hul afwesigheid as die sondaars uitgesonder vir beweerde wanpraktyke wat onder hul toesig plaasgevind het.
“Ons is vir ’n spul misdadigers uitgemaak, maar ek sal enige tyd parlement toe gaan. Ons kan rekenskap gee van elke sent wat bestee is,” het Terblanche gister gesê. Hy vind dit vreemd dat die polisie hom nie eerder geskors of aangekla het oor die beweerde wanpraktyke wat in die parlement geopper is nie. “Ek is ná 40 jaar weg met ’n skoon gedragstaat, wat in vandag se tyd seldsaam in die polisie is. Ek is nog altyd as ’n top-presteerder gereken,” het Terblanche gesê.
Hy meen die SOE se ondersoek sal lig werp op die omstrede peperduur huurkontrakte vir die polisie se hoofkantore in Pretoria en Durban wat onlangs in opdrag van die minister van openbare werke gestaak is.
Terblanche was veronderstel om dokumente vir die behoeftebepaling en kostes vir die nuwe geboue af te teken omdat dit betrekking het op ’n begroting wat onder sy toesig was. “Maar ek het geweier.”
Ook Hlela het gister die aantygings wat teen hom gemaak is, ontken.
“Ek is uiteraard ontsteld. Ek het nie bedank nie, maar vroeg afgetree omdat ek gevoel het ek móét gaan.”
Hy wou nie kommentaar lewer op die vraag of hy uit sy pos gedwing is nie. Volgens Hlela het die departement van openbare werke die kontrak om die polisie se hoofkantoor in Wachthuis in Pretoria te huisves met tien jaar verleng.
“Dit was nie ek nie.”
Voorts is die bestelling vir nege waterkanonne ter waarde van R47 miljoen “nooit goedgekeur nie” en hy “weet niks” van ’n kontrak van R12 miljoen om Cele en mnr. Nathi Mthethwa, minister van polisie, se kantore in Wachthuis op te knap nie.