Vandag 359 jaar gelede is die Afrikanervolk geplant.
Johan Anthoniszoon (Jan) van Riebeeck (Culemborg, 21 April 1619 – Batavia, 18 Januarie 1677), was die stigter van die eerste kolonie in Suid-Afrika in opdrag van die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie (VOC). Sy stigting by die Kaap die Goeie Hoop groei tot die Kaapkolonie, en uiteindelik die Republiek van Suid-Afrika. Van Riebeeck word groot in Schiedam as die seun van 'n dokter en trou daar met Maria de la Queillerie op 28 Maart 1649. Sy sterf in Malacca op 11 Februarie 1665.
Van Riebeeck vul al vanaf 1639 'n aantal poste by die VOC: eerste vertoef hy in Batavia as dokters-assistent, waarna hy Japan besoek. Sy belangrikste pos was as hoof van die handelspos in Tonkin, Viëtnam, maar hy word teruggeroep nadat dit aan die lig kom dat hy homself aan private handel skuldig gemaak het. In 1651 word hy uitgestuur om 'n verversingstasie in te rig by die Kaap die Goeie Hoop aan die suidpunt van Afrika.
Op 6 April 1652 land Van Riebeeck in Tafelbaai, plant die vlag van die VOC en kies die plek waar die Fort de Goede Hoop opgerig moet word, die eerste Nederlandse nedersetting aan die Kaap. Van Riebeeck en sy 90 koloniste (onder wie 8 vroue is) lê tuine aan om vrugte en groente te verbou om die VOC-skepe wat by die kolonie aandoen mee te kan voorsien. Vleis word verkry deur middel van ruilhandel met die plaaslike Khoikhoi-stamme, wie deur die Nederlanders Hottentotten genoem word.
Op 17 Desember 1652 ontdek Van Riebeeck die komeet C/1652 Y1, die eerste komeet wat in Suid-Afrika ontdek is.
Van Riebeeck bly die leier van die kolonie tot 7 Mei 1662, op welke datum hy na sy nuwe posisie in Batavia vertrek. Hy is deur Zacharias Wagenaer opgevolg as kommandeur van Kaap die Goeie Hoop.
Op die 2de verjaardag van die landing aan die Kaap lê Van Riebeeck hierdie gelofte af ter ere van God.
DIE GELOFTE VAN JAN VAN RIEBEECK - 6 APRIL 1654
Waar dit vandag die tweede verjaarsdag is van die dag waarop ons deur die HERE gelei, met die skepe Drommedaris, Reijger en De Goede Hoop hier ter plaatse behoue aangeland het om hierdie vesting en kolonie na die bevel van ons here en meesters [Here XVII – die Direkteure van die VOC] te bou en te bestendig, en opgelet dat God die HERE alle sake tot vandag toe met vele seëninge voorspoedig en na wense laat verloop en laat slaag het, daarom het ons besluit, en ook vir die eerste keer begin om hierdie dag, die 6de April, tot eer van God met danksegging te vier en vir altyd tot ‘n vasblywende dank- en biddag in te stel, sodat daarby die weldade van die HERE wat aan ons bewys is, deur ons nakomelinge nooit vergeet mag word nie, maar altyd tot eer van God in gedagtenis en herinnering gehou sal word.