1 2 3c

Totale besoekerstal

Artikels vertoon Trefslae
8333548

Besoekers aanlyn

Ons het 67 gaste en geen lede aanlyn

 

  Videos en Toesprake

St Helena projek 200

Teken aan

Godsdiens

MY WEG OF SY WEG?

BybelJona 1:1-17

Ons vorige boodskap het gehandel oor die lewe van ‘n wedergebore kind van God en of jy waarlik vir God ken of dalk maar net van Hom weet?  Die vraag wat hier duidelik na vore gekom het, was of ek my eie sondige mens afgesterf het om plek te maak vir die mens wat onder Christus se gesag in sy lewe staan om met Hom te wandel.  Is Hy m.a.w. die Een wat die rigting van my lewe bepaal?

Ons lees in vers 2 van die gelese gedeelte hoedat God vir Jona ‘n uitdruklike instruksie met die nodige aanwysings gee waarlangs Hy hom wil stuur.  Ons lees egter in die volgende vers hoedat Jona doelbewus kies om sy eie koers in te slaan en nie die pad wat God vir Hom aangewys het nie.  Dit is vir ons as gelowiges (wat bekend is met die hele vertelling van Jona) baie maklik om in retrospek te reken dat Jona baie dwaas opgetree het.  Ons kan selfs vir Jona veroordeel as ‘n selfsugtige persoon weens die feit dat hy soveel ander mense se lewens in gevaar gestel het met sy roekelose optrede.

 

Ons leer egter ‘n waardevolle les deur die prediking van Jesus Christus, nl. om altyd eers die balk uit ons eie oog te haal alvorens ons die splinter in ‘n ander se oog probeer raaksien.  Dit sou natuurlik op hierdie oomblik die gulde geleentheid wees om selfondersoek in my eie lewe in te stel om te verseker dat ek nie dalk dieselfde foute as Jona in my eie lewe maak nie.  Is ek waarlik in my lewe hier op aarde op weg met Christus of het ek ook besluit om my eie rigting te kies en my eie koers in te slaan?  Ek maak dalk ook doelbewuste keuses in my lewe wat reguit in stryd is met God se Woord en begeef my hierdeur op ‘n weg wat, nie net vir myself nie, maar ook vir soveel ander mense rondom my, geweldige storms in die lewe veroorsaak.

Wanneer hierdie storms van die lewe skielik rondom ‘n mens begin woed, is dit menslik om na redding te begin soek.  Dit is mos ook menslik om altyd eers in ons menslikheid te probeer om ons eie oplossings te vind, alvorens ons erken dat ons vir God nodig het om ons te help.  Ons besef dan weer opnuut hoe afhanklik ons van Hom is.  Dit is egter ‘n probleem wanneer ek my oë opslaan in hierdie storms van my lewe en nie vir Jesus kan raaksien nie, want ek besef dat ek nie soos Petrus deur Hom gelei is op hierdie weg (met storms rondom my) nie, maar eerder weens my eie ongehoorsaamheid daarop beland het en nou eensaam en verlate voel.  Ek wil graag soos Petrus uitroep – “Here, red my!”, maar weet nie of dit sal help nie, want ek weet dan dat ek doelbewus gekies het om hierdie weg te bewandel terwyl Hy my uitdruklik daarteen gewaarsku het.  Dit voel dan ewe skielik vir ‘n mens asof God jou verlaat het, terwyl die waarheid is dat jy die een is wat die afdraai gekies het. 

Jona kon natuurlik gekies het om eerder te swyg oor die rede vir hierdie storm wat hom en die bemanning van die skip se lewens in gevaar gestel het, omdat hy bang was daarvoor dat die hele bemanning hom sou beskuldig en verwyt vir die oorsaak hiervan.  Hy besef egter dat hy verantwoordelik is vir hierdie storm en kies om die edel-besluit te neem en met sy verkeerdheid na vore te tree.  Jona se aanvaarding van sy verantwoordelikheid en die belydenis van sy verkeerde optrede het nie sy dood veroorsaak nie, maar inteendeel het dit juis sy lewe gered, asook die lewens van die bemanning aan boord van die skip en later selfs die duisende lewens van die inwoners van Ninevé.  Hierdie is weereens vir ons ‘n klinkklare bewys dat God nie die mens straf sonder rede en om somaar  vrees by die mens in te boesem nie, maar juis omdat Hy die mens liefhet en wil hê dat die mens die weg van die lewe moet kies.  Eségiël 18:30-32:” Daarom sal Ek julle oordeel, o huis van Israel, elkeen volgens sy weë, spreek die Here HERE. Bekeer julle en wend julle af van al julle oortredinge, sodat dit nie ’n struikelblok tot ongeregtigheid vir julle mag wees nie. Werp al julle oortredinge waardeur julle oortree het, van julle af weg en maak vir julle ’n nuwe hart en ’n nuwe gees; want waarom wil julle sterwe, o huis van Israel? Want Ek het geen behae in die dood van hom wat sterwe nie, spreek die Here HERE. Bekeer julle dan en lewe.”

Ons almal is maar mens en maak soms die verkeerde keuses.  Ons besef dikwels nie hoe verkeerd ons keuses is nie, totdat die gevolge daarvan voor ons oë begin afspeel.  Ons moet egter nie dwaas wees en probeer om ons verkeerde keuses vir God weg te steek nie, want dit sal veroorsaak dat ek skaam raak vir God en van Hom vervreemd raak.  Dit is van kardinale belang dat ons elke keer wanneer ons verkeerde keuses maak, so gou as moontlik die saak met Hom te gaan uitmaak.  Jesaja 1:18-20:” Kom nou en laat ons die saak uitmaak, sê die HERE: al was julle sondes soos skarlaken, dit sal wit word soos sneeu; al was dit rooi soos purper, dit sal word soos wol. As julle gewillig is en luister, sal julle die goeie van die land eet. Maar as julle weier en wederstrewig is, sal julle deur die swaard geëet word; want die mond van die HERE het dit gespreek.”  Ons weiering om laasgenoemde te doen, sal noodwendig die dood en dalk ook die dood van ander (wat hierdeur geraak word) veroorsaak.  Dit maak nie saak hoe katastrofies die gevolge van ons keuses vir ons lyk nie; ons moet onthou dat God in alle omstandighede uitredding kan skenk, maar Hy eis egter belydenis en berou alvorens Hy ons te hulp sal kom.

Dit is belangrik vir ‘n kind van God om die besluit te neem om nie vir God te versoek deur aanhoudend dieselfde verkeerde keuses te maak wat reeds getoon het om storms in my en ander se lewens te veroorsaak nie.  Wanneer ‘n mens aanhoudend dieselfde verkeerde keuses herhaal, noem ‘n mens dit nie meer keuses nie, maar eerder ‘n lewenstyl.

Dit is dalk tyd dat ek en u vanoggend ook wakker word uit die slaap, soos wat Jona wakker geruk moes word uit die slaap terwyl die storms rondom hom gewoed het.  Dit is dalk vir menige van ons tyd om ons lewens, ons keuses en die weg waarlangs ons in die lewe wandel, voor God oop te stel met die versoek dat Hy die keuses wat ek maak wat “stormagtige gevolge het”, aan my uit te wys en my opnuut langs die ewige weg te lei!

 

 

 s1

 d1

 sw1

 v1

Haat Spraak  

 

Volkstem Vorige Uitgawes Advertensie