1 Petrus 1:3-12
Dit is maklik vir ons om vandag hier te sit en in ons harte onsself te verhef oor ons saligheid en hoe ons ten minste die moeite doen om ‘n erediens te hou terwyl die wêreld daarbuite vergeet van Hemelvaart.
Alhoewel ons byeenkoms voorwaar verkwikkend vir ons siel is en aangemoedig behoort te word onder mede-gelowige volksgenote, is dit nie ‘n geleentheid wat ons moet gebruik om ons teen die wêreld te beroem nie. Ons lees sommer in die eerste vers van ons gelese gedeelte(:3) dat ons wedergeboorte (m.a.w. ons ware geloof in Christus Jesus) aan ons geskenk is deur die Vader in Sy grote barmhartigheid. Dit is vir hierdie geskenk dat ons as gelowige volksgenote in Jesus Christus vandag byeen is om ook die God en Vader van onse Here Jesus Christus te loof en te dank.
Ons lees in vers 4 dat hierdie geskenk ons kinders en derhalwe ook erfgename maak wat ‘n onverganklike, onbesmette en onverwelklike erfenis kan verkry. Hierdie erfenis word vir ons bewaar in die hemele in die krag van God deur die geloof tot die saligheid. Wanneer ons die omvang van hierdie geskenk in oënskou neem, besef ons opnuut dat ons geloof waarlik ons kosbaarste besitting is – ja, selfs baie meer kosbaar as goud. (:7).
Die besef dat ons ryke erfgename is, moet ons egter op ons hoede maak teen die aanslae van ons vyand wat die geskenk van ons geloof en derhalwe ook ons erfenis van ons sal probeer roof. Ons moet ons daarin verheug wanneer ons tans vir ‘n kort tydjie beproef word en selfs bedroef raak wanneer ons sien dat dae soos Hemelvaart van die kalender geskrap word as ‘n erkende vakansiedag. Wanneer ‘n dag soos Hemelvaart van die kalender geskrap word, beteken dit egter nie dat ons ons erfenis kwyt is nie, mits ons nie Christus, volgens die voorbeeld van die wêreld, uit ons harte en lewens skrap nie. Net soos wat ons nie nodig het om Jesus Christus fisies te sien om in Hom te glo en Hom lief te hê nie, net so hoef hierdie dag nie fisies op ‘n kalender te verskyn sodat ons dit sal bly onderhou en eer ter nagedagtenis aan ons Verlosser nie. Ons durf egter nie verskonings uitdink oor waarom ons nie hierdie uiters belangrike dag op ons Christelike kalender nie op ‘n eerbiedwaardige wyse kan deurbring nie. Wanneer ons begin om verskonings te maak oor waarom ons nie ons Christelike verpligtinge rondom hierdie dag kan nakom nie, bloot omdat dit vir ons ongerieflik is en inbreuk maak op die vleeslike, is dit net ‘n kwessie van tyd voordat die vyand die belangrikheid hiervan ook van ons harte sal kom roof.
Suid-Afrika word allerweë beskou as ‘n Christelike land. Laasgenoemde seker net omdat die Christendom nog saam met die heidendom tot op hede hier verdra is, maar weliswaar nie omdat die Christendom die allesoorheersende faktor is nie. Dit is egter baie duidelik dat die tyd vir die Christendom in Suid-Afrika besig is om uit te loop wanneer ons kyk na verwikkelinge op staatkundige- en ekonomiese gebied asook na dit wat in die kerke en onderwysstelsel aan die gang is. Hoe kan Suid-Afrika beskou word as ‘n Christelike land terwyl Christus op soveel lewensterreine ontken word? Is Suid-Afrika nog ‘n Christelike land wanneer daar vandag meer besoekers by Nampo is as wat ons seker met ‘n realistiese blik verwagte kan wees by Hemelvaart-eredienste regoor die land? Is dit die toonbeeld van Christelike sakebeleid dat slegs enkele besighede gesluit is op hierdie dag?
Mag onse God en Vader ons daartoe help dat ons moeilike lewensomstandighede in ons Vaderland ons geloof in Hom sal louter en suiwer. Alhoewel ons Hom nie sien nie, glo ons tog in Hom en het ons Hom tog lief. Mag die wêreld daarbuite Hom deur my en jou lewe raaksien, want wees verseker dat jou leë skoolbank vanoggend, jou afwesigheid by die werk, jou geslote besigheidsdeure vandag ‘n getuienis is van Hom vir die wêreld om te sien. Die wêreld sal dalk deur my en jou getuienis sien dat om in Hom te glo beteken nie om bloot van Hom te weet nie, maar om Hom te ken, Hom lief te hê, Hom te dien en vir Hom te leef.
Hier waar ons vandag sit as gelowiges in Jesus Christus met dieselfde einddoel voor oë, nl. die saligheid van ons siele, kan ons verseker wees dat ons erfenis reeds vir ons berei is en bewaar word. Ons het boonop ook reeds die sleutel ontvang wat ons ingang sal verleen tot hierdie erfenis, nl. ons geloof in Jesus Christus. Hiervoor wil ons ook vandag getuig - Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus wat aan ons in Sy barmhartigheid en genade ook toegang tot ons ewige erfenis skenk. Mag ons hierdie geskenk (ons geloof) trou van harte bewaar!