Lukas 19:1-10
In hierdie gedeelte lees ons van ‘n man wat so eie is aan karakters van ons huidige samelewing – iemand wat van Jesus gehoor het, maar Hom nie ken nie. Hy weet van Hom en het al van Hom gehoor, maar hy ken Hom nie. Die persoonlike verhouding ontbreek.
In vers 5 nooi Jesus hierdie sondaar wat so oor Hom wonder om nie alleen na Hom te kom nie, maar om ook aan Hom blyplek vir die aand te verskaf. Hierdie sondige tollenaar wat openlik mense inloop in transaksies en nie eers vir Jesus ken nie, word deur Jesus genader om vir Hom blyplek te verskaf. So kenmerkend aan ons Meester, Jesus Christus, stel Hy nie eers die voorwaardes alvorens Hy by Saggéüs sou tuisgaan nie, maar gaan by hom tuis ten spyte van sy foute en sondige gebreke. Hierdie gesindheid van Jesus tesame met Sy Goddelike heiligheid en heerlikheid is so oorweldigend vir Saggéüs dat hy summier sy sonde teenoor Hom bely en onderneem om dit ook reg te stel.
Dit bring ons vandag by ‘n paar belangrike vrae wat eerlik beantwoord moet word. Eerstens – ken u u enigste Verlosser en Saligmaker, Jesus Christus, of is u ook net bewus van Hom? Sou u Hom nie ken nie, is dit nie nodig om skaam te wees daaroor nie, want dit is die presiese gesindheid wat Saggéüs ook openbaar het. U moet egter ook hierdie voorbeeld navolg en na Hom gaan soek – hoe nietig u pogings ook al vir u mag lyk. Saggéüs wou selfs net sien hoe Hy lyk.
Tweedens moet ons luister wanneer Hy wel met ons praat. Wanneer Hy ons uitnooi om ons lewens vir Hom oop te maak en dit voor Hom te stel, moet ons Hom toelaat om by ons tuis te gaan. Hy klop nie aan ons hart se deur om in te gaan en deurgaans fout te vind en alles om te keer nie – inteendeel Hy kom na ons om met ‘n rustige gesindheid ons te oortuig van ons ongeregtighede sodat ons vry kan word daarvan – ons is duur gekoop deur Sy bloed en Hy wil nie hê dat ons diensknegte van die sonde moet wees nie. Ons moet Hom derhalwe ook met blydskap in ons lewens ontvang.
Derdens moet ons leer om meer te fokus op wat Hy van ons dink en verwag as wat die wêreld van ons dink en verwag. Wanneer ons Jesus Christus as ons Verlosser en Saligmaker aangeneem het, moet ek ophou om die wêreld te probeer behaag en moet ek doen dit wat God welbehaaglik is. Dit beteken nie dat ek niks met mense te doen moet hê nie, want ek kan God juis behaag wanneer ek in liefde, regverdig en met geregtigheid teenoor ander mense optree. Ons is steeds in hierdie wêreld, hoewel nie meer van hierdie wêreld nie, aangesien ons veronderstel is om die dinge van ons Vader se koninkryk te bedink wat nie van hierdie wêreld is nie.
Laastens moet ons die belangrike les leer wat die Evangelie van vrede ons so DUIDELIK leer en wat die skeidslyn trek tussen die Waarheid en dwaalleringe soos die humanisme. Wanneer ek tot skuldbesef kom, is dit nie genoeg om dit jammerlik voor God te bekla of selfs skynheilig te bely net om dit na verloop van tyd weer voort te sit nie. Wanneer ek tot skuldbesef kom, moet optrede teenoor hierdie sonde en/of verkeerdheid in my lewe noodwendig volg. Dit beteken nie dat sonde altyd binne ‘n kort tydsbestek in u lewe vernietig MOET wonder anders is u ongelowig nie, maar dit mag nie met rus gelaat word in u lewe om daar wortel te skiet nie. Dit moet voortdurend beveg word om uiteindelik oorwin te word sodat u daardeur sterker kan wees om die volgende verkeerdheid in u eie lewe te ondersoek en derhalwe te vorder op die pad van heiligmaking. Onthou, die ware geloof in Jesus Christus, en derhalwe die ware Godsdiens, is nie ‘n uitdaging wat u binne ‘n tydsbestek onder die knie kan kry nie – dit is ‘n keuse om Hom aan te neem en Hom te dien as die enigste God van hemel en aarde en ook die enigste Verlosser en Weg na saligheid.
Ongeag u omstandighede of u persoonlike oordeel, is daar altyd hoop op redding totdat die finale basuin eendag sal blaas. Hoe lyk u huis vandag as Christus nou voor u verskyn met die versoek – “Ek moet vandag by jou tuisgaan.”?