Josua 4:6.: “Sodat dit ‘n teken onder julle kan wees. As julle kinders later vra en sê: Wat beteken hierdie klippe vir julle? Moet julle vir hulle sê: omdat die water van die Jordaan afgekeer is voor die verbondsark van die HERE by sy deurtog deur die Jordaan-die water van die Jordaan is afgekeer; daarom is hierdie klippe as ‘n aandenking vir die kinders van Israel vir altyd.
Vers 21:.......Wanneer julle kinders later hulle vaders vra en sê: Wat beteken hierdie klippe?
22: dan moet julle dit aan julle kinders bekend maak en sê: Op droë grond het Israel deur hierdie Jordaan getrek, 23:deurdat die HERE julle God die water van die Jordaan voor julle uit laat opdroog het, todat julle deurgetrek het, soos die HERE julle God gedoen het met die Skelfsee wat Hy voor ons uit laat opdroog het, totdat ons deurgetrek het; 24: dat al die volke van die aarde kan weet dat die hand van die HERE sterk is, sodat julle die HERE julle God altyd mag vrees.”
Dít, ge-agte volksgenote, is waarom ons die gelofte móét hou! Dat al die volke van die aarde kan weet dat die hand van die Here sterk is, sodat ook ons en ons kinders die HERE onse God altyd mag vrees! Behalwe dat ons ‘n verlengstuk van ons voorsate is wat ‘n gelofte met God gesluit het dat ons daardie wondergebeurtenis soos ‘n Sabat sal herdenk en dit aan ons opkomende geslagte sal oordra, is dit die Afrikanervolk wat God uitgekies het om soos Israel aan alle volke van die aarde te toon dat God se hand sterk is en kán en wíl red, sodat hulle saam met ons Hom altyd mag vrees!
Die AVP roep elke Afrikaner op om altyd by ‘n geloftefees aan te meld in verootmoediging en erkenning van die almag van God wat ons volk wonderbaarlik uitgered het en vandag nog oor dieselfde vermoë beskik vir dié volk wat hom in vrees en gehoorsaamheid dien.
Mag God gee dat die Afrikanervolk altyd hierin gehoorsaam sal wees!
Danie Varkevisser.