1 2 3c

Totale besoekerstal

Artikels vertoon Trefslae
7464467

Besoekers aanlyn

Ons het 17 gaste en geen lede aanlyn

 

  Videos en Toesprake

St Helena projek 200

Teken aan

Afrikaner

LEEF U VIR GOD?

BybelRomeine 6:1-23 “As ons dan saam met Christus gesterf het, glo ons dat ons ook saam met Hom sal lewe, omdat ons weet dat Christus, nadat Hy opgewek is uit die dode, nie meer sterf nie. Die dood heers oor Hom nie meer nie. Want die dood wat Hy gesterf het, het Hy vir die sonde eens en vir altyd gesterwe; maar die lewe wat Hy leef, leef Hy vir God. So moet julle ook reken dat julle wel vir die sonde dood is, maar lewend is vir God in Christus Jesus, onse Here.” (:8-11). Geliefdes, besef u dat daar baie kerkmense is wat nie die hemel gaan beërwe nie? Ja, daar is baie mense wat voor ‘n gemeente hul geloofsbelydenis afgelê het, maar nie deel het aan die koninkryk van God nie. Daar is talle mense wat in naam “Christene” is, maar beslis is hulle dit nie in hul hart en wese nie. En hierdie is geen nuwe verskynsel nie, geliefdes. God het reeds in Openbaring die gemeente van Sardis oor hierdie verskynsel aangespreek. “...Ek ken jou werke, dat jy die naam het dat jy leef, en jy is dood.” (Open. 3:1). Die humanistiese afgodery het ook onder ons volk ‘n groot aantal siele se deel in die koninkryk van God kom steel. Ja, deur slinkse vlyery en mooi-klinkende prediking van dwalleeraars het die Satan daarin geslaag om ook in ons volkshuishouding te kom steel, slag en verwoes. Ja, met ‘n skeefgetrekte lewensbeskouïng word die klem op die mens gestel en God word bloot ingesleep as een wat ‘n verantwoordelikheid teenoor die mens het om net altyd met liefde, “blessings” en al wat mooi klink reg te staan wanneer die “wonderlike mens” dit in “Jesus Naam” gebied.

 

God word nie vir een oomblik in hierdie sataniese dwaling Sy regmatige plek as Heer gegee wat in nederigheid gehoorsaam en geëer moet word nie. Inteendeel, Hy word deur hierdie kettery gereduseer as die Een wat aan die mens gehoorsaam moet wees. My hart krimp eintlik ineen van die lasterlikheid hiervan, geliefdes. Hierdie kettery, wat ongelukkig ook vandag in soveel kerke verkondig word, is lynreg teen die Evangelie van Christus. Die ware Evangelie van Christus leer nie vir ons dat God ons slaaf is wat spring wanneer ons dit gebied nie. Die ware Evangelie leer vir ons dat Christus ons met Sy kosbare bloed gekoop het en dat ons dus Sy eiendom is. “Want die slaaf wat in die Here geroep is, is ‘n vrygemaakte van die Here; so is ook hy wat as vryman geroep is, ‘n slaaf van Christus.” (1 Kor. 7:22).

 

Ja, hierdie ware Evangelie van Christus leer vir ons dat Hy vir ons die toonbeeld van selfverloëning en gehoorsaamheid aan God is. En dat Hy gekom het om ons hiervan te leer – om onsself te verloën, ons eie lewe af te lê, ons eiesinnigheid en eiegeregtigheid te kruisig en deur die geloof in Hom vir God te leef. “Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het.” (Gal. 2:20). Geliefdes, hoeveel van ons kan met eerlikheid sê dat die lewe wat ons in die vlees lewe ‘n lewe in Christus is? Ja, ‘n lewe waarin ons na ware heiligmaking streef.

 

‘n Lewe waarin ons bo alles daarna streef om God in nederigheid te gehoorsaam. ‘n Lewe waarin Hy die Here is na Wie ek met alle verwagting my oë ophef om leiding omdat ek weet dat Hy die Weg na die ewige lewe is. Ja, ‘n lewe waarin ek bereid is om aan Hom te offer eerder as om aan Hom eise te stel. ‘n lewe waarin ek begeer om Sy wil waarlik te ken sodat ek Hom uit liefde kan gehoorsaam eerder as om te verwag dat Hy aan al my eise moet voldoen. ‘n Lewe waarin ek bereid is om myself te verloën, my kruis op te neem en Hom te volg eerder as om myself met ‘n valse vrede te sus dat Hy gekruisig is sodat ek in my eiesinnige lewe kan volhard.

 

“TOE sê Jesus vir sy dissipels:"As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis opneem en My volg.” (Matt. 16:24). Geliefdes, kan ek en u vandag in alle eerlikheid in onse harte sê dat ons in waarheid vir God lééf? Of leef ons ook maar soos soveel ander in hierdie wêreld gewoon ‘n lewe vir onsself? ‘n Lewe waarin ons dalk van Hom weet, ja Hom selfs as God bely, maar sonder om Hom waarlik te ken en in ootmoed te gehoorsaam.

Amen.

 s1

 d1

 sw1

 v1

Haat Spraak  

 

Volkstem Vorige Uitgawes Advertensie