1 2 3c

Totale besoekerstal

Artikels vertoon Trefslae
9185295

Besoekers aanlyn

Ons het 59 gaste en geen lede aanlyn

 

  Videos en Toesprake

St Helena projek 200

Teken aan

Afrikaner

GEREGVERDIG IN CHRISTUS

BybelGal. 1:1-21

“terwyl ons weet dat die mens nie geregverdig word uit die werke van die wet nie, maar alleen deur die geloof in Jesus Christus, selfs ons het in Christus Jesus geglo, sodat ons geregverdig kan word uit die geloof in Christus en nie uit die werke van die wet nie; omdat uit die werke van die wet geen vlees geregverdig sal word nie.” (:16).

Geseënd die Naam van onse Here Jesus Christus! Hy aan Wie ‘n naam bo elke naam gegee is nadat Hy in volkome gehoorsaamheid aan God die Vader ons Saligmaker geword het.

 Ja, geliefdes, in stille ootmoed en met gehoorsaamheid het Christus die straf van ons sondes op Hom geneem ten einde vrede tussen ons en God die Vader te bewerk. “Maar Hy is ter willevan ons oortredinge deurboor, ter wille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel; die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom, en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom.” (Jes. 53:5).

 

Die vrede waarvan ons lees geliefdes is nie ‘n valse vrede wat deesdae algemeen in die wêreld verkondig word nie. Dit is nie ‘n vredesverbond wat tussen God en die sonde gesluit word nie – allermins! Diegene wat hierdie kettery verkondig, laster teen God. Hulle tas Sy Goddelike heiligheid aan en insinueer selfs dat Hy in liefdeloosheid Sy Seun vergeefs laat sterf het. Geliefdes, die vrede waarvan die Woord ons leer, is ‘n vrede wat tussen God en sondige mense wat hulle deur Christus tot God bekeer, ontstaan. Dit is die vrede wat gesluit word tussen die mens en God wanneer die mens tot God gaan om sy sondigheid en verlorenheid te bely en te pleit dat hy/sy in Christus Jesus vergifnis mag ontvang. Dit is die vrede wat gesluit word wanneer die mens in waarheid en opregtheid voor God staan en bely – “Goddelike Vader, ek is by onvermoë om aan die eise van u wet te voldoen. Ek staan in my menslike swakheid skuldig voor U! Maar Here, ek begeer om nie in vyandskap met U te leef nie. Ek begeer om met U vrede en vriendskap te sluit, maar ek is by onvermoë HERE.

 

Wees my arme sondaar genadig!” Bekering, geliefdes, is nie gewoon ‘n erkenning van ons sondige natuur nie. Bekering is ‘n terugkeer na God, dit is ‘n versoening met God, ‘n vredesverbondsluiting! Dit is die besef dat ek van God vervreem geraak het langs die dwaalweë van sonde. Ja, geliefdes dit is die besef dat God langs hierdie weë van sonde nie te vinde is nie en die begeerte om hiervan weg te keer en met God versoen te word. Maar hoe sal ek tot Hom kan terugkeer in my onreinheid? Hoe sal ek dit waag om voor Hom wat te rein van oë is om die kwaad aan te

sien kan verskyn sonder om verdelg te word? “U, wat te rein is van oë om die kwaad aan te sien en die onreg nie kan aanskou nie ...” (Hab. 1:13). Ons kan saam met Paulus in die woorde van 2 Kor. 2:14 uitroep:”MAAR God sy dank wat ons altyd laat triomfeer in Christus ...”. Ja, omdat Christus oor die sonde getriomfeer het kan ons deur Hom tot God nader en kan Hy vir diegene wat aan Hom gehoorsaam is vrede met God ons Vader en ons Skepper

bewerk. “Hy, al was Hy die Seun, het gehoorsaamheid geleer uit wat Hy gely het; en nadat Hy volmaak is, het Hy vir almal wat Hom gehoorsaam is, ‘n bewerker van ewige saligheid geword”. (Heb. 5:8&9).

 

Geliefdes, wat beteken dit dat Christus vir ons ‘n bewerker van ons saligheid geword het? Wat beteken dit om in Christus geregverdig te word? Is die wete dat Christus aan die vloekhout van Golgóta gesterf het hiervoor genoeg? Is alleen die belydenis van hierdie kennis met ons mond tot ons regverdigmaking? Beslis nie, geliefdes! Sal die kennis van goeie boerdery praktyke sonder enige toepassing hiervan vir ‘n boer ‘n goeie oes oplewer? Sal die kennis van goeie sakepraktyke sonder enige toepassing hiervan vir ‘n sakeman ‘n winsgewinde bedryf verseker? Natuurlik nie. Kennis wat nie toegepas word nie lewer nie juis enigiets op nie. En so behoort ons ook ons kennis van Christus se soenverdienste tot ons regverdigmaking toe te pas, geliefdes.

 

Ons behoort nie te aanvaar dat ons maar sondige mense is nie. Nee, nie so gemaak en so gelaat staan nie. Ons moet daarna streef om hierdie sondige mens te kruisig en om met my lewe in Christus oorklee te word. “Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad en Homself vir my oorgegee het.” (Gal. 2:20). Die toepassing van ons kennis in Christus se soenverdienste beteken glad nie dat ons onsself probeer regverdig nie, geliefdes. Dit beteken nie dat ons ons plek in God se koninkryk probeer verdien nie. Die toepassing van hierdie kennis in ons lewens beteken dat ons verstaan dat daar krag in Christus se sterwe was. Dit beteken dat ons ons hande uitsteek na die genade van God wat hierdeur aan ons bewys is.

 

Mag die woorde van hierdie prediking by u elkeen die begeerte wek om in Christus Jesus waarlik met God versoen te word. Ja, mag u hierdeur opgewek word om deur Christus Jesus voor God geregverdig te word. En mag ons hierdie genade van God aanneem en eindelik van alle ongeregtigheid verlos word om vir Hom ‘n toegeruste volk te wees wat rein en ywerig in goeie werke voor Sy Aangesig leef. “WANT die reddende genade van God het aan alle mense verskyn en leer ons om die goddeloosheid en wêreldse begeerlikhede te verloën, ingetoë en regverdig en vroom in die teenwoordige wêreld te lewe, terwyl ons die salige hoop en die verskyning van die heerlikheid verwag van die grote God en ons Verlosser, Jesus Christus, wat Homself vir ons gegee het om ons te verlos van alle ongeregtigheid en vir Homself ‘n volk as sy eiendom te reining, ywerig in goeie werke.” (Tit. 2:11-14).

Amen.

 s1

 d1

 sw1

 v1

Haat Spraak  

 

Volkstem Vorige Uitgawes Advertensie