Heb. 13:20-25
“MAG die God van die vrede, wat die groot Herder van die skape, naamlik onse Here Jesus
Christus, deur die bloed van die ewige testament uit die dode teruggebring het, julle
volmaak in elke goeie werk, om sy wil te doen, deur in julle te werk wat welbehaaglik is voor
Hom deur Jesus Christus aan wie die heerlikheid toekom tot in alle ewigheid! Amen.”
(:20&21).
Daar is niemand van ons wat volmaak is nie. Elke mens het maar sy gebreke, sy
tekortkominge, swakhede en sondes. Maar ongelukkig het hierdie feitelike waarhede in ons
tyd gerieflike verskonings vir mense geword om in sonde te volhard. Dit word effektief
aangewend om enige vorm van vermaning af te weer en hul verantwoordelikheid vir hul
sieleheil die rug te keer.
U het uself seker ook al in ‘n situasie bevind waarin ‘n persoon vermaan word en die
vermaning eenvoudig afwys met die gerieflike verskoning – “Man, niemand is volmaak nie.”
Dit is natuurlik waar. Feit is dat ons hierdie waarheid op die regte wyse moet aanwend. In
plaas daarvan dat ons hierdie waarheid aanwend om ons geloofsverantwoordelikheid te
ontduik en diegene wat ons vermaan te probeer ontspoor, behoort dit ons daartoe aan te
spoor om na onberispelikheid, heiligmaking en volmaking volgens die wil van God in
Christus Jesus te streef. “Maak dood dan julle lede wat op die aarde is naamlik hoerery,
onreinheid, hartstog, slegte begeertes en gierigheid, wat afgodediens is,” (Kol. 3:5). “Beklee
julle dan, as uitverkorenes van God, heiliges en geliefdes, met innerlike ontferming,
goedertierenheid, nederigheid, sagmoedigheid, lankmoedigheid. En beklee julle bo dit alles
met die liefde wat die band van die volmaaktheid is.” (Kol. 3:12&14).
Dit is mos vandag een van die grootste “sondes” wat ‘n mens kan pleeg – om ‘n ander te
vermaan. Hoe durf jy! Jy is liefdeloos! Jy dink jy is beter as ander! Niemand is volmaak nie!
Jy mag nie oordeel nie! Ja, geliefdes hoe hartseer dat selfs in soveel kerke hierdie
verskonings gebruik sal word om diegene wat ander wil vermaan se mond te snoer. En is dit
nie ‘n direkte verontagsaming van God se opdrag nie? “Maar vermaan mekaar elke dag so
lank as dit vandag genoem word, sodat niemand van julle deur die verleiding van die sonde
verhard word nie.” (Heb. 3:13). “…Leer en vermaan mekaar met psalms en lofsange en
geestelike liedere, …” (Kol. 3:16). “En ek vermaan julle, broeders, verdra die woord van
vermaning, want ek het ook maar kort aan julle geskrywe.” (Heb. 13:22).
Die Here onderrig vir ons uit Spreuke 12:1 dat hy wat die teregwysing haat onverstandig is.
“EEN wat die tug liefhet, het kennis lief; maar wie die teregwysing haat, is dom.” Diegene
wat hulself nie aan gesonde teregwysing vanuit God se heilige Woord onderwerp nie is
uiters verwaand. Hulle stel dit indirek dat hul beter weet wat goed is in die lewe as wat God
sou weet. Hulle stel dit indirek dat hulle nie Sy teregwysing nodig het nie. Maar tog is dit
ironies dat baie van diesulkes vinnig weet om te bid wanneer hulle deur onheile bedreig
word. En dan sou die fout natuurlik weer by God lê indien daar nie verhoring op hul gebede
is nie. Hulle sou met God wil twis omdat Hy nie na hulle wil luister nie, maar God durf nie
met hulle twis omdat hulle na Hom nie luister nie. Die Here maak tog hierdie saak in die
woorde van Spreuke 28:9 baie duidelik. “Wie sy oor wegdraai om nie na die wet te luister
nie, selfs sy gebed is ‘n gruwel.”
Hoe ironies is dit wel nie dat diegene wat nie vermaning wil aanneem nie eintlik in hul eie
hart hulself as “volmaak” beskou. Hulle is in hul eie oë volkome – hul het geen vermaning
en teregwysing of raad nodig nie. Daarenteen is ware gelowige van hul swakhede en
tekortkominge voor God bewus. En hulle is hartseer en ontevrede hieroor omdat hulle
weet dat God nie daarmee tevrede is nie. Hulle is ook bewus van hul onvermoë om hulself
te volmaak en daarom dat hulle hul wend tot die Woord, tot Jesus Christus, om redding.
Diegene wat die vermaning en tug verwerp, weerstaan Jesus Christus wat ons tot
volmaaktheid wil lei. “Want as ons opsetlik sondig, nadat ons die kennis van die waarheid
ontvang het, bly daar geen offer vir die sondes meer oor nie,” (Heb. 10:26). “hoeveel
swaarder straf, dink julle, sal hy verdien wat die Seun van God vertrap het en die bloed van
die testament waardeur hy geheilig is, onrein geag en die Gees van genade gesmaad het?”
(Heb. 10:28).
Die gelowige kind van God daarenteen slaan sy oë op tot God en soek gedurig na Hom, bid
gedurig tot Hom om hom te versterk, te grondves en tot volmaaktheid te lei. “En mag die
God van alle genade self, wat ons geroep het tot sy ewige heerlikheid in Christus Jesus,
nadat ons ‘n kort tyd gely het, julle volmaak, bevestig, versterk en grondves!” (1 Pet. 5:10).
Geliefdes, laat ons nie die dwaasheid van die wêreld navolg en deur die sonde en
begeerlikhede van hierdie wêreld verhard word nie, maar eerder mekaar tot liefde en goeie
werke aanspoor terwyl ons na ons volmaking in Christus Jesus streef. “en laat ons op
mekaar ag gee om tot liefde en goeie werke aan te spoor;” (Heb. 10:24).