1 2 3c

Totale besoekerstal

Artikels vertoon Trefslae
7445016

Besoekers aanlyn

Ons het 78 gaste en geen lede aanlyn

 

  Videos en Toesprake

St Helena projek 200

Teken aan

Afrikaner

ONGEREGTIGHEID BLY VOOR GOD NIE VERBORGE NIE

BybelJob 31:1-40

“as ek, soos Adam, my oortredinge bedek het deur my ongeregtigheid in my boesem weg te steek, omdat ek bang was vir die groot menigte en die veragting van die geslagte my laat skrik het, sodat ek my stil gehou, die deur nie uitgegaan het nie!” (:33&34).

Job raak in die gelese gedeelte ‘n baie belangrike saak aan, naamlik die mens se reaksie teenoor sonde. Job verwys terug na die eerste geskape mens, Adam, en sy reaksie teenoor sonde. Adam het sy sonde, sy ongeregtigheid teenoor God, probeer verberg. Hy het vir God probeer wegkruip en nadat hy nie hierin kon slaag nie het hy sy eie ongeregtigheid agter Eva probeer verberg. “En die mens antwoord: Die vrou wat U gegee het om by my te wees, sy het my van die boom gegee, en ek het geëet.” (Gén. 3:12).

God maan die mens van die vroegste tye af alreeds om nie iets vir Hom te probeer verberg nie. Hy maan die mens daartoe om opreg en eerlik met Hom te wees. En so vermaan Hy die mens om sy ongeregtighede nie te probeer verberg of goed te praat nie, maar om dit voor Hom te bely en dit te laat staan. “Hy wat sy oortredinge bedek, sal nie voorspoedig wees nie, maar hy wat dit bely en laat staan, sal barmhartigheid vind.” (Spr. 28:13). Hierdie vermaning van God uit Spreuke 28 word in 1 Johannes 1:8-10 verder deur God beklemtoon. “AS ons sê dat ons geen sonde het nie, mislei ons onsself en die waarheid is nie in ons nie. As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig. As ons sê dat ons nie gesondig het nie, dan maak ons Hom tot ‘n leuenaar en is sy woord nie in ons nie.”

Daar is in ons tyd ‘n menigte valse leraars wat mense onder die indruk probeer bring dat sonde maar ‘n nietigheid in God se oë is. Geliefdes, diesulkes maak God tot ‘n leuenaar en ‘n geweldenaar volgens die getuienis van die Woord. Ek sê dat hulle God tot ‘n leuenaar maak omdat God self in 1 Joh. 1:10 dit stel dat diegene wat meen dat hulle geen sonde het nie Hom tot leuenaar maak. Die bewering dat die sonde ‘n nietigheid is, lê rakelings langs die argument dat ek sonder sonde is – die doel van die argumente is een dieselfde, nl. sonde is iets waaraan ek my nie veel hoef te steur in hierdie lewe nie. ‘n Mens wat hierdie houding jeens sonde het, sal nie enige begeerte na ‘n Verlosser hê nie omdat hulle na eie mening niks het waarvan hulle verlos moet word nie. En daarom dat God ook in 1 Joh. 5:10 dit stel dat hulle juis hierom Hom tot ‘n leuenaar maak. Hulle impliseer dat God nie die waarheid praat wanneer Hy sê dat Hy Sy Seun as ons Verlosser na die aarde gestuur het nie. “Wie in die Seun van God glo, het die getuienis in homself. Hy wat God nie glo nie, het Hom tot leuenaar gemaak, omdat hy die getuienis nie geglo het wat God aangaande sy Seun getuig het nie.” (1 Joh. 5:10). Hulle impliseer ook dat God ‘n ongevoelige wreedaard is omdat Hy dan Sy Seun sonder geldige rede oorgelewer het tot ‘n vernederende en pynlike dood. En daarom dat ek dit stel dat hierdie valse leraars God as geweldenaar uitmaak.

Dit behoort tog vir die mens maklik te wees om raak te sien dat hierdie dwaalleer die werk van Satan is. Hy slaag hierin om die mens van God se vergifnis te weerhou. En dit lei daartoe dat hy die mens nie God se genade en barmhartigheid laat ervaar nie. Ja, hy weerhou hulle van daardie onbeskryflike gevoel van liefde, barmhartigheid en genade wanneer die mens in totale onvermoë en bewus van sy eie sondigheid en verlorenheid tog deur God begenadig word. Ja, daar waar die mens in diepe bewustheid van sy ongeregtigheid voor God sit en selfs bereid is om die straf van sy sonde te dra omdat hy weet dat dit sy verdiende loon is, maar eerder die woorde van heil uit 2 Kor. 12:9 aanhoor. “En Hy het vir my gesê: My genade is vir jou genoeg, …” Lê die Woord van God dit nie vir ons duidelik bloot dat die valse leraars wat mense hierdie groot guns, genade en barmhartigheid weerhou eintlik die geweldenaars, wreedaards en leuenaars is nie?!

Geliefdes, hoe lyk u lewe vandag? Is daar in u lewe ook dinge wat u eerder vir God probeer wegsteek omdat u daarvoor skaam is? Wel, al steek u hierdie dinge vir die ganse mensdom weg is dit nie vir God verborge nie. Hy weet reeds daarvan! “En daar is geen skepsel onsigbaar voor Hom nie, maar alles is oop en bloot voor die oë van Hom met wie ons te doen het.” (Heb. 4:13). Dit is alleen die leuen van Satan wat u kan laat glo dat Hy nie hiervan bewus is nie. En hy gebruik hierdie selfde leuen om u te laat glo dat u nie nodig het om u ongeregtigheid voor God hoef te bely nie, want hy wil u gemeenskap met God ontneem! U behoort nie na so ‘n geweldenaar en leuenaar te luister wat ‘n mensemoordenaar is nie, maar eerder van hom af weg te vlug.

U sou dalk vanoggend dink dat u nêrens het om heen te gaan nie omdat u besef dat u God dalk in u lewe met u sondige dade diep bedroef en teleurgestel het. Moenie hierdie leuen van die satan glo nie omdat God dit in die woorde van Lukas 15:10 weerlê. “So, sê Ek vir julle, is daar blydskap voor die engele van God oor een sondaar wat hom bekeer.” Jesus Christus sit nie en wag dat volmaakte mense hulself aan hom kom vertoon nie, maar juis om verlore sondaars tot volmaaktheid te lei. Hy het gekom om te soek en te red wat verlore is – moet uself nie vir Hom probeer verberg nie. “Want die Seun van die mens het gekom om te soek en te red wat verlore was.” (Luk. 19:10).

Amen.

 s1

 d1

 sw1

 v1

Haat Spraak  

 

Volkstem Vorige Uitgawes Advertensie