Markus 1:1-8
“Ek het julle wel met water gedoop, maar Hy sal julle doop met die Heilige Gees.” (:8).
Johannes die Doper – hy was ‘n groot man voor God. “want hy sal groot wees voor die Here. ...” (Luk. 1:15). “Voorwaar Ek sê vir julle, onder die wat uit vroue gebore is, het daar nie een opgestaan wat groter is as Johannes die Doper nie; maar die kleinste in die koninkryk van die hemele is groter as hy.” (Matt. 11:11). Hy is deur God gestuur om die weg voor Christus te baan. Johannes moes mense aanspreek en oproep om hulle van hul sondige weë te bekeer.
Johannes was egter deeglik bewus van die feit dat hyself geen mens se verlosser was nie. Hy moes wel die mense tot inkeer roep en die rigting na hul Verlosser aandui, maar hy het self geweet dat Christus alleen ons uit die mag van die bose kan verlos. “...Ek doop julle wel met water, maar Hy kom wat sterker is as ek, wie se skoenriem ek nie waardig is om los te maak nie – Hy sal julle doop met die Heilige Gees en met vuur.” (Joh. 3:16).
Johannes het geweet dat hy mense tot bekering kan aanspoor, maar dat dit Christus Jesus alleen is wat ‘n mens van sonde kan vrymaak. Hy alleen kan die sonde uit ons lewens weg was – of dit nou is met die strelende water uit die Woord wat saggies vloei en of dit nou is met harde woorde en beproewinge wat die ongeregtigheid soos vuur uit ons lewens wegvreet – Christus alleen kan ‘n mens volkome reinig. “KYK, Ek stuur my boodskapper wat die weg voor My uit sal baan; dan sal skielik na sy tempel kom die Here na wie julle soek, naamlik die Engel van die verbond, na wie julle ‘n begeerte het. Kyk, Hy kom, sê die HERE van die leërskare. Maar wie kan die dag van sy koms verdra? En wie kan standhou as Hy verskyn? Want Hy sal wees soos die vuur van die smelter en soos die loog van die wassers. En Hy sal sit: ‘n smelter en reiniger van silwer, en Hy sal die seuns van Levi reinig en hulle louter soos goud en soos silwer, sodat hulle aan die HERE in geregtigheid ‘n offer sal bring.” (Mal. 3:1-3).
Wanneer ek sê dat Christus my van sonde vrygemaak het, sal ek nie meer onder die juk van diensbaarheid trek om die sondige begeertes te dien nie. “en, vrygemaak van die sonde, het julle diensbaar geword aan die geregtigheid.” (Rom. 6:18). Ek kan nie voortgaan met my ongeregtigheid en myself troos dat “Jesus darem vir my sonde gesterf het en my maar telkens sal vergewe wanneer ek oortree nie”. Ek is dan mos nie waarlik vrygemaak nie? Inteendeel, so ‘n skeefgetrekte siening sal my tot ongeregtigheid aanspoor omdat ek die leuen glo dat “iemand anders” maar telkens die gevolg van my verkeerde optrede sal dra.
Christus Jesus se bloed het gevloei as ‘n offer om ons van ons sondes te reinig en nie om ons gewetes te sus sodat ons houtgerus in ongeregtigheid kan volhard nie. Die ware geloof in Jesus Christus reinig ons van sondes sodat ons met ‘n rein gewete voor God kan staan. Dit verkrag en vermoor of verlam nie ons gewete sodat ons nie meer kan skuldig voel oor sonde nie. “Deur hierdie wil is ons geheilig deur die offer van die liggaam van Jesus Christus, net een maal.” (Heb. 10:10). Die Woord leer ons selfs dat ons nie durf die kosbaarheid van die bloed van Christus wat tot ons reiniging dien, vergeet nie. “hoeveel swaarder straf, dink julle, sal hy verdien wat die Seun van God vertrap het en die bloed van die testament waardeur hy geheilig is, onrein geag het die Gees van genade gesmaad het?” (Heb. 10:29).
‘n Mens wat waarlik tot bekering en geloof in Christus kom, word met die Heilige Gees gedoop. Dit is ‘n onbeskryflik wonderlike gawe. Dit is wanneer God soveel genade aan ‘n mens bewys dat Hy self by jou kom woning maak en in jou hart intrek neem. En hierdie Gees van Christus sal nie met ongeregtigheid versoen nie. Dit is waarom daar nie vrede in die hart van ‘n gelowige is wanneer hy/sy met ongeregtigheid besig is nie, want die Gees van God stry daarteen! “want die vlees begeer teen die Gees, en die Gees teen die vlees; en hulle staan teenoor mekaar, sodat julle nie kan doen wat julle wil nie.” (Gal. 5:17).
Ons as ware gelowiges kan die ongeregtigheid in ons lewens deur hierdie Heilig Gees van God oorwin! Ons kan nie deur eie krag teen die mag van sonde weerstand bied nie, maar wanneer God se Gees in ons harte woon en heerskappy voer, sal ons met volharding ons lewens in besit kry uit die mag van sonde en satan. “Deur julle volharding moet julle jul lewe in besit kry.” (Luk. 21:19). Ons is in staat om die mag van sonde deur God se krag en Gees te weerstaan totdat die satan uiteindelik van ons wegvlug. “Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee.” (Fil. 4:13). Ons moenie vergeet dat die Gees waarmee ‘n ware gelowige gedoop word, ‘n gees van krag, liefde en selfbeheersing is wat ons al bystaan in ons stryd teen die satan nie. “Want God het ons nie ‘n gees van vreesagtigheid gegee nie, maar van krag en liefde en selfbeheersing.” (2 Tim. 1:7).