Matt. 25:1-13
“Waak dan, omdat julle die dag en die uur nie weet waarop die Seun van die mens kom nie.” (:13)
Ons lees in hierdie gedeelte van tien maagde wat gewag het op die koms van die bruidegom om hom te ontmoet. Die een helfte het die saak en die koms van die bruidegom met groter toewyding en gereedheid as die ander helfte aangepak. Hierdie toewyding en gereedheid was einde laaste hulle behoud en het vir hulle die vreugde van die bruilofsmaal ingehou terwyl die maagde met minder ywer die geleentheid misgeloop het.
Dit gaan in ons hedendaagse lewe ook nie anders nie. Daar is soveel mense, organisasies en kerke wat hulself besig hou met godsdienstigheid omdat hulle bewus is van ‘n bruidegom wat dalk een of ander tyd sy opwagting moet maak. Die vraag is egter of die nodige erns egter gemaak word om ‘n gemeente as ‘n kosbare bruid te versier vir Jesus Christus se wederkoms na die aarde? Ek wonder hoeveel lidmate en gemeentes daar is wie se vlammetjie maar effens brand in ‘n wêreld waar ‘n mens dit hot-agter kry wanneer jou geesdrif en ywer vir Hom hoog brand?
Ons moet onthou dat die vyf verstandige maagde wat die nodige erns en toewyding in hierdie saak gehad het, nie kon instaan vir die vyf onverstandige maagde wat die saak nie met die nodige erns aangepak het nie. Dit is ook ‘n kosbare les vir elkeen van ons wat betref ons persoonlike saligheid. Elke mens gaan persoonlik voor die Regterstoel van Christus verskyn en ons kan nie daar vir mekaar intree nie. Daar gaan geen dominee, pa, ma, broer of suster wees wat vir ons kan intree nie en ook geen aardse regsverteenwoordiger nie. Ons het maar een Middelaar voor God die Vader en dit is Sy Seun, Jesus Christus, ons Here. Die vraag wat egter van lewensbelang is, is of Hy u by die naam ken as Sy kind en of Hy ook aan u sal sê: “Gaan weg van My af, want ek ken jou nie.”?
Dit klink al te verskriklik dat die God van liefde iemand kan wegwys in só ‘n kardinale tyd, nie waar nie? Hy sal egter nie lukraak ‘n persoon met hierdie antwoord wegwys nie, maar slegs diegene wat gedurende hul lewe hier op aarde verkies het om Hom weg te wys uit hul harte en lewens uit. Dit is diegene wat nie die deur van hul harte vir Hom wil oopmaak nie wat aan die deur van die koninkryk wil gaan hamer wanneer dit te laat is, wat hierdie ontstellende antwoord van Hom te wagte kan wees.
Synde dat ons vanoggend tot die besef kom hoe ontsettend belangrik dit vir elke individu is om ‘n persoonlike verhouding met Jesus Christus te hê, is dit dalk tyd om in eerlikheid vas te stel hoe my verhouding met Hom regtig daaruit sien. Kom ons kyk ‘n bietjie hoe vol is my kannetjie met olie vandag ten einde vas te stel hoe gereed ek vir Sy koms is. Ek wil vanoggend die modelgebed, nl. die Onse Vader, gebruik as ‘n maatstaf om u geestelike prioriteite te toets ten einde die maat van u geloofsbrandstof te meet.
In die Onse Vader het Christus Sy dissipels geleer om te bid, maar dit bied ook vir ons ‘n riglyn hoe ons voorkeure in die lewe behoort te lyk. Elkeen moet vir hom-/haarself die volgende vrae in sy hart met eerlikheid beantwoord en dan vasstel hoe en waar u voorkeur vanoggend regtig lê. Onthou, daar waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees. (Verw. Matt. 6:21).
Ek hoop van harte dat u hierdie vrae met eerlikheid sal beantwoord in u hart. Dit is nie nodige dat u dit teenoor enige mens, u predikant of wie ookal sal antwoord nie, want dit is ‘n saak tussen u en die Here Jesus Christus alleen. Moet Hom egter nie probeer bedrieg nie, want Hy ken die diepste gedagtes van u hart en weet wat werklik daarin aangaan.
Indien u dalk vanoggend besef dat u lampie baie naby aan dolleeg is, is die goeie nuus dat daar nog tyd en geleentheid is om die voorraad betyds aan te vul! Moenie dieselfde fout maak as wat soveel mense op aarde al gemaak het nie, want indien u die Woord ken, sal u versuim nie as ‘n fout beskou word nie, maar eerder as ‘n keuse, aangesien u van beter behoort te weet.